In pas met Vrouedag

Dankbaar!
Stories van barmhartigheid

Deur: Ds. René Potgieter

In Augustusmaand vier ons Vrouedag. Die dag gedenk die nasionale optog van vroue op 9 Augustus in 1956 om beswaar te maak teen wetgewing wat swart Afrikane verplig het om ‘n pas saam met hulle te dra. Die pas (bewysboek) was ‘n spesiale dokument wat die daaglikse beweging van swart mense gedurende die apartheidsera beperk het, met die doel om wit woongebiede te beveilig.

 

Vandag word mense in ons land nie meer deur sulke wette gebind nie. Tog laat ons toe dat negatiewe dinge ons bind. Net soos die vroue van destyds die pas saam met hulle gedra het, dra ons hierdie negatiewe dinge saam met ons. Dit het my laat dink: Wat is die negatiewe gebeure of gedagtes wat ons so vasbind? Ons laat toe dat dié dinge ons lewens baie uitdagend maak. In Hebreers 12:1 lees ons die volgende: Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

 

In plaas daarvan dat ons hierdie laste agterlaat, dra ons dit saam met ons. Dit kan verskillende vorme aanneem, soos werksdruk, gesondheidsprobleme, finansiële druk, kritiek of selfs die gevoel dat ’n mens verstote of ongeliefd is. ’n Mens kan selfs die opvatting koester dat jy nie in die oë van die Here goed genoeg is nie, of dat Hy jou nie vergewe het nie.

 

Een van die redes waarom ons as vroue veral geneig is om aan probleme, of “paswette”, vas te klou, is omdat ons meen dat niemand hierdie probleme so goed soos ons self kan uitsorteer nie. Net soos die vroue van destyds – ek kan nie oorgee nie, so nou dra ek dit eerder saam met my.

 

Watter dinge maak jou deesdae bekommerd? Is daar werklik enige probleem wat die Here nie in sy eie mag en krag kan oplos nie, ongeag hoe geldig of hinderlik dit ook al mag wees? Ons glo dat God bewus is van al ons probleme en dat Hy ons deur die uitdagende tye lei. Juis ter herdenking aan die vroue se opstand teen onregverdige wette van jare gelede, staan self ook op teen daardie “paswette” wat jou so vasdruk en die vreugde uit jou lewe steel. Mag jy ’n geseënde vrouemaand beleef. Ek sluit af met hierdie besondere gedig van Anzé Bezuidenhout.

 

 

Vrou, uit Sy hand G E H E I L I G

in jou sagvat

van vrouwees is jy

gemaak uit die goudstof

van ’n Hemelblom

met teerheid direk

van God se kroon

as jou omgee

in heuningdou-druppels

oor jou wange kartel

gevuld met emosie

wat knope laat op jou tong

jou oog se kyk verdof

uit die skyn van jou binnelig

straal brose sterkte, ‘n ribbebeen

volmaak gevorm uit Sy hand

en met al jou Eva sondes

is jy steeds vrou

G E H E I L I G