Deur: Ds. Schalk van Wyk
Hy kla by my, geïrriteerd, vieserig, sommer net misnoegd met sy medemens. Hulle is so onkreatief met hulle taal, brom hy. Iemand, verduidelik hy, gebruik ʼn treffende beeld, ʼn raakvatter van ʼn metafoor en dit is soos ʼn wors wat oopbars terwyl jy hom op die kole braai – dis net vlamme waar jy kyk. Links en regs, vanpas of onvanpas word hierdie metafoor oor en oor gepapegaai. Dit word ʼn cliché, jy wil ween daaroor.
Dit blyk dat sy buurvrou wat haar man onlangs verloor het, en nog swaar aan dié se dood verwerk, vir my vriend gesê het dat sy op ʼn “journey” is. Ongelukkig vir haar, het hy in die afgelope tyd met nog ʼn paar ander mense wat ook op ʼn “journey” is, te make gehad. Dit het sy beker laat oorloop – nie van wyn soos Dawid sʼn in Psalm 23 nie, maar van misnoeë.
Ek probeer opkom vir ons medemense: “Jy moet toegee, om te reis, is ʼn nuttige metafoor,” paai ek hom, teen my beterwete. Jy het ʼn vertrekpunt, ʼn eindpunt en ʼn ontwikkeling tussen die twee. Jou buurvrou se hart is tans stukkend oor haar man en sy is op pad na ʼn tyd wanneer haar hart weer heel sal wees, dit is tog ʼn soort reis – of as jy wil “cool” wees, ʼn “journey”. Gmf, snork hy, die woord word holrug gery en jy weet dit.
Ja, helaas, ek weet dit. Woorde, beelde, metafore verloor hulle krag as hulle oorbenut word; soos ʼn flou donkie wat voor al wat ʼn waentjie is, ingespan word. Daarom skud ek net my kop oor ʼn e-pos van Discovery Health waarin hulle net vanoggend nog vol selfvertroue beweer: “Everything you need for your 2024 health journey is right at your fingertips”. Wat de joos is ʼn “health journey”? Ek wed jou hulle het self geen benul nie, dit het net “with-it” geklink.
Tog is daar ʼn reis wat so belangrik is dat ons hom tussen die klomp stowwerige “journeys” moet uitgrawe, afstof, blinkvryf en bekyk: Dit is die pad wat God met ons loop; of vanuit ons gesigspunt, ons paadjie met God. Ons sou dit kon noem, die geloofspaadjie. Want geloof is nie soos ʼn blompot wat jy op die kaggelrak neersit nie. Hy is ook nie soos ʼn kaggelvuur wat jy net brandsteek as die lewe te koud en donker raak nie. Hy is ʼn roete wat iewers begin en wat ʼn bestemming het. So verduidelik die Hebreërbrief waar hy oor Abraham praat in Hoofstuk 11:1-9. Onder andere sê hy van Abraham:
“Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na ‘n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan.”
Sonder om te weet waarheen hy gaan!
Abraham het nie geweet nie, maar hy het geglo. Vir ons reis met God is dit die belangrikste insig. Dit is nie net ʼn reis wat ons deur die geloof aanpak nie, dit is ook ʼn reis na ʼn dieper geloof toe. Ons het hierdie insig elke dag heeldag nodig. Om ons hiermee te help vertel die Bybel vir ons uitvoerig hoe God vir Abraham op hierdie geloofsweg gelei het. Let op die woordjie “gelei” in die vorige sin. God het vir Abraham gelei, en ons gaan in die volgende klompie bydraes by Abraham leer hoe God ʼn mens lei op die pad na ʼn dieper, vaster geloof.
Voor ons saam met Abraham op God se paadjie gaan loop moet ons egter eers kortliks na Psalm 23 kyk. Hier sing Dawid ook oor God se pad met ons, en dit help ons om Abraham se verhaal hierna met groter begrip te lees.
Psalm 23:1-4 is ʼn kort maar wonderbare opsomming van God se pad met ons. Op hierdie reis, neem God die leiding:
“Hy lei my op die regte paaie
ter wille van sy Naam.”
(Psalm 23:3)
Hy lei my; Hý, omdat Hý die pad ken. Hy lei my; lei omdat ék nie die pad ken nie. Hoe hierdie leiding werk, sal ons by Abraham moet leer. Weet egter dadelik dít: saam met God is ek soos Abraham, iemand wat iewers heen op pad is sonder om te weet waar hy gaan uitkom. Ek verbeel my net soms dat ek weet. Dan is ek ʼn slim, arrogante mens wat self my pad kies en boonop elke oggend bid dat God my op mý pad moet seën.
Ek is egter wat God se pad betref, so dom soos ʼn skaap, só bely Dawid. God weet wat die regte pad is, maar ek sien deur ʼn spieël in ʼn raaisel. En wees maar bedag daarop: die oomblik dat ek dink ek weet nou, dan maak die pad ʼn draai wat ek glad nie verwag het nie.
Ek het egter . . . ʼn Herder wat weet waar ek gaan uitkom.
Jesus het mos gesê elke oggend gaan hierdie Herder na die gemeenskaplike skaapkraal en roep sy eie skape . . .
“. . . en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken.”
(Johannes 10:3b-4)
So maak herders tot vandag toe nog in die Midde-Ooste. So maak Ek, sê Jesus; só maak God, sê Dawid. “Wie My gesien het, het die Vader gesien”, sê Jesus.
Alle geloof begin by die Herder se roepstem. Dit is die Here wat ons roep om die pad saam met Hom te loop. As daar ʼn fladdering van geloof, of selfs net begeerte na geloof in jou hart is, is Hy besig om jou te roep; wil Hy met jou op pad gaan.
Op die paadjie wat God met ons loop, sal daar wonderbare sorg wees, die daaglikse brood waarom ons bid in die Ons Vader-gebed. “Groen weivelde”, noem Dawid dit, “water waar daar rusplek is”, sê hy. Hy gee my nuwe lewenskrag, bely die sanger van Israel.
Op ons lang reis saam met God en Abraham sal ons beter verstaan hoe dit alles in mekaar steek. Een ding is egter seker: hierdie Herder sorg vir sy skape. As ek op my eie paadjie tot hiertoe terugkyk, is daar groen weivelde en rustige waters sover die oog kan sien, maar daar is ook donker klowe, tye toe dit nagdonker gelyk het.
As ʼn herder in die Midde-Ooste met sy skape uit die helder sonlig deur ʼn donker skeur in die berghang moet gaan, pas die oë nie dadelik aan nie. Dan is dit regtig donker. As hierdie God, hierdie Herder, een van sy uitverkorenes – en dit is wat Abraham was, en wat ons is: uitverkorenes! – sal daar verseker donker klowe wees. Jy kom immers nooit by die dieper geloof uit as jy nie in die donker geleer het om aan God vas te klou nie. So lyk die regte pad. As dit só verskriklik donker word, weet ons nie waar ons gaan uitkom nie – soos Abraham. As God jou lei, is jy op pad iewers heen, die bestemming het iets met ʼn dieper geloof te doen. Meer as dit, wéét ons nie.
Abraham, hier kom ons!
Nota: Al die aanhalings uit die Bybel kom uit Bybelgenootskap van Suid-Afrika se 2020-vertaling.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].