Deur: Ds. Schalk van Wyk
Die kop van die artikel het dadelik my aandag getrek. Dit was in die “opinie”-gedeelte van The New York Times: “Are We in the Middle of a Spiritual Awakening?” het die opskrif gevra. Tussen al die neerdrukkende nuus waarvan die wêreld se koerante vol is, het dit vir my gelyk na die lig wat uit ʼn batterylampie skyn tydens ʼn nagtelike Eskom-kragonderbreking. Prys die Heer, dag ek, en dink aan die liedboeklied, 478, se laaste vers wat sing oor nuwe hoop in ʼn verwarde wêreld. Ek het hoopvol aan die artikel begin lees, vol afwagting en blydskap. Ek moes van beter geweet het.
Jessica Grose, die skrywer van die artikel, is ʼn joernalis en romanskrywer in die VSA. In haar artikels vir die koerant fokus sy gewoonlik op gesinne, kulturele sake en hoe mense tans lewe. Sy het vroeër al my aandag getrek omdat sy soms ook oor geloofstendense in die VSA skryf. Deur haar bemiddeling het ek kennis geneem van die groeiende groep “nones” daar. Ons sou dit kon vertaal met die woord “nikse”. Dit is die toenemende aantal Amerikaners wat op sensusvorms of tydens meningspeilings op die vragie “Godsdiens?” antwoord, “Niks!” of “Geen!” Maar ek kon nog nooit agterkom dat sy daaroor hartseer is nie. Dalk is sy ook van die “nones”, ek weet nie. Aan die anderkant, hoekom skryf sy dan so graag oor hierdie sake – dit is tog ook nie ʼn oortuigende teken van neutraliteit, van onbelangstellendheid, van niksheid nie. Daar is iets, maar wat? – my vermoede is nou dat daardie iets ʼn soort spiritualiteit is.
Ek het al jare lank ʼn ongemaklike gevoel oor die term spiritualiteit. Dit moes my grootste waarskuwing gewees het om nie te gou opgewonde te raak oor die vlaggie waaronder haar artikel vaar nie. Laat ek egter eers sê dat ek soveel predikantsvriende het, getroue kinders van die Here, vir wie ek die grootste respek het; medegelowiges wat sonder om twee keer te dink van verskillende spiritualiteite in die kerk praat, dat ek skoon skuldig voel dat ek so ʼn weerstand teen die woord het. Jy is ʼn stem roepende in die woestyn, maan ek myself; jy is darem maar ʼn pyn in die nek wanneer dit by woorde kom, betig ek myself; jy brom ook altyd oor iets wat vir ander vanselfsprekend is, kla ek myself aan. Dit help niks nie; ek hou steeds nie van die woord nie, en jy sal my nie sommer betrap dat ek hom in ʼn positiewe sin gebruik nie. Die belangrikste rede hiervoor is dat die Seun van God ʼn mens kom word het. Hy wat aan die begin, voor Hy as mens gebore is, Gees was (want Hy is God en God is Gees) Hy het ʼn mens geword; Hy het honger geword; Hy het gesweet en vol stof geraak op die pad; Hy het bang geword in Getsemane en vol bloed aan die kruis. Hy is met sy verheerlikte, uit die graf opgewekte liggaam; met die spykerletsels in sy hande; met ʼn spieswond in die sy, hemel toe. Vir God is ons liggaam net so belangrik soos ons siel. My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek met liggaam en siel aan die Here behoort. (Heidelbergse Kategismus, Sondag 1). En ons sinvolle godsdiens, sê Paulus in Romeine 12:1, is om ons liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik.
Ek is bang dat die woordjie “spiritualiteit” of selfs ʼn gepraat oor my geestelike lewe, my omgang met die Here tot my gees of siel inperk. My geestelike (of as jy wil, spirituele lewe) is immers net ʼn gedeelte van my werklik volle lewe as kind van die Here. Ek self verkies om liewer van my verhouding met Christus te praat. Dan gaan dit oor Hom en nie oor my vrome gevoelens nie; dan noem ek sy titel, of ek praat oor Jesus, dan noem ek sy naam. Dan gaan dit nie oor ʼn vae geestelike begrip nie, maar ʼn Iemand, ʼn werklike, lewende Iemand.
Dit is juis wat Jessica Grose in haar artikel nie doen nie, sy praat nie oor Christus of noem die naam Jesus nie. Die geestelike oplewing wat sy reken raak te sien is, het niks met Christus, of die Heilige Gees te make nie. Dit het alles te make met mense wat die kerk en die Christelike geloof vaarwel toegeroep het en nou hulle geestelike dors by ander fonteintjies begin les – daar is meer en meer van hulle, bevind sy, ʼn hele herlewing van spiritualiteit. Wat Grose se eie spiritualiteit is, weet ek nie. Dit lyk egter nie of sy ʼn traantjie stort oor hierdie Christus-lose geestelike herlewing nie, terwyl mý hart seer raak by die lees daarvan. Maar, wat sy by die mense van haar wêreld waarneem, bevestig net wat Augustinus eeue gelede as gebed in sy belydenisse geskryf het: “Onrustig is ons hart, totdat dit rus vind in U”. Mense kan nikse word, of ateïste, of wat ook al onder die son, maar die onrus in hulle harte kan net deur die God wat die Vader van ons Here Jesus Christus is, stilgemaak word. Ons onrustige gees kan net deur die Heilige Gees wat van Jesus getuig, gekalmeer word.
Daarom loop ek maar katvoet vir die woord spiritualiteit. Die Encyclopaedia Britanica sê dat die term ook gereeld in ‘n nie- (of selfs anti-) godsdienstige sin gebruik word. Dit het ek geweet, maar nou het Jessica Grose wat my betref, die kersie op daardie koek gesit. Dit beteken nie dat jy, soos ek, die term heeltemal moet vermy nie. Onthou egter jou lyf as jy van jou geestelike lewe of jou spiritualiteit praat – hoe bied jy jou liggaam vir God aan as ʼn lewende offer? Onthou om die naam van Jesus, of sy titel, Christus, te noem, anders is daar geen verskil tussen jou en die groeiende groep spirituele nikse in ons wêreld nie. Onthou om die Heilige vóór die woordjie Gees te sê, anders het ons geen getuienis nie teenoor die wat dors het omdat hulle die fontein van lewende water verlaat het om vir hulle gebarste opgaarputte uit te kap, opgaarputte wat nie kan water hou nie (Jeremia 2:13).
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].