’n Woord tot God

Stellenberg reik uit oor die Namibgrens
Week van inspirasie | Tuiskoms

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Elke gebed is ʼn reaksie op iets wat van buite kom. Selfs ʼn spontane gebed is ʼn reaksie op die aanraking van die Heilige Gees in ons hart. Ook dit is van buite, al gebeur dit binne-in ons. Die Heilige Gees ontstaan immers nie in ons hart nie, maar kom van buite om in ons te woon.

Gebed is dus ʼn reaksie, ʼn woordende reaksie. Dit is nie net ʼn reaksie deur middel van woorde nie, dit is ook ʼn reaksie op woorde wat tot en in ons kom. In ons, omdat selfs wat ons sien, binne ons brein in woorde omgesit word – anders kan ons dit wat ons sien, nie dink of verstaan nie. En omdat ons sonder woorde nie kan dink nie, is ons gebedsantwoord veral ʼn reaksie op woorde.

Woorde weergalm die hele tyd in ons kop. Ons lees, kyk TV en hoor die stemme van die mense om ons. As gelowiges word ons ook beïnvloed deur die teenwoordigheid van die lewende God en veral deur die Woord van God, soos wat ons graag en gelowig die Bybel noem. Daarom voer ons ook eindelose gesprekke met mekaar oor die dinge waarvan ons kennis geneem het; die dinge waarvan ons probeer sin maak. Ek het die afgelope jare al hoe meer besef dat die belangrikste gesprek oor die dinge rondom ons en die dinge binne-in ons, ʼn gesprek is met die EEN BO ONS.

Daarom wil ek vervolgens ʼn reeks gebede vir die Stellenberg-weekliks skryf. Hierdie gebede kom uit die hart. Hulle is almal antwoorde op woorde wat van buite kom; reaksies van my hart op God en die wêreld; Woorde tot God, gesprekke met God oor God en die wêreld.

Ek sal by elke gebed eers kortliks rekenskap gee van die woorde wat uit die wêreld gekom het; en die Woord wat uit die Bybel van God tot my gekom het, voordat ek my woorde tot God met u deel. Hier is die agtergrond van, en die gebed vir, hierdie week:

Woorde van die wêreld om ons:

Op 24 Januarie het die wêreld die Internasionale Dag van Onderwys gevier. Op hierdie dag is die rol van onderwys in globale ontwikkeling gevier. Hier by ons het die skole het ook reeds aan die gang gekom en die universiteite heropen eersdaags.

ʼn Woord van God tot ons:
Spreuke 1:8-9 (Die Bybel 2020-vertaling)

8 My seun, luister na die
vermaning van jou vader,
en moenie die onderrig van jou
moeder verontagsaam nie;
9 want dit is ‘n bekoorlike krans
vir jou kop,
en halssnoere vir jou nek.

ʼn Woord tot God

O, Alwyse Skepper van die hemel en aarde;
O, barmhartige Maker van mense;
Van ewigheid tot ewigheid weet U alles.

Vir u is niks verborge nie;
Vir U is niks ʼn raaisel nie;
U krap nooit kop en sukkel verward om die lewe te verstaan nie.

Maar ons, ons krap kop.
Maar ons, ons raak verward!
Wysheid en kennis setel nie van nature in ons nie!
Ons weet niks sonder dat ons dit
op die een of ander manier
met die hulp van een of ander iemand moes uitpluis nie.

Bowenal kan ons oor U nie dink of praat,
sonder dat U ons leer nie!
Ons kan selfs nie eens bid sonder dat u Gees
vir ons intree met versugtinge wat ons nie kan verwoord nie![1]

Ons is bly dat dit so is, want in hierdie totale afhanklikheid
van U en van mekaar,
vind ons ʼn wonderbare en ryke vervulling.
Dankie, Heer!

Dankie dat ons nie is soos die diere,
soos hulle wat instinktief met die wêreld omgaan nie;
Dankie vir vreugde om intelligent op die aarde te kan leef!
Dankie dat ons kan leer en groei;
dat ons kan ontwikkel en verstaan.

Dit is op hierdie manier dat ons so ʼn hoë posisie in die
skepping kan inneem!

6 U het ons net minder
as ‘n hemelse wesens gemaak;
U het ons met eer en majesteit gekroon.
7 U laat ons heers oor die werk
van u hande;
U het alles onder ons voete gestel:
8 al die kleinvee en beeste,
ja, selfs die diere van die veld,
9 die voëls van die hemel,
en die visse van die see wat verbytrek
op hulle roetes deur die oseane.[2]

Dankie vir ouers, onderwysers en dosente.
Dankie vir dominees en kategete
wat kinders en grootmense vorm vir hulle heerlike roeping op aarde.
Seën hulle, seën hulle wêreldwyd!

Seën ook die skoolkinders en studente,
seën ons katkisante en gemeentelede
wat leerlinge is in die koninkryk van die hemele[3]

En laat tog gou die dag aanbreek waarop
die aarde sal gevul word met die kennis
van die heerlikheid van die Here
soos water die see oordek.[4]

Ons loof U, Vader, Seun en Heilige Gees,
Amen

[1] Romeine 8:26

[2] Psalm 8: 6-9

[3] Matteus 13:52

[4] Habakuk 2:14

 

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.