Deur: Ds. Johan Visser
Iemand het eenkeer die volgende gesê: “Die gebou wen altyd”.
Ons weet mos goed hoe enige omgewing of spasie ’n mens óf kan aangryp óf jou ervaring miskien kan belemmer. Ons is tans in die proses om nuut en vars te dink oor die gemeente se verskillende ruimtes en hoe die inrig daarvan kan bydra tot ’n ontmoeting met God.
Neem asseblief kennis dat ons tydens die Junie-skoolvakansie met die eerste fase van kosmetiese veranderinge in die kerk se liturgiese area sal begin. Die liturgiese area verwys na die area waar die prediker en musiekgroep tydens eredienste staan. Eredienste sal egter deurentyd steeds binne die kerkgebou voortgaan.
Die teoloog Thomas Long skryf die volgende: “…(E)very church with vital worship—large or small, formal or informal—has a moment, a space when the congregation becomes aware that it is not alone but in the presence of mystery.”
Die liturgie van die erediens omvat as’t ware die ruimte. Die liturgie en per implikasie die erediens, is dus ’n ruimte van afwagting – afwagting op die Een wat verander en daarna, die afwagting op die verandering.
Die erediens is die gemeente se polsslag. Die weeklikse samekoms is van groot belang vir ons lidmate se aanpassing, groei en transformasie, gegrondves in ons geloof in Jesus Christus. Die erediens help ons ook om iets van die misterie van God en Jesus te beleef en dus om ons tot die besef te bring dat juis dit die bron van ons verandering is.
Sodoende word die erediens nie bloot ’n sosiale geleentheid waarheen ons lukraak gaan nie, maar eerder ’n ontmoeting met die lewende Here, in die teenwoordigheid van ander gelowiges. Hierdie diepe ontmoeting maak dit onmoontlik om op dieselfde ou manier te bly voortleef. Dit blaas telkens nuwe lewe in gelowiges se bestaan en maak dat gelowiges die erediens nodig het vir hul lewens in dieselfde mate waarin hulle nodig het om ’n gereelde polsslag te hê.
Dankie vir elkeen se saam bymekaarkom, saam reis, saam vier en saam aanbid.