Stellenberg reik uit oor die Namibgrens

Halftyd: ’n Nuwe groep vir manne
’n Woord tot God

Deur: Ds. René Potgieter

Stellenberg-gemeente is reeds die afgelope sowat 31 jaar by die Boesmansending in die noordooste van Namibië betrokke. Dit het begin toe ds. Willem Malherbe en sy vrou, Hildegarde, in 1991 die die jaarlikse Boemansendingkonferensie bygewoon het en vandaar het die gemeente die werksaamhede van ds. Jaco Rossouw van die Luhebu-Noord-gemeente, met Mangettiduin as basis, begin ondersteun. Alhoewel die bedieningsarea van hierdie gemeente ’n enorme 7 500 km² beslaan, is daar minder as 300 belydende lidmate in die gebied woonagtig!

Die Boesmanbevolking in hierdie bedieningsgebied bestaan uit verskillende groeperinge wat ’n verskeidenheid dialekte praat. Talle van hulle het tydens die destydse Bosoorlog vanuit die suide van Angola na Namibië uitgewyk. ’n Verdere interessantheid is dat die inwoners van Boesmanland weier om as San-mense bekend te staan omrede die woord San in sommige van hul dialekte ’n slegte betekenis het. Hul dring gevolglik daarop aan om Boesmans genoem te word.

Stellenberg ondersteun die Degnosbediening veral op finansiële gebied. Degnos is ’n sendingorganisasie wat uiters noodsaaklike werk onder die Boesman/San-mense in die noorde van Namibië doen. Hulle is ook betrokke by vroeëkinderontwikkeling as deel van die praktiese uitleef van die Evangelie. Ons weet tog dat opvoeding en onderrig armoede help bestry. Degnos ondersteun tans 17 skooltjies wat kinders tussen die ouderdom 4 en  6 jaar oud akkommodeer. Hierdie noodsaaklike onderrig berei kinders voor op die formele onderrig wat hulle later in staatskole ontvang.

Hierdie jaar wil ons gemeente ’n span vrywilligers tydens die Julieskoolvakansie na die Degnosbediening stuur om die werk van die bediening eerstehands te beleef. As gemeente wil ons  nie net ’n finansiële bydrae tot hierdie wonderlike werk maak nie, maar ons wil ook ons tyd, kennis en ons omgee vir hulle, persoonlik met hulle gaan deel.  Ons wil die mense en die bediening  beleef en met al hulle stories na die gemeente terugkeer. Ons wil prakties oor grense heen uitreik.

Natuurlik is daar ook groot finansiële uitgawes aan so ’n uitreik verbonde, waarvoor  elke vrywilliger self verantwoordelik is.  Om ons uitreikspan met van die uitgawes te ondersteun, het ons twee fondsinsamlingsgeleenthede:  Sondag 2 Februarie 2025 (worsbroodjies en hotdogs) en op 2 Maart (poeding).

Ondersteun ons asseblief op die geleenthede.  Finansiële bydraes vir die uitreik sal baie waardeer word en kan in die gemeente se rekening inbetaal word.  Gebruik asseblief Namibuitreik as verwysing.