Grypers, gewers, volgers

Feesmarkuitstallers wat uitreik oor grense heen
Maak groot vir grootheid

Deur: Ds. Schalk van Wyk

“Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek.” (Genesis 13:11)

Maatskappye, so het ʼn industriële-sielkundige ʼn paar jaar gelede geskryf, stel graag grypers aan – en dít is tot hulle nadeel. Die res van sy artikel het verduidelik hoekom dit vir ʼn maatskappy sleg is om ʼn klomp grypers in hulle diens te hê. Ek kon nie nou weer die artikel opspoor nie – dit was iewers in ʼn biblioteek se vaktydskrif; dus moet ek maar in my eie woorde oorvertel soos ek dit onthou:

Jy kan mense in drie groepe indeel, het hy geskryf. Daar is die GRYPERS. Hulle is die “go-getters”. As ʼn slim bleeksiel-kollega (meer algemeen bekend as ʼn “nerd”) oor ʼn koppie koffie by die werk met ʼn briljante idee vorendag kom, sal ʼn juffrou Gryper dit dadelik as háár idee aan die baas gaan voorstel, en sy word later bevorder. Jan Gewer, ons slim bleeksiel, word oor die hoof gesien.

GEWERS is mense wat uit hulle pad sal gaan om ander te help; grypers loop maklik bo-oor hulle.

Dan is daar die VOLGERS. Hulle kan óf in gewers ontwikkel, óf in grypers ontaard. Hulle hou die toneel om hulle fyn dop. As die grypers wen, as hulle bevorder en vereer word – dan word die volgers ook grypers. As die maatskappy egter die gewers vereer en beloon, word meer en meer van die volgers ook gewers. En ʼn maatskappy waar daar baie gewers is, vaar op die lang duur beter as een vol grypers.

Die artikel se insig in grypers en gewers is ʼn lekker bril waarmee ons Genesis 13 kan lees. Voor ons hierdie bril opsit moet ons egter eers onthou dat dit nie heeltemal so maklik is om mense te klassifiseer soos wat hierdie sielkundige gedoen het nie. Die lyn tussen gewer en gryper loop nie so eenvoudig tussen my en iemand anders nie, dit loop deur my eie hart. In Volume II van The Gulag Archipelago 1918-1956 het Aleksandr Solzhenitsyn dit so beskryf:

“If only it were all so simple! If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?”

Beide Abraham en Lot het voor die versoeking te staan  gekom om te gryp of te gee. Lot was in hierdie geval die gryper, en Abram die gewer. Dit sou andersom ook kon wees, daarom moet ons mooi uitpluis hoekom dit in hierdie geval so verloop het. Ons wil immers uit Abraham se wandeling met God ʼn lessie leer wat ons op ons eie paadjie met God kan help. Ons is mos soos Abraham die hele tyd in die skool van die geloof; die skool van algehele vertroue in die goedheid en sorg van God.

Ons verteller in Genesis 13 sê dat Abram en Lot albei ryk geword het, en dat dit toe duidelik geword dat daar vredesonthalwe meer ruimte tussen hulle veetroppe (en veral die veewagters) moes kom. Een van hulle moes verhuis. Toe het die ouer Abram op sy kameel geklim, na nefie Lot se tent gery en aangebied dat Lot kon kies. Hy het vir Lot gesê:

“Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.” 10 Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die Here Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die Here, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. 11 Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek.”

Ek dink dat die 2021-vertaling van die Nederlandse Bybelgenootskap meer reg aan die Hebreeuse teks laat geskied as ons 2020-Afrikaanse vertaling, wat ek hierbo aangehaal het. Hulle vertaal dit só:

Daarom koos Lot voor zichzelf de Jordaanvallei en trok in oostelijke richting.”

Lot het gekyk, gesien dit is ʼn paradys en daarom die gebied vir homself gekies. Jy het nie ʼn brein nodig om hierdie keuse te verstaan nie. Dit is voor die hand liggend: as jy die reg het om te kies, vat jy die beste vir jouself.

Die storie het my as kind ontstel. My ma en die Sondagskoolmeneer het albei op Lot neergesien, terwyl ek die nare suspisie gehad het dat ek soos Lot sou kies. Ek was oortuig dat Abram “uitgechicken” het. Hy het geweet dat hy die Jordaangebied sou kies en dan sou skuldig voel, toe het hy die arme Lot onder die bus ingestamp. Laat Lot kies, dan is die uitkoms mos sy skuld. Ek het gewonder wat Abram sou doen as Lot gesê het: Nee, oom Abram, Oom is die oudste, Oom moet kies. Ha! Dan sou Abram die Jordaanstreek moes kies, en die skurk in die verhaal wees.

My ma en die Sondagskoolmeneer (en as ek reg onthou, ons dominee ook!) was egter verkeerd om op Lot neer te sien. Lot was nie ʼn slegte mens nie. Petrus skryf ʼn mooi getuigskrif vir Lot. Hy noem hom volgens die 2020-vertaling, “die regverdige Lot”. In ʼn minder goeie, maar meer beskrywende vertaling, die 1983-Bybel, noem Petrus Lot “ʼn eerbare man” (2 Petrus 2:7).

Was Lot van nature ʼn gryper? Dalk nie.

Was Abraham van nature ʼn gewer? Dalk nie.

Wat het dan in hierdie geval die deurslag gegee?

 Dít: “Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep.” (Genesis 13:4)

Hierdie aanroep van God se Naam, hierdie gebed tot God, kom uit ʼn hart wat geleer het om God onvoorwaardelik te vertrou. Toe die hongersnood kom, het Abram God nie aangeroep nie want hy het God nog nie genoeg vertrou nie. Hy het die beloftes van God prysgegee, maar God het hom desondanks geseën. Hy het ryker ss wat hy was toe hy gevlug het na die beloofde land teruggekeer. ʼn Mens kan hierdie God vertrou, het Abram geleer. Hy roep dus die keer vir God aan vóór hy na Lot toe gaan. En, as ʼn mens met God praat; jou bekommernisse op Hom werp; jou begeertes aan Hom bekend maak – as jy God vertrou met jou toekoms, jou lewe – dan hoef jy nie ten alle koste in die paradys langs die Jordaan te gaan woon nie. As God vir jou sorg, kan jy dit waag om ʼn gewer te wees. Dan kan jy bid, en wanneer jy na die amen jou oë oopmaak, kan jy na Lot kyk, en dan na die paradyslike Jordaanstreek, en dan weer na Lot, en sê: Kies jý! Só lyk vertroue op die geloofspad met God. Wie God vertrou, hoef nie te gryp nie. Wie God vertrou, kan gee.

Ons kan daarom gerus maar gereeld die woorde van die hele Lied 284 bid. Vers 1 lui so:

“Laat, Heer, u vrede deur my vloei . . .
waar haat is, laat ek daar u liefde bring.
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees
en krag gee deur geloof in U, o Heer.
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag.”

Só bid vertroue!

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].