Eksamentyd

Die feesmark is ’n lekker kuierplek
Annibrand Senior-staptog in die Boesmankloof

Deur: Ds. Schalk van Wyk

(vir Abram, die matrieks en ons)

Ons is gemaak om te verander.

Sommige veranderings gebeur maar net. Ons voel en sien dit aan ons lyf. Geleidelik groei ons, en wanneer ons oud word, krimp ons weer ʼn bietjie. Ons hoef ons nie daarop in te stel nie, ja, dit gebeur sommer net – teen wil en dank gebeur dit.

Daar is egter verandering, groei, ontwikkeling, wat ʼn doelbewuste inset van ons vra. Daar is wel kennis, insig en vaardighede wat onopmerklik ons brein binnesypel – dit gebeur ook maar net. Maar, ʼn groot MÁÁR, en hierdie maar is die punt: die soort ontwikkeling wat ons nodig het om in ʼn komplekse wêreld te kan oorleef en te floreer, dié soort groei, verg ʼn wil en deursettingsvermoë. Hierdie ontwikkeling is so belangrik dat ʼn toets of eksamen van tyd tot tyd nodig is. ʼn Hekkies-afrigter kan die teorie van die hardloop mooi aan sy leerling verduidelik en demonstreer, maar die eksamen gaan wees wanneer die leerder hardloop. Dan eers sal Leerder en Afrigter weet of daar werklike groei was. Net soos wat die huidige matriekeksamen vir ʼn skare kinders gaan wys of daar werklik iets in hulle gegroei het sedert die dag toe hulle opgewonde op die graad 1-skoolbank gaan sit het. Sterkte vir julle – ons wens julle alles van die beste toe! Mag die eksamen van julle groei getuig.

Daar is ook eksamens wat ons geestelike groei meet. Met geestelike groei bedoel ek groei in geloof; en met geloof bedoel ek die vertroue wat ons in God het. Let mooi op: daar is ʼn geloof wat aanvaar dat daar een God is, en wat selfs bang is vir hierdie God. Van daardie soort geloof sê Jakobus in die woorde van ons 2020-vertaling, “Goed so”, maar met daardie soort geloof alleen is jy niks beter daaraan toe as wat ʼn bose gees is nie (Jakobus 2:19). Nee, werklike geestelike groei beteken eenvoudig om God meer en meer, toenemend onvoorwaardelik, te vertrou. Hierdie soort geloof, sê Paulus, is saam met die hoop en die liefde, blywend (1 Korinthiërs 13:13). Onderrig, afrigting in hierdie geloof sal tot in ewigheid voortgaan. Wanneer God by ons op die nuwe aarde gaan kom bly, gaan ons nie nodig hê om te glo dat daar ʼn lewende God is nie, ons sal dit wéét. Maar ons sal hierdie lewende God steeds moet vertrou en hierdie vertroue sal ʼn ewige leerproses wees. En jy sal nie weet of jy vorder, sonder ʼn eksamen nie.

Omdat ons skepsels is, en God die ewig onbegryplik Wese (die ou Gesang 245) is, sal ons nooit heeltemal kan verstaan hoe God dink en beplan nie. Ons sal God tot in ewigheid moet vertrou as die Een wat die beste weet. Om werklik gelukkig te wees; om te floreer in die koninkryk van God; om aan die doel waarvoor ons geskep is te beantwoord; om tot in ewigheid mense van God te wees, moet ons leer om God onvoorwaardelik te vertrou. Daarom is die lewe met God van nou af tot in ewigheid ʼn klaskamer. Hier gee ons Groot Leermeester vir ons elkeen sy of haar pasgemaakte lesse in die geloof. In hierdie klaskamer skryf ons noodwendig ook eksamen – soos Abram.

Met sy graad 1-eksamen het Abram 100% gekry. God het gesê hy moet sy vaderhuis verlaat en na die land gaan wat God aan hom sou wys, en Abram het dit reggekry (Genesis 12:4-6). ʼn Goue sterretjie op sy rapport. Maar, net vier verse verder (12:10) kom die tweede eksamen – en dis ʼn riller! Abram is pas in die beloofde land, of daar is ʼn onbeloofde hongersnood.

Wat sou deur Abram se kop gaan? Het hy met God gepraat, raad gevra, om hulp gepleit? Het hy dalk soos Jeremia vir God van verkragting beskuldig?

ʼn Verstommende teks, die een in Jeremia 20:7. Jeremia kla dat hy soos ʼn jongmeisie op God verlief geraak het, maar toe hy wat Jeremia is in ’n stadium wou nee sê, het God met groot krag net eenvoudig gedoen wat Hy lus het (vgl. Jeremia 1:4–10).

Sou ook Abram vir God verkwalik het? Of het hy stilswyend aanvaar dat hy hom vergis het, of was hy dalk so vies vir God dat hy nie met Hom wou praat nie? Die swye van die teks suggereer dat Abram geswyg het.

Al wat ons weet, is dat Abram weer sy tent op ʼn kameel laai. Jy kan hierdie God nie vertrou nie, dink hy, dus: “Totsiens beloofde land, Egipte hier kom ons!” Wat Abram in hierdie stadium nog nie kon weet nie, is dat Egipte in ʼn later stadium vir sy nageslag ʼn slawehuis sou word. Nageslag? Ja, dit is die ander ding!

God, hierdie God wat Abram in die ellende van ʼn hongersnood laat beland het, hierdie einste God, Hy het ook aan Abram die belofte van ʼn groot nageslag gemaak. Vir hierdie nageslag is Sarai nodig, maar nou is Abram bereid om haar ook op te offer. Hy glo God oor nageslag ook nie meer nie. As ons vertroue in God sneuwel, is al wat oorbly die vrees. Dus lees ons in Genesis 12:11–13:

11 Toe hulle op die punt was om Egipte binne te gaan, sê Abram vir Sarai, sy vrou: “Kyk, ek weet dat jy ‘n beeldskone vrou is. 12 En dit gaan gebeur dat, as die Egiptenare jou sien, hulle sal sê, ‘Dit is sy vrou’; en hulle sal my doodmaak en jou laat leef. 13 Sê tog jy is my suster, sodat dit met my goed kan gaan ter wille van jou, en ek aan die lewe kan bly ter wille van jou.”

God wil hê dat ons Hom vertrou, want Hy het ons lief. As ons Hom nie vertrou nie, neem die vrees oor. As ons nie meer seker is van God se sorg nie, word ons net seker van die rampe wat voorlê dan sê ons soos Abram: “En dit gaan gebeur.”

As ons God vertrou, sê ons eerder: Gaan dit gebeur? Dalk, maar selfs dan is God in beheer.

As ons God nie meer vertrou nie, gooi ons nie net God se beloftes weg nie, dan gooi ons daarmee saam ons eie vrede in die vuur. Vrede, werklike vrede, die vrede wat alle verstand te bowe gaan, kry ons net as ons al ons versoeke aan God bekend maak (Filippense 4:6), as ons ons bekommernis op Hom werp (1 Petrus 5:7). God gee vir ons om en wil nie hê dat die vrede in ons hart met vrees vervang word nie, gevolglik moet ons kort-kort eksamen skryf om te sien of ons geleer het.

Die hongersnood was ʼn eksamen vir Abraham – en hy het dit oortuigend gedop. Het jy al agtergekom dat jy eksamen skryf? Het jy al oor ʼn hekkie geval, op jou neus beland? Het dit al met jou ook gebeur dat die vrees jou beetpak? Die vrees pak jou mos net beet as jy die vertrouenseksamen dop. Het jy dalk al die een of ander tyd vertroue in God verloor? Dan sal jy Abram verstaan; dan sal jy hom nie kan veroordeel nie; dan sal jy weens die balk in jou eie oog nie splinters in die oog van hierdie ou geloofsvader kan soek nie.

Die boeiende van hierdie verhaal is nie dat Abram misluk het nie. Die boeiende is dat God hom nie verwyt nie. God is soos die hekkiesafrigter wat sy leerling optel na dié se voet vasgehaak het. God is die eksaminator wat jou toelaat om ʼn her te skryf. God tel Abram op, stof hom af, vee die bloed af en sit hom weer op sy voete. “Lessie geleer, kom ons probeer weer – daar is nog baie hekkies voor.”

Oor hoe God hom opgetel het en hoe dit met die volgende hekkies gegaan het – ’n volgende keer, meer daaroor .

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].