’n Gebed | Ons gesels met God oor vroue

Die krag van God se liefde – tydens Lydenstyd word ons opnuut daarvan bewus
In Lydenstyd vind ons hoop in lyding

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Woorde uit die wêreld om ons:

  • Die Wêreldbiddag vir Vroue word jaarliks op die eerste Vrydag van Maart in meer as 170 lande gevier. Vanjaar val die kollig op die vroue van die Cookeilande. Die eintlike biddag is op 7 Maart vanjaar, maar ons gemeente het die biddag op 4 Maart gehou, want die basaar val op 7 Maart.
  • Op Saterdag 8 Maart is dit Internasionale Vrouedag. Dit is ʼn dag waarop ons met waardering kennis neem van vroue se bydraes en prestasies op die sosiale, ekonomiese, kulturele en politieke terreine van die lewe.

ʼn Woord van God tot ons:

  • Die ankerteks vir vanjaar se wêreldbiddag vir vroue, is Psalm 139:14

“Ek prys U omdat ek
op ‘n ontsagwekkende,
wonderbaarlike wyse gemaak is.
Wonderbaarlik is u werke”

  • Die teks wat ons as glowige help om te weet hoe God dink oor die doelstellings van die Internasionale Vrouedag se organiseerders, is Spreuke 31:10 tot 31. Wie koning Lemuel was, weet niemand vandag meer nie, maar God het tot hom gespreek deur sy ma. Sy het vir hom ʼn prentjie van ʼn wonderbare vrou – die beliggaming van wysheid – voorgehou. Haar onderwysing begin met vers 10:

“  ʼn Knap vrou, wie sal haar vind?
Ver bo korale is haar waarde”.

Sy vertel dan verder wat so ʼn vrou alles doen, en sluit af met vers 31b:

“mag hulle haar in die stadspoorte
vir haar dade prys!”

  • Ons onthou ook Genesis 2:20–23

“So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie ‘n helper, as sy gelyke, gevind nie. Die Here God het toe die mens in ‘n diep slaap laat val, en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vleis toegemaak. Die Here God het toe die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, omgebou tot ‘n vrou, en haar na die mens gebring.  Toe sê die mens:
“Hierdie een is dié keer
been uit my eie gebeente,
vlees uit my eie vlees.
Hierdie een sal vrou genoem word,
want uit die man is sy geneem.”

ʼn Geselsie met God oor Vroue

O Heer, ons wat in die stad se poorte sit,
wil U vandag kom dank vir die genesende rol
wat vroue in ons gebroke wêreld speel.
Halleluja, Heer, halleluja –
U het vir Adam ʼn gelyke, ʼn helper. gemaak.

Oor haar het Adam dadelik ʼn gedig gemaak;
sy is soos korale het koning Lemuel geweet;
en met hom stem ons in en sing ons saam in die koor.
Ag, as die wêreld dit maar kon hoor en verstaan
dat vroue in u koninkryk hul plek volstaan.

Maar, Here, ons moet ook kla dat ons wêreld
ʼn wrede warboel van geweld is
waarin vroue voortdurend waaksaam,
wakker teen wreedheid moet wees –
weerloos voor onreg moet buig.

Ons bid veral vir die vroue in Moslemlande
wat hulle skoonheid saam met hulle gawes en wysheid
agter klere soos gordyne, moet weggesteek.
Ons bid vir dogtertjies daar wat graag wil leer,
maar ’n plek in skole ontsê word. Ag Here, help!

Maar ook hier is kerke wat
die gawes van u Gees aan vroue misken, en hulle
uit die bediening wil weer.
Ons sê dankie, o Heilige Gees, dat u Stellenberg ʼn
lig in hierdie donkerte laat wees.

Daarom is ons bly oor ons eie dominee René –
nie net vir die manier waarop sy ons lei en
geestelik voed met wysheid en insig nie,
maar ook vir die simbool wat sy is van ʼn gelyke
helper vir haar kollegas in u diens!

Nogmaals dankie, Here, dat U vroue
bedink, gemaak en gegee het om saam met
mans u beeld te wees; saam te heers oor
die aarde; saam te bid, te werk te loof;
saam te bou aan u koninkryk!

Want aan U behoort die koninkryk,
en die krag en die heerlikheid,
tot in ewgheid!

Amen

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.