Francis Marais deel haar storie:
Barmhartigheid is oral te vind – ons moet net ons oë en harte daarvoor oopmaak, daarvan kan Ivan en Francis Marais getuig.
Ek en Ivan het ten spyte van die feit dat ons albei in ons sewentigerjare is, besluit om Paulus se pelgrimstog, die Camino de Santiago (779 km) in Spanje, aan te pak.
Op dag een het ons ’n afdraaipad mis gestap. Dalk die opgewondenheid – ons weet nie, maar drie kilometer verder het ons verneem ons moes omdraai.
Ure later en baie hoog op teen die berg wat 1 500 meter hoog is, begewe my moed my. Ivan stap toe aan om te kyk wat voorlê en hulp te kry. Ek bly alleen agter en wag vir hom om terug te keer, toe ’n vreemdeling uit Amerika skielik vra of ek “okay” is. Meteens skiet trots my gemoed binne en ek antwoord: “Ja”. Ek verduidelik dat Ivan op pad terug is en binnekort daar sal wees, maar die man dring aan om by my te staan tot Ivan terug is. Ek probeer hom oortuig dat hy regtig kan voortgaan en dat dit onnodig is om sy vrou alleen te laat voortstap, maar hy het voet by stuk gehou.
Hy was beslis daardie dag vir my ’n barmhartige Samaritaan – ten spyte van sy eie moegheid en sy vrou wat alleen verder aangestap het, het hy sy tyd vir ’n vreemdeling opgeoffer.
Die Camino-pelgrimstog het ons daagliks en selfs uurliks van God se goedheid en nabyheid bewus gemaak. Elke keer as ek moed verloor en vra dat God my moet help, het ek ’n koel briesie oor my skouer gevoel – en dit was beslis nie my verbeelding nie.
So asof God vir my sê: Ek is by jou – jy is nie alleen nie.
Ons het ’n Afrikaanse Bybel saamgedra en in Hontanas, ’n piepklein dorpie, se kerkie agtergelaat. Dis die blou Bybel op die foto, derde van regs.
Ons het verkies om in die herberge te slaap waar almal dieselfde gevoel van stap en pelgrim wees, deel. Dit is ’n ervaring van ongebondenheid en vryheid. Ons het nooit kon droom dat ons in staat sal wees om so iets te doen nie, en tog was dit net ’n geval van slaap, staan op en stap. Drink dan koffie by ’n klein kafeetjie, of eet iets en stap weer verder.
Stappers deel hulle water en eetgoed en jy hoor gereeld “Are you okay”? Ons het mense van oral oor die wêreld heen ontmoet. Spanje is pragtig. Landerye vol koring, ertjies en gort staan welig. Rose rank oral langs die pad. Daar is so baie water met majestieuse bome in woude vol voëls.
Ons het telkemale verdwaald gesoek vir ons blyplek, dan uit die bloute verskyn die plek reg voor ons oë. Ons het Santiago binnegestap en die toring dopgehou en toe ons opkyk, was ons binne-in die straat waar ons moes oornag. Daar is nie iets soos toevallig nie – God was heeltyd by ons.
| Indien jy ’n storie het wat jy graag in die maand van barmhartigheid met ons wil deel, stuur dit asseblief na [email protected].