Die verkiesing is verby . . . Wat nou?

’n Brief aan Stellenberg
Politici – ons en die waarheid

Dr. Braam Hanekom het onlangs as voorsitter van die SAFCEI-raad die inhuldiging van die president bygewoon. Hier gee hy enkele indrukke van die historiese gebeurtenis, asook van wat ons nou kan verwag.

Sonder enige twyfel was die aanloop tot vanjaar se verkiesing deurspek met hewige debat, voorspellings en ontevredenheid met die regering. Nog in geen vorige verkiesing sedert 1994 het ek dit so intens beleef nie. Die opkoms en aktiewe werksaamhede van burgerlike samelewingsorganisasies soos Defend our Democracy en Convergence4SA het dit onderstreep. Die uitslag het bevestig dat die breë samelewing keelvol was vir die bestaande politieke orde.

Daar is beslis verligting onder baie mense na die verkiesing – dat die verkiesing merendeels vry en regverdig was, dat die uitslag sonder geweld aanvaar is en dat die kabinet aangekondig is. Suid-Afrika is nog nie ’n wenland nie, maar die narratief dat ons ʼn mislukte staat is, word al minder gehoor.

Dalk weerspieël die wisselkoers van hierdie emosies die beste. Nie sleg nie, maar niemand is nog in ekstase nie. Soos oor soveel dinge in die land, sal mense se gevoel oor die RNE dramaties verskil. Sommige juig daaroor, voel of hulle ’n stukkie vars asem kan skep en weer ’n klein bietjie deel van die land is. Ander is ontstoke daaroor en voel dat die ondenkbare gebeur het, dat die huwelik met die DA die land terugplaas op ’n apartheidspad. Dit is egter wonderlik om te sien hoe die grappies reeds die rondte doen. Dit is mos nou maar ons Suid-Afrikaners. Ons kan met onsself spot.

Diegene wat bang was dat ons met hierdie verkiesing oor ’n gevaarlike ideologiese afgrond sou stort, moet darem erken dat as ’n voorspeller ʼn jaar gelede sou sê dat die DA ses ministers en ses adjunkministers in die kabinet sou hê en verder sou voorspel dat Pieter Groenewald die minister van korrektiewe dienste gaan wees, min mense hom of haar sou geglo het. Ek wonder of hy aan oudpresident Zuma mediese parool sou toestaan? Dit sê ek met ʼn glimlag.

Bloulig-verslawing en soeke na mag

Die ANC kry toe net 40% van die stemme. Die president sê by sy inhuldiging dat die volk gepraat het en dat hulle dit aanvaar. Toe ons egter ons oë uitvee, is die kabinet vergroot en sit daar 20 ANC-ministers en nog 33 adjunkministers knus in ʼn massiewe  bloulig-konvooi. Ek is nie seker of dít die volk se wil was nie. Voeg hierby die drama wat in Gauteng afgespeel het en dit is duidelik dat die ANC sukkel om die werklikheid te aanvaar dat mag gedeel moet word. Dit voel vir my of ons met ’n  bloulig-verslawingsprobleem in Suid-Afrika sit. As jy dit eers geproe het, raak jy moeilik van die versoeking ontslae. Scott Peck was reg toe hy gesê het dat die verslawing aan mag veel gevaarliker is as die verslawing aan dwelms.

Kyk gerus na die uitstekende dokumentêr The Turning Point wat tans op Netflix te sien is. Dit handel oor die bou en gooi van die kernbomme op Hirosjima en Nagasaki en die Koue Oorlog wat daarop gevolg het. Eintlik gaan die dokumentêr oor mag en die bou van koninkryke (empires). Die ongekontroleerde versugting na mag het deur die eeue heen die allergrootste ellende denkbaar veroorsaak.

Ek was bevoorreg om as lid van die SAFCEI-raad (Southern African Faith Communities Environmental Initiative) die president se inhuldiging by te woon. Dit was inderdaad ’n besonderse ervaring. Jy kon die optimisme wat in die lug hang amper tasbaar aanvoel. Reg aan die einde het iets gebeur wat vir my na ’n simboliese oomblik gevoel het. Al die regtig belangrike mense, presidente, visie-presidente, groot sakelui en mense soos Graça Machel en Elita de Klerk, is gevra om te verdaag en is toe met ’n spesiale konvooi na die president se spesiale onthaal. Al die ander gaste is met busse van die Uniegebou na markeetente vir ’n afsonderlike onthaal vervoer. Dit het egter die ministers en parlementslede ingesluit. Dis toe hier waar dinge interessant geraak het. Jy sien, ministers is gewoond aan lyfwagte en blouligte wat vir hulle die pad oopmaak en skielik was hulle ook net deel van die skare wat op busse moes kom klim, soos na ’n rugbywedstryd. Elkeen beur toe maar vir homself ’n plekkie oop.

Ek het ook plek op ’n bus gekry en toe die deure toegaan – die bus was vol – het daar ’n  minister met ’n groot swart hoed en ’n ietwat verdwaasde gesig, steeds buite gestaan. ʼn Amptenaar het gewoon vir hom gesê: “Die bus is vol. Jy sal moet wag.”

Onsekerheid

Daar is tans onsekerheid oor hoe ver en vinnig die RNE-bus gaan ry, maar ek is vas oortuig dat daar ʼn nuwe bus, op pad na ʼn nuwe Suid-Afrika, vertrek het. En ons mense is nie dom nie. As hulle nie gehoor word nie, sal hulle in die toekoms die regering nog swaarder straf. Vir sommige moes die afgelope verkiesing verlies en rou tot gevolg gehad het. Soos in enige rouproses, is daar fases. Aanvanklik ontkenning en later neerslagtigheid en selfs woede, voor daar by die uiteindelike aanvaarding gekom word. Terselfdertyd word twee dansmaats, wat tot nou toe nog eintlik net baklei het, gevra om ’n moeilike tango saam uit te voer. Daar sal op tone getrap word en selfs ’n gestruikel wees. Ons, die burgerlike samelewing, moet egter seker maak dat die musiek nie ophou speel nie. ’n Utopie gaan beslis nie onmiddellik aanbreek nie en daar gaan waarskynlik terugslae wees, maar al is die onsekerheid steeds met ons,  is ons vir die soveelste keer verras.

Vir sommige gaan dit ’n tydjie neem, maar ons almal sal moet leer om nog meer nederig en nog meer respekvol met mekaar om te gaan. Ek weet nie of ek my dit verbeel nie, maar ek ervaar reeds iets daarvan.

Verwondering oor die asemrowende diversiteit in Suid-Afrika

Ek en met my gesin het aan die ongerepte Oos-Kaapse Wildekus vakansie gehou toe ek die uitnodiging na die inhuldiging ontvang het. Dit het nogal ’n poging geverg om in Pretoria uit te kom. Die kontras tussen die Uniegebou met al die BMW’s, en die intense armoede maar tog ook onopgesmukte eenvoud van die Wildekus, het my opnuut help verstaan hoe kompleks en uiteenlopend ons uitdagings is.

Gepraat van diversiteit. Terwyl die VF+ en PAC nou saam in die kabinet verteenwoordig is, moet ek nog ’n laaste woord oor Suid-Afrika en ons ongelooflike skone diversiteit sê. Dit moet teen hierdie tyd duidelik wees dat baie lande regoor die wêreld sukkel om die werklikheid van verskeidenheid en die groeiende teenwoordigheid van “vreemdelinge” te aanvaar. Daarom ook die swaai na regs wat in vele lande ervaar word. Suid-Afrika is nog lank nie deur die drif nie, maar ten minste glo ek dat daar ’n groeiende bewussyn onder al hoe meer mense is dat ons in Suid-Afrika mekaar nodig het en mekaar nie gaan wegwens nie.

Die diversiteit van ons mense, ons flora en fauna, ons natuurskoon en nou ook die groeiende diversiteit in ons regering, maak van ons in alle opsigte ’n kleurvolle nasie met ryke skakerings en wisselende grein. Soos oral tans in die wêreld, sal jy jou lyf moet wikkel as jy die bus wil haal. Die lewe is nie maklik nie, maar die moontlikhede in ons land bly steeds ongelooflik baie.

Selfs in die ou Transkei. Een oggend kom ons op ʼn verlate strand waar daar meer beeste as vakansiegangers is. Dit is egter skoolvakansie en ek merk dadelik ’n sokkerafrigter op wat met ’n klompie skoolseuns besig is met ’n oefenkamp. Hy het hulle letterlik vir ure besig gehou met fiksheidsoefeninge, swem in die rivier en ander groepsbou-aktiwiteite. Daar is sekerlik baie dinge wat hul kortkom, maar op ’n vreemde manier het hierdie jong kinders ’n rykdom ontvang wat miljoene regoor die wêreld hulle sal beny. Mag daar êrens eendag een van hulle op van die grootste verhoë ter wêreld presteer.

Dankbaarheid en hoop

Dalk is die grootste emosie wat ek in dié dae beleef het, een van dankbaarheid en hoop. Dankbaarheid en hoop is nie goedkoop emosies nie en word soms juis in die moeilikste omstandighede gebore. Dalk is dit die wonder van Suid-Afrika, dat ons juis te midde van swaarkry en uitdagings elke keer ’n verrassende wending beleef.

Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en voorsitter van die Raad van SAFCEI.