Dankbaar!

’n Jongman en helpers wat ’n storm loskook
In pas met Vrouedag

Deur: Ds. Schalk van Wyk

“Hoe gaan dit?” vra jy vir iemand. Is dit dalk die vraag wat ons die meeste vra? Elke keer vra ons dit wanneer ons iemand met meer as net ʼn kopknik groet. Die res van ons groetritueel wissel: Goeiemôre! Dagsê! Naand! Haai!  – daar is ʼn hele lysie van moontlikhede. Net die een vragie bly: “Hoe gaan dit?” Dit is ʼn ritueel, dit is wat ʼn mens doen: jy groet en vra dan hoe dit gaan.

Die antwoorde wissel. Meesal is dit bloot ʼn prosaïese: “Goed, dankie”. Ander antwoorde is meer kreatief. Opmerklik baie sê: “Kan nie kla nie”. Die alliterasie van die beginletters, Kan-Nie-Kla-Nie, maak dat dit lekker sê – en so word dit ʼn gewilde antwoord.

Aan die anderkant is dit tog wel ʼn bietjie van ʼn neerdrukkende antwoord, as jy mooi daaroor nadink, nie waar nie? Die woorde suggereer dat jy graag sou wou kla, as jy maar net aan ʼn rede kon dink. Nou het jy ʼn probleem: nou kla jy maar omdat jy nie iets het om oor te kla nie – en jy wou so graag kla. Hoe erg is dít nou nie? Gelukkig is hierdie klagteloosheid nie ʼn blywende probleem nie. Binne ʼn paar minute is jy tóg aan die kla: oor die weer; oor die politiek; oor die rugby; oor die ekonomie en nog 10 of 12 ander goed. Jy het gelukkig te gou gepraat toe jy gekla het dat jy nie kan kla nie. Kla is immers die maklikste ding op aarde. Daar is nie ʼn enkele mens wat dit nie kan regkry nie, jy het nie ʼn talent of oefening daarvoor nodig nie, dit is so moeiteloos.

Dankbaarheid, aan die anderkant, maak jou moeg. Jy moet kopkrap, nadink, ʼn bietjie frons met die hand op die ken. Al het jy nie hiervoor ʼn talent nodig nie, verg dit tog oefening, ʼn daaglikse fokus, ʼn sekere soort ingesteldheid. Dit is egter die moeite werd om hieraan te werk, want dankbaarheid is goed vir jou, so meen die kenners van ons emosies. Jy moet jou dag begin met ʼn lysie van dinge waarvoor jy dankbaar is, beveel hulle aan. Ons konsentreer te veel op die dinge wat ons irriteer, ontstel, vies maak, pla, waarsku hulle. Probeer dit net vir ʼn paar dae agtereenvolgens en jy sal die verskil in jou gemoedstoestand helder kan waarneem, en selfs jou gesondheid verbeter, is hulle raad.

Die geleerdes wat die voordele van dankbaarheid so ywerig aan ons voorhou, het dit by ʼn Joodse sielkundeprofessor, Martin Seligman, geleer. Sy dogter het hom, so word dit vertel, aan die dink gesit. In 1995 wou sy by haar geleerde pa weet wat ʼn mens dan nou juis gelukkig maak. Hy het gedink, haar geantwoord, en daarna op kantoor nog gedink en weer gedink en toe met ʼn splinternuwe rigting in die sielkunde begin. Hy het dit “Positiewe Sielkunde” gedoop. Hierdie skool herinner ons daaraan dat dankbaarheid een van die grootste gunste is wat jy jouself kan bewys. Dankbare mense leef langer, is gesonder en, sou ons kon byvoeg, is ook lekkerder geselskap.

Só koppel Paulus ons vriendelikheid teenoor ander mense aan ons danksegging teenoor God:

“Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”

(Filippense 4:5-7).

Party mense maak van hierdie teks iets wat hy nie wil wees nie. Hulle gebruik hom om te sê dat jy oor alles moet dankbaar wees. Dit is verkeerd. Daar is immers goed waaroor ons nooit ooit kan dankbaar wees nie: ons kan nie dankbaar wees oor die kindertjies wat oral in die wêreld sterf van honger, oorloë en geweld nie; ons kan nie dankbaar wees oor die boosheid, korrupsie en leuens wat ons wêreld aan die keel wurg nie. Maar, te midde van al hierdie dinge, kan ons steeds met dankbaarheid voor God staan; kan ons gesprekke met mense en met God vol danksegging wees; kan ons bly wees oor al die Here se goeie dade (Psalm 103:2; 116:12).

Al die Here se goeie dade? Al sy goedheid? Al sy weldade? Alles, regtig alles? Is dit nie teveel om op te noem nie? Juis daarom verg dit dankbaarheid moeite, inspanning, energie, konsentrasie. Jy moet kyk, soek, dink en begin tel, soos die ou hallelujalied ons geleer het: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een . . .”

Die Duitse filosoof, Ernst Tugendhat, het in ʼn artikel wat in Neue Zürcher Zeitung verskyn het, met verwondering geherkou aan die gedagte dat die goeie dinge in ons lewe ons nie toekom nie; dat daar niks noodwendigs aan selfs net een van hulle is nie. Daar is nie ʼn enkele een van die goeie dinge in my lewe wat nie ook anders sou kon wees nie, mymer hy. Dit is dalk die duidelikste bewys dat daar ʼn God moet wees, meen hy. As jy begin skerp kyk, bietjie nadink oor jou lewe, is dit tog duidelik dat Iemand die toutjies trek; dat daar ʼn Hand is wat dit alles gee; dat jy ontvang het en nie verdien het nie, filosofeer hy. Tugendhat se waarneming is in ooreenstemming met wat Paulus ±2 000 jaar vantevore reeds geskryf het:

“En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?”
(1 Korinthiërs 4:7)

As jou oë hiervoor begin oopgaan, is die enigste geldige konklusie: My aarde, daar moet ʼn God wees! Immers, selfs al het ek slim en hard gewerk, het ek steeds my hardwerkendheid en my slimheid ontvang. Ek het nie my gene of my opvoeding gekies nie – dit was geskenke. Ek het dit en niks anders wat ek het, verdien nie. Ek het die moontlikhede wat die lewe my gebied het, aangegryp, ja, maar ek het die geleenthede ontvang, en die vermoë om daarop te reageer, ontvang. Is dit nie rede tot dankbaarheid nie?

In 1806 het ʼn Nederlandse digter, Rhijnvis Feith, dit al in ʼn gedig begryp. Die gedig was: “Mijn eerst gevoel zij dankbaarheid”. Elsabé Kloppers het sy gedig verwerk en dit het in ons liedboek beland as Lied 556.

Hier is die eerste strofe:

Vervul my hart met dankbaarheid
waar ek nou tot U nader;
verkwik deur u weldadigheid,
kom ek tot U, my Vader.
Hoe juig my hart ’n danklied uit vir
hierdie nuwe hede;
my eerste lied is dankbaarheid,
u lof my eerste bede,
u lof my eerste bede.

Die woorde van hierdie lied is ook ʼn geskenk om oor bly te wees. Leer dit sommer uit jou kop en sê dit dan elke oggend op. Of sing dit. Die orrelbegleiding is hier: (https://missio.org.za/songs/lied-556/). Hoe ook al, skryf dit op jou hart!

 

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].