Omhels verandering

Dissipelskapgroep om jou verhouding met God te verdiep
Huldeblyk | Regter Heath

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Die Here het vir Abram gesê: “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis, na die land wat Ek jou sal wys”.
(Genesis 12:1)

Abram sou weet van politiek, want politiek is oral waar daar mense is, en daar was baie mense in Haran. Dit was immers ʼn digbewoonde, groot en besige stad – ʼn belangrike handel- en kultuursentrum in antieke Mesopotamië. So ʼn groot stad het noodwendig ook sy politieke groeperings. Daar was mos maar van altyd af mense met verskillende idees oor hoe dinge moet wees. In Abram se tyd het hulle mekaar egter nog nie as links of regs ge-etiketteer nie.

Die begrippe links en regs in die politiek het millennia later eers hulle verskyning gemaak. Dit was in die tyd van die Franse Revolusie van 1789. Toe was daar raadslede in die Franse Nasionale Vergadering wat die koning en die tradisionele orde ondersteun het. Daar was ook ʼn ander groep raadslede. Hulle wou die tradisionele orde met alle geweld omverwerp. Hierdie twee groepe was nie lus om deurmekaar in die vergadersaal te sit nie. Soort soek mos soort. As twee groepe elk ʼn plek in die een saal moet verkry, moet een groep noodwendig links en die ander groep regs van die voorsitter sit. Dit het toe nou maar net so gekom dat die wat die tradisionele orde wou bewaar, aan die regterkant van die saal beland het – daar was geen simboliek aan verbonde nie, dit was bloot toevallig. Die ander groep, die mense wat verandering bepleit het, het aan die linkerkant van die saal saamgekoek. Die Franse het toe kortweg sommer van die regses en die linkses begin praat. Die res is geskiedenis. Tot vandag toe nog, dwarsoor die wêreld noem ons mense wat aan die tradisie vashou, regs; en die wat van die tradisionele orde ontslae wil raak, links.

Van linkse of regse politieke etikette het Abram nie geweet nie. Wat hy wel geweet het, is dat ʼn vreemde en totaal onbekende God hom beveel het om te emigreer. Hierdie God is nie links nie. Hy het Abram nie beveel om ʼn opstand te organiseer wat die stad se orde kon omdop nie. Die God is ook nie regs nie. Hy het Abram nie beveel om alles in sy vermoë te doen om die bestaande orde in Haran te bewaar en te beskerm nie. God het begin om Abram te verander, nie die samelewing of die politiek nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, God wil die samelewing, die politiek, die wêreld verander. Ons koninkryke moet plek maak vir die koninkryk van God. Die koninkryk van God is egter altyd soos ʼn mosterdsaadjie wat geplant word, klein, byna onbenullig in sy begin, tog groei hy stilweg, onopvallend, onkeerbaar. Die verandering in die hart van ʼn enkele mens is so ʼn mosterdsaadjie waaruit die koninkryk van God boom word. In Abram se geval was die padgee uit Haran die begin van sy eie verandering en uiteindelik van die wêreld se verandering. Dit was die mosterdsaadjie wat in die grond gedruk is. Al is onsself nog steeds op pad met God, lyk ons Christenwêreld reeds anders as die Midde-Ooste omdat Abram sy koffer uit die kas gehaal en begin pak het. God is met sy wêreld op pad na die nuwe stad, die stad wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is (Heb. 11:10). Die pad na God se stad het begin met ʼn weggaan uit die stad waarvan die Mesopotamiërs die argitekte en boumeesters was.

Elkeen van ons het sy eie soort Haran. Dalk is God al klaar met jou daaroor besig. Dalk is jou Haran ʼn politieke beleid waarvoor jy sal lewe en sal sterwe; dalk is dit ʼn droom, ʼn ambisie; dalk is dit ʼn persoon; dalk is dit ʼn diepgewortelde vrees – die moontlikhede is so groot as wat jou kop kan bedink of wat TikTok aan jou kan voorhou. Wat dit ook al is, jou Haran sal iets wees wat dreig om God se plek in jou lewe in te neem. Abram kan nie vir God én vir Haran lief hê nie (Lukas 16:13). As Abram vir God kies, moet hy weg uit sy vaderhuis. As Abram sy vaderhuis kies, kan hy die pad saam met God nie loop nie.

As jy aan Abram se God gehoorsaam wil wees; as jy met hierdie God op die geloofspad wil wees, moet jy die neigings van jou eie hart en die politiek van jou eie mense voortdurend ondersoek, bevraagteken, selfs wantrou. Jy moet elke môre opnuut vra na die wil van God. Die koninkryk van God is immers daar waar mense op aarde God se wil doen, soos wat die engele in die hemel God se wil doen. En om God se wil te kan doen, moet ons onsself noodwendig verloën (Matteüs 16:24). Om jouself te verloën beteken om vir jou eie hart en dikwels vir jou eie mense, (jou vaderhuis!) “nee!” te sê. Abram moes hier vir sy hart (die kanse dat hy sy familie ooit weer sou sien was skraal) nee sê. Op die geloofspad vorentoe sou hy die nee nie altyd regkry nie; daarby kom ons nog later, nou al kan ons net bemoedig raak met die gedagte dat hy op sy paadjie met God gegroei het tot hy dit kon regkry. Groei is verandering; goeie verandering.

Om met God op pad te wees, beteken om groei te omhels. Die Japannese se woord vir groei, is kaizen. Kai is verandering, zen beteken goed. Kaizen is dus goeie verandering, of te wel, groei. Isak Denisen (wat onder die skuilnaam Karen Blixen, die bekende boek, Out of Africa, geskryf het. Die rolprent wat van die boek gemaak is, met Meryl Streep en Robert Redford in die hoofrolle het 7 Oscars gewen) het in ander boek, getitel Seven Gothic Tales, ʼn karakter laat sê dat as jy God liefhet, jy verandering ook moet liefhê. Daardie kort sinnetjie van Denisen bevat ʼn hele biblioteek vol wysheid.

Hier is ʼn waarheid om aan te herkou: God vat ons soos ons is, maar Hy laat bly ons nie soos ons is nie. Op die geloofspad met God moet ons self verander sodat die wêreld kan verander.

Werklike verandering, egte groei gaan egter altyd gepaard met pyn en onsekerheid want jy moet voortdurend uit ʼn volgende Haran vertrek (onthou jy nog jou tienerjare?). NP van Wyk Louw se wonderbare gedig, Vroegherfs, mediteer oor die pyn van verandering. Kyk maar hoe ʼn groot rol die woordjie “word” in die gedig speel. Let ook op na ander veranderingswoorde soos verbruin, witter en val. Ek het Vroegherfs uit die hoof geleer. As jy nie daarvoor kans sien nie, memoriseer minstens die laaste ses reëls, of skryf dit neer, maar bid dit daagliks. Omhels verandering.

Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.