Liewe Stellenberg-gemeente
Wat ‘n voorreg was dit nie om my gemeentejaar in hierdie besonderse gemeente te doen nie. Dit is voorwaar ’n gemeente wat meer as ‘n gebou is – Stellenberg-gemeente is n groot familie, waar daar ‘n plekkie vir almal is.
Aan die begin van die jaar was ek redelik skrikkerig om werk toe te kom, want dit is ’n nuwe en ’n onsekere fase in enige persoon se lewe, maar ek het gou tuis gevoel. Die kantoor se “tannies” soos ek hulle genoem het, het my regtig soveel geleer en nou is hulle nie meer “tannies” nie, hulle het vriendinne geword. Vriendinne wat insette kon lewer oor die regte oorbelle vir my troue, my CV en het selfs vir my ’n kombuistee gereël. Ek sal ons gesprekke en tyd saam vir altyd koester.
Ek wil ook dankie sê aan die terreinpersoneel wat my van die begin af met soveel liefde ontvang het.
Aan die predikante wat kollegas geword het – wil ek oneindig dankie sê dat julle my genoeg vertrou het om my toe te laat om te preek en om kampe en uitreike te reël. Julle wysheid en ervaring was van groot waarde. Dankie dat julle my die geleentheid gegee het om nie net nader aan God te groei nie, maar om te groei en ontwikkel in die mens wat ek nou is.
Dan is ek ook dankbaar teenoor elke gemeentelid en ook in besonder aan die lidmate in Edelweiss wat my met ope arms ontvang het en almal wat genoeg genade en geduld betoon het om vir my ruimte te bied sodat ek foute kan maak en kon groei. Dankie vir al die Edelweissers se gebede, ek gaan ons tyd saam baie mis. My hart is seer om baai te sê. Dit was vir my die grootste voorreg om die jaar by julle te kon leer. Sonder julle sou ek nie die persoon kon wees wat ek is vandag nie.
Ek sluit af met die jeug en jong volwassenes wat ook ’n spesiale dankie verdien. Elkeen van julle is so spesiaal vir my! Moenie skroom om in die toekoms te praat oor enige probleem nie. Die leraars luister graag en indien hulle nie kan help nie, sal hulle julle verwys na iemand wat wel sal kan help.
My droom is dat ons as gemeente aanhou om te lewe asof Jesus Christus ons Verlosser lewe! Mag ons elkeen uit ons gemaksones klim en daagliks oor grense heen uitreik, om ’n verskil in hierdie pragtige wêreld te maak.
Nogmals baie dankie, Stellenberg-gemeente!