’n Gebed vir liefde en verliefdheid

’n Gebed | Rustig by God
Die wind van verandering: Vind God in onverwagse plekke

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Woorde uit die wêreld om ons:

Ek het vir Kunsmatige Intelligensie gevra om vir my te verduidelik wat Valentynsdag dan tog beteken. Hierdie is soos die blikbrein daaroor dink:

  • Valentynsdag, wat op 14 Februarie gevier word, is ‘n dag om (veral romantiese) liefde sowel as toegeneentheid binne vriendskappe uit te druk. Dit het sy oorsprong in antieke Rome, gekoppel aan St. Valentinus, ‘n martelaar. Mense ruil kaartjies, blomme en geskenke uit en geniet dikwels romantiese etes saam.

En hier is hoe Kanadese verwerpte en ontevrede “minnaars” kan wraak neem op ʼn begeerde persoon wat “nee!” of “totsiens!” gesê het:

  • “Revenge, they say, is a dish best served cold. And for an endangered owl breeding program in Canada, it’s also a dish best served dead.
    For the price of a coffee, spurned and disgruntled lovers can revel in the satisfaction of having a dead rat named after an ex, before it is fed to a northern spotted owl.”
    (Aangehaal uit The Guardian van 12 Februarie vanjaar!)

Een van Elisabeth Eybers se mooiste gedigte is “Die eerste nag”. Hierdie gedig is ʼn gebed vir haar pasgebore kindjie wat “warm en wit” in haar wiegie lê.” Dan vra Eybers . . . “Wat sal haar moeder nou vir haar bid . . . ?” en maak dan ʼn lys van die verskillende soort nagte wat vir haar dogtertjie as volwassene voorlê. Oor een van dié toekomstige nagte, vra en bid Eybers só:

  • “Wat, in die nag van liefdeslus?
    – Dat teerheid sterker as hartstog is”.

ʼn Woord uit die hart van God tot ons:

Hooglied 8:6–7 (2020-vertaling)

“. . . want liefde is kragtig soos die dood,
hartstog meedoënloos
soos die doderyk –
die liefdesgloed

is ‘n vlammende vuur,
‘n verterende vlam*.
7 Baie water kan die liefde

nie blus nie,
riviere kan dit nie wegspoel nie.
As iemand alles in sy huis aanbied
in ruil vir liefde,
sal hy diep verag word.”

(*Nota: Die 2021-Nederlandse vertaling lui in plaas van ʼn verterende vlam, “. . . een vuurgloed van de HEER.” So ook die 1933/53 Afrikaanse vertaling: “. . . ’n vlam van die Here”. Persoonlik dink ek dat hierdie twee vertalings meer reg aan die Hebreeuse bewoording van Hooglied 8:6 laat geskied as die 2020-teks wat hierbo aangehaal is.)

ʼn Woord uit ons hart tot God

Liewe Here, sonder ʼn geliefde se lyf sou die lewe laf, soutloos wees!
Sonder die drange en die drome, sonder die trom-bors-klop,
sonder die boem en die dwa van ʼn hart wat na ʼn ander hart vra
sonder ʼn ander se lyf wat die drif in ons wakker maak –
sonder hierdie gawes sou ons alleenheid so maklik in eensaamheid verander.
Wat ʼn wonderbare God is U tog nie!

Ons verwonder ons daaroor dat U ons lyf so goed reggekry het.
U het immers self nie ʼn lyf nie, want U is Gees;
U moes alles vooraf uitdink en tot die kleinste hormoon-atoompie haarfyn beplan.
En in absolute heiligheid en reinheid het U ons geslagsdele gemaak
en die plesier wat ons daaruit kry, beplan.
Wat ʼn wonderbare God is U tog nie!

Die begeerte wat soos ʼn vuurvlam in ons begin brand wanneer ons verlief raak;
Hierdie begeerte is ú vlam in ons, soos Salomo in sy Bybelse lied dit vir ons voorsing.
U het nie net behae in hierdie vuur nie,
U steek dit boonop self aan!
Wat ʼn wonderbare God is U tog nie!

Hoor dan nou ook ons gebed vir
hulle wat tevergeefs hunker en soek na die liefde;
hulle wat nooit sterretjie-oë na hulle sien kyk nie;
hulle wie se ore nooit lawwe fluisterings in die nag hoor nie –
gee vir hulle, o Heer, gee vir hulle ook die lyfliefde,
Want U is ʼn wonderbaar barmhartige God.

Hoor tog ons gebed vir ons kinders, Heer!
Laat u Gees hulle nie net help om die liefde te vind nie,
maar ook om hierdie kragtige trein op sy spore te hou;
om die vlam van wellus ook met teerheid te laat brand.
Laat hierdie vlam hulle tog nie brand nie,
maar warm hou in die koue nagte van die lewe.
want U is ʼn wonderbaar sorgende God

O, Alwetende God,
U hoef nie soos ons koerant te lees
of nuus te kyk om te weet hoe hierdie
sterk drang wat aan lewe moet geboorte gee
vir miljoene mense tot lyding en dood lei nie.
Vergeef tog Heer, dat drange wat ons moet dien;
dat juis hulle tot ons heersers word. Red ons Heer,
en laat die ganse wêreld tot bekering kom!
Want U – Vader, Seun en Heilige Gees – U is ʼn wonderbaar genadige God!

Amen.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.