’n Vetplantjie geplant in ’n kondensmelkblikkie is in 2011 as ’n projek geloods met die doel om jongmense tydens uitreike met ’n ysbreker te bemagtig. Dit was vir baie tieners moeilik om tydens die huisbesoeke ’n aanknopingspunt vir gesprekke met veral ouer mense te vind en die vetplantjies wat as geskenkies gedien het, was die perfekte ysbreker en wegtrekplek vir ’n gesprek oor die Here se sorg vir ons.
Jan Bester, organiseerder van die gemeente se kweekspan, vertel dat die Kweek-vir-die-Here-projek op dié nederige manier sy oorsprong gehad het, maar sedert 2011 het dié projek van krag tot krag gegaan. Soveel so dat die Kweek-vir-die-Here-span in 2016 vir daardie jaar se sinodesitting 800 tarentaaltjieplantjies, afkomstig van die Haworthia-familie, in blikkies gekweek het. Die sinode het ons vir die plantjies vergoed, wat ons toe weer tot die besef gebring het dat die vetplantjies ook as ’n fondsinsamelingsprojek benut kan word. Van toe af het ons maandeliks op Sondae ’n plantverkoping na eredienste aangebied en die opbrengs van die verkope ten bate van die gemeente se jaarlikse jeuguitreike aangewend.
Tydens die Covid-19-pandemie kon ons nie met die maandelikse plantverkope voortgaan nie, maar het ’n ander plan gemaak om steeds fondse in te samel en verkoop sedertdien die plante wat ons deur die loop van die jaar kweek, by die feesmark.
“Die Kweek-vir-die-Here-span het dringend die hulp van nuwe lede nodig” sê Jan. “Van ons lede het siek begin raak en ons span is uitgedun. Jy hoef geen ervaring te hê nie – net ’n liefde vir plante en plek in jou tuin om plante te stoor. Die span sal skenkings van plantbakkies baie waardeer, asook skenkings van plante wat by die feesmark verkoop kan word.”
Indien jy graag by dié opwindende projek betrokke wil raak, kontak asseblief vir Jan Bester by 073 462 4577.