Deur: Ds. René Potgieter
Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).
Omgee verg van ons om oë en ’n hart vir ons naaste, Moeder Aarde en diere te hê en om dan ons hande en voete vir barmhartigheid en omgee aan te wend. God is passievol daaroor om mense te help wat seer het en in nood is. Hy stuur juis ons as kerk uit om met ons gawes en materiële middele uit te reik na ander en om ’n verskil in die wêreld te maak. Om uit te reik na ander is nie iets waoroor ons net praat nie. Dit moet ’n prioriteit van ’n Christenleefstyl wees. In die maand van Augustus gaan ons stilstaan by die tema van: Omgee is om te gee . . .
Mag jy ook vandag die besluit neem dat jy sal poog om mense en diere se behoeftes te verstaan en om hulle op praktiese maniere te help. Dat jy vrygewig sal wees met jou tyd, talente en hulpbronne, met die wete dat elke daad van vriendelikheid ’n beduidende verskil kan maak in ’n mens of ’n dier se lewe. Ek word geïnspireer deur die woorde van Jesus: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers (en susters) van My gedoen het, het julle aan dit My gedoen” (Matteus 25:40). AMEN
Hoe kan ek omgee in Augustus?