Gebed: Ons gesels met Jesus oor sy lyding

Belydenisaflegging – ’n roetemerker vir jongvolwassenes

Deur: Ds. Schalk van Wyk

In hierdie Lydenstyd tot Goeie Vrydag toe, gesels ons telkens met Jesus oor een van sy kruiswoorde.

Woorde uit die wêreld om ons:

The answer is not easy
For souls are not reborn
To wear the crown of peace
You must wear the crown of thorns

If Jesus had a reason
I’m sure He would not tell
They treated Him so badly
How could He wish them well?
(Fragment uit die liriek van Sit Down Young Stranger deur Gordon Lightfoot, 1970)

Die Kanadese sanger, Gordon Lightfoot, het in 1970 Sit Down Young Stranger as proteslied teen die Vietnam-oorlog geskryf. Die liedjie vertel die verhaal van ʼn gewetensbeswaarde wat geloot is om te gaan veg, en toe liewer landuit gevlug het. Toe hy ná die oorlog terugkeer, was hy ʼn vreemdeling vir sy eie mense wat wou weet hoekom hy nie wou veg nie. Die harte van sy eie mense is nie wedergebore nie, en die teruggekeerde wat die kroon van vrede wou dra, kry ʼn doringkroon om te dra. Dit herinner hom aan Christus wat aan die kruis gebid het dat sy Vader die kruisigers moet vergewe. Die jongman, wat nou deur dierbares “gekruisig” word, verstaan nie regtig dat Christus só kon bid nie.

Woorde van die kerk aan ons

  • Lied 387:1
    O Heer, uit bloed en wonde,
    uit kruishout haat en hoon
    blyk duid’lik hoe die sonde
    die liefde ru beloon!
    U liefde bring genesing
    al is met U gespot.
    U liefde skenk vergewing,
    en wil versoen met God.

ʼn Woord van God tot ons:

  • Die ankerteks vir die week se gebed, is:

Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Toe sê Jesus:
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
(Lukas 23:33–34)

(Nota: Boeke is in die tyd van die vroeë kerk nie gedruk nie, maar met die hand oorgeskryf. Soms het ʼn skriba wat so ʼn oorskryf moes behartig, agtelosige en soms moedswillige foute gemaak. Die moedswillge aanpassings van die teks het min gebeur, maar by hierdie betrokke teks was dit wel so. Een skriba het besluit om liewer hierdie kruiswoord weg te laat. Sy foutiewe manuskrip is toe deur ʼn klomp latere skribas oor en oor gekopieer. Só is ʼn familie van manuskripte sonder hierdie kruiswoord van Jesus die wêreld ingestuur. Vir navorsers was dit egter duidelik dat hierdie kruiswoord wel oorspronklik geuiter is, en dat die manuskripte daarsonder, verkeerd is.

Hoekom is hierdie, die eerste, kruiswoord weggelaat? Dit het gebeur in die tyd toe Christene erg vervolg is. Die skriba het vermoedelik geweet dat ons navolgers van Christus moet wees, en toe besef dat Jesus se gebed te veel van óns vra. Moet ons regtig bid dat God ons martelaars, vervolgers, vyande . . . dat God hierdie nare mense moet vergewe? Miskien het hierdie skriba die implikasie van Jesus se kruiswoord beter gesnap as die van ons wat meewarig die kop skud oor sy moedswilligheid.)

  • ʼn Ander teksgedeelte wat die gebed hieronder beïnvloed het: Filippense 3:12-21.

ʼn Gesprek met Christus oor sy gesprek met die Vader

O Christus, van die doringkroon,
O lydende Here, gekruisigde Koning,
ons harte krimp ineen as ons ons in u vel probeer indink.
Hoe verskrilik moes dit wees om so aan spykers
wat deur u hande gekap is, te hang!
Het die wonde gebrand soos vuur toe
soldate die kruis met U daaraan, ophys?

En boonop was U poedelkaal. Ag, die vernedering daarvan!
Soms kry ons ʼn nagmerrie waarin ons ook kaal voor mense staan –
was dit vir U ook ʼn nagmerrie, maar een in wrede wakkerheid?  Dit moes tog wees!
Ekskuus dat ons so uitvra, Here, want U het dalk nie lus om
daaroor te praat nie. Die Bybel maak immers daar
geen bohaai oor nie; vertel ons nie hoe U gevoel het nie –
dít is soos die Vader, en die Heilige Gees en
U self dit wil hê, hierdie swye. Ons respekteer dit,
maar verwonder ons tog daaroor. U weet immers hoe graag
ons praat oor hoe ons gevoel het, of hoe seer ons geval
of onsself teen iets gestamp het.
Maar U, U het nie gepraat oor u lyding of die belewing daarvan nie.
Al wat U gedoen het, was om te bid vir u martelaars.

O Here Jesus, dit maak ons bly en bang.
Bly oor die vergifnis, want dit is óns sonde wat u daardie lyding veroorsaak het.
Al het ons nie die hamer en die spykers in ons eie hand gehad nie,
sou die hamer en die spykers nie daar wees sonder ons skuld, ons sonde, nie.
Ons het by wyse van spreke die spykers en die hamer vir die soldate aangegee.
Ons is medepligtig aan u kruisiging, en saam met die soldate medebegunstig deur u vergifnisgebed. Dankie tog!

Dit maak ons bang ook, want nou moet ons soos U word.
Liewe Here, ons sukkel verskriklik om te vergewe! En die vergifnis
is byna nooit nodig oor ʼn spyker wat deur ons hand gegaan het nie,
dis meesal oor ʼn woord wat soos ʼn doring in ons ego gesteek het.
Om te vergewe is vir ons soos om ʼn kroon te dra van die dorings
waarmee ander ons teister. Help ons om te verstaan hoe daardie
doringkroon, ʼn helder, blink, goue vredeskroon in u koninkryk kan word.

Ai, Here, om soos U te wees, is bo ons vuurmaaklplek, maar ons jaag daarna
asof ons dit kan gryp,
want
aan U behoort die koninkryk en
die krag en
die heerlikheid,
tot in ewigheid!

Amen

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.