Ons het op Sondag 16 Maart tydens die familiediens van ons geliefde en sprankelende familiediens-musiekleier afskeid geneem. Riëtte Breytenbach het die afgelope 20 jaar as musiekleier van die familiediens elke Sondagoggend agter die klawers ingeskuif.
Riëtte vertel dat toe sy in 2005 by die musiekbediening betrokke geraak het, was haar kinders, Lara en Tertius, maar onderskeidelik vyf en drie jaar oud. Dié twee spruite wat daardie jare in die saal, of op die terrein rondgespeel het tydens die musiekgroep se oefensessies, is nou altwee jong werkendes en Lara is, soos haar ma, self ook ’n predikantsvrou. Marius en Riëtte is vanweë ’n kanselruiling tussen drie gemeentes van Kleinmondgemeente na Stellenberg-gemeente verplaas. In daardie stadium is hulp by die familiediens se musiekgroep benodig. “Musiek was nog altyd my passie en ek het toe my hulp aangebied,” sê Riëtte.
“Vroeër jare was kinders ook as sangers of instrumentaliste betrokke by die familiediens se begeleidingspan. Ons het ook gereeld op Sondae slaginstrumente gehad waarop voornemende musikante tydens die erediens kon musiek maak, veral terwyl ons kinderliedjies gesing het. Dit was woelige, maar lekker tye. Die familiediens was nog altyd ’n groot bron van genot met so ’n paar onvoorspelbare insidente wat tussendeur plaasvind. Ons het al baie Sondae lekker gelag – gewoonlik wanneer ’n prediker ’n boodskap prakties probeer uitbeeld. Die demonstrasies kon maklik skeefloop en dan moes nuwe planne bedink word.”
Oor hoekom Riëtte na soveel jare die tuig neerlê, verduidelik sy dat sy al op 17-jarige ouderdom as begeleier in haar destydse tuisdorp, Nababeep daarmee begin het. Na skool het sy musiek, met klavier as eerste en orrel as tweede instrument, aan die Universiteit Stellenbosch studeer en was deurlopend as begeleier in gemeentes betrokke. Na universiteit het sy tydens ’n “Diensjaar vir Christus” die begeleiding by ’n koffiekroeg behartig en natuurlik het sy by haar en Marius se eerste gemeente, in Kleinmond, ook as begeleier opgetree. “Begeleiding is vir my soos asemhaling; dus was dit vir my ’n groot besluit om die tuig neer te lê,” sê Riëtte, “maar die seisoen wat ek nou in my lewe beleef, vra weer vir ’n verandering in my ritme, roetine en leefstyl.”
As musiekonderwyseres verbonde aan die Laerskool Welgemoed is Riëtte allermins klaar met die wêreld van musiek, want by die skool is sy steeds verantwoordelik daarvoor om jong musikante te begelei en te ontwikkel. Oor die waarde van musiek in kinders se lewens voel Riëtte baie entoesiasties. “Wanneer ’n mens Dokter Google inspan, sal jy oor die ongelooflike waarde van musiek in mense se lewens lees, maar as ek dit kan opsom, is dit eenvoudig ’n medium wat op kognitiewe, emosionele en kreatiewe vlak ’n baie groot rol in ’n kind se lewe speel. Musiek is ’n platform soos geen ander nie en in ’n wêreld wat deur tegnologie gedomineer word, laat musiek kinders toe om die geestelike en emosionele met mekaar te verbind en dit speel ’n groot rol in hulle ontwikkeling – hulle voel en ervaar deur musiek.”
Bo en behalwe haar liefde vir musiek is Riëtte ook ’n ywerige stapper en geniet dit om langs die see te gaan stap. Sy het die afgelope twee jaar ook haarself begin uitdaag om gereeld in Clifton se ysige water te swem, omtrent ’n grensverskuiwende vorm van oefening.
“Die ritme van Sondagoggende gaan nog lank in my sisteem wees,” sê Riëtte. “Ek gaan die saam lag met die lede van die musiekgroep en die deel van mekaar se lief en leed, baie mis. As ek oor die afgelope 20 jaar nadink, is dit beslis die mense wat my pad gekruis het, wat my sal bybly. Ek het wonderlike en inspirerende mense ontmoet – mense met ’n opregte en aansteeklike liefde vir die Here en musiek, wat te midde van vol programme en besige lewens tyd gemaak het om by die kerk betrokke te wees. Ons het mekaar se kinders sien grootword en was deel van mekaar se stories en lewens. Ek het ook ’n sagte plek vir die klankmanne van die afgelope paar jaar wat almal as skoliere begin diens doen het en hul werk met trots en deeglikheid uitgevoer het.
“Ek groet, maar ek is steeds deel van die gemeente – dit is net my rol wat verander.”