Deur: Ds. Schalk van Wyk
37 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie.” (Matteus 23:37)
Die wêreld het laas Sondag Moedersdag gevier. Dit is nou verby, maar so maklik kry ʼn mens nie met moeders klaar nie. Daar is meer te sê as wat ons toe kwytgeraak het. Ek wou in elk geval nie verlede week die aandag aftrek van die mens-mammas nie. Ek wou hê dat hulle die volle aandag op hulle dag kry. Vandeesweek wil ek jou egter nooi om die moederlikheid van God raak te sien. Hier onder is ʼn kort (onvolledige) lysie:
Mense wat die wêreld dáár ken, die wêreld waarin Jesus grootgeword en geleef het, vertel vir ons ‘n wonderbare waarheid oor hierdie beeld van die hen met haar kuikens.
Ons weet dat ʼn hoenderhen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak as daar gevaar dreig. Een van die algemeenste gevare in Jesus se wêreld, was veldbrande. Dan sou ‘n hen haar kuikens naderkloek en onder haar vlerke bedek. So het sy dan bo-op hulle doodgebrand, maar hulle is gered. Die hen wat haar kuikens naderroep, sterf in hulle plek.
Jesus wou vir Israel so ʼn hen wees, maar hulle wou nie. Hy wou hulle beskerm teen die brand wat sou kom as gevolg van die opstand wat hulle besig was om teen Rome op te stook. In hulle blinde selfvertroue het hulle nie geweet dat dit op ʼn ramp sou afstuur en dat God in elk geval van plan was om Rome om te keer vir ʼn eeue der eeue groot rol in God se koninkryk nie. God se Gees sou dit bereik, nie húlle swaarde en spiese nie. En so het hulle, onbeskerm deur die Moederhen van God, die verbranding van die tempel en ʼn bloedbad oor hulleself gehaal, kwalik 37 jaar na Jesus hulle tevergeefs onder sy vlerke wou innooi.
Maar kom ons los eers vir Israel, en keer terug na die hen en haar kuikens. Ons is so gewoond om net op die Vaderlikheid van God te fokus, dat ons blind raak vir die Moederlikheid van God. God is immers nie ʼn man nie. God het geen geslagsdele nie – God is mos Gees en Adam en Eva saam (nie afsonderlik nie) is gemaak na die beeld van God. ʼn Man alleen is nie die beeld van God nie en ʼn vrou alleen is nie die beeld van God nie. Vader is ʼn halwe beeld van God, en Moeder is die ander halwe beeld van God.
Dit bring ons terug by “Hoenderhen-Jesus” – terwyl die haantjies loop en pronk op die werf, maak sy haar kuikens onder haar vlerke bymekaar.
Lied 184:2–3
2
Lofsing die Here
wat kunstig u liggaam berei het,
Hy is die sterke
wat altyd nog by u gebly het;
wat in gevaar,
hoe groot, hoe dreigend, hoe swaar,
oor u sy vleuels gesprei het!
3
Lofsing die Here,
dis Hy wat u kroon met sy seën!
Hy skenk die lewe,
die wasdom, die sonlig, die reën!
O sterfling, weet:
Hy wat Almagtige heet,
het ons in liefde bejeën.
O, Nederige Jesus! In ons wêreld is “chicken!” ʼn spotwoord wat ons liewer nie op onsself van toepassing wil maak nie. Maar U het nie gehuiwer om ʼn hoenderhen as beeld van Uself op te roep nie. Hoe gesteld is ons tog op eie waarde – U wat eens voete gewas het; wat opstandige kuikens wou naderkloek, is nie.
Here, ons het Moedersdag gevier sonder om te kliek dat ʼn ma in haar ma-wees ook beeld van U is. Ons het ewe macho en patriargaal, u moederlikheid misgekyk. Ons wat op u mag konsentreer en die sag van u hart negeer. Help ons om U op ʼn besondere wyse in die mammas onder ons te herken.
O, Moederhen, ons bely verleë dat ons meesal kontrêrder as kuikens is. Ons wil die brande in ons lewe uit eie krag blus sonder om te skuil onder die Vleuels waar ons veilig is. Kuikens vlug instinktief onder mammahen se vlerke in, maar ons, óns vlug dikwels instinktief van U af weg. Ons val maklik ten prooi van ons ou natuur en word dan soos die mense van wie u apostel, Paulus, in sy brief aan Titus, geskryf het dat hulle haatlik is en mekaar haat.
Here, wanneer ons na die kruis kyk, sien ons die waarheid van u bloed wat vir ons sonde betaal is; sien ons u dood wat vir ons lewe koop; sien ons u oorwinning oor die duiwel en al sy magte. Maar, Here, help ons skerper sien, help ons veral die liefde sien, die oneindige liefde van u kruis snap. Vul ons hart met die wéét van hierdie groot moederliefde.
Daarom kom ons, ons wat Moedersdag gevier het, om dankie sê dat U ook vir ons ʼn Ma is; ‘n Ma by wie ons kan skuil; ʼn Ma wat ons teen haar bors hou; ‘n Ma wat ons met haar sagtheid koester; ‘n Ma wat ons onder haar vleuels beskerm.
En, Here, ons kom vra ook, verander tog deur u Gees dié van ons wat mans is, sodat ons minder behep sal wees met forse manlikheid en (sonder om dit verloor) meer sal streef na moederlike sagtheid teenoor die weerloses om ons heen. Laat ons, o dierbare Jesus, ook vir mekaar moederhenne word!
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.