Die kruis . . .

Sonder om te weet
Die Nagmaal

Deur: Ds. Johan Visser

Van die begin af is verstaan dat die kruisiging van Christus en sy plaasvervangende dood vir die sondes van die wêreld die hart van die evangelie is. Paulus sê in 1 Korintiërs dat die boodskap van die kruis wel onsin is vir dié wat verlore gaan, maar vir dié wat gered word, is dit die krag van God. Dit is vir hulle die krag van God, omdat dit nie net die herstel van hul verhouding met God bewerk nie, maar omdat dit ook ’n veranderende krag in hulle lewens word. 

Hierdie kruis-simbool is dan ook die middelpunt van ons gemeente se identiteit en embleem.  Die kruis-simbool getuig dat Jesus Christus,  ons Verlosser leef! Dit is die kruis wat ons nader na God en mekaar laat beweeg, ons roep om ‘n verskil in die wêreld te maak, voortdurend te vernuwe en ons ook uitnooi om oor grense heen uit te reik.

Om in die kruis van Christus te glo is om self ook met Christus gekruisig te word. Dit is aangrypend om daarop te let dat Christus sy kruisdood en die selfkruisiging van sy dissipels direk aan mekaar verbind het (Markus 8:31,34).

Willie Jonker skryf dat egte Christenskap nie uit die teken van die kruis op die kerkgebou, of op ’n plakkertjie wat op ’n motor geplak word, bestaan nie,  maar in die sigbaarheid van nederigheid, liefde, selfverloëning en lewensheiliging wat toon dat ’n mens werklik in die boodskap van die kruis glo.

Mag hierdie nuwe kruis-simbool binne ons liturgiese ruimte ons gereeld aan bogenoemde waarhede herinner. Met die kruis as die middelpunt van ons lewe, wat ons as gemeenskap saam bring. Die kruis-simbool is oop, wat ons uitnooi om iets van Christus se genade vir alle mense, oor grense heen, raak te sien.