Deur: Ds. René Potgieter
Die Engelse teoloog en Bybelvertaler JB Phillips het ’n boekie geskryf met die veelseggende titel: Your God is too small. Dis ’n stelling wat ’n mens laat skeef opkyk. Te klein? Dit is tog nie waar nie! God is dan die Almagtige! Ons bely dit elke Sondag: “Ons glo in God die Vader, die Almagtige . . .” In ons belydenis en gedagtes is Hy die groot God wat alles kan vermag, wat alles weet en alles sien, selfs tot in die diepste geheimenisse van ons hart – ons weet dit tog almal. God is so groot dat ons verstand hopeloos te klein is om Hom te begryp.
In die voorwoord by sy boek verduidelik JB Phillips hoekom hy dié vreemde titel gekies het. Hy sê dat baie mense vandag sonder God lewe, nie omdat hulle so buitengewoon boos, selfsugtig, of goddeloos is nie, maar bloot net omdat hulle nog nooit ’n God kon ontmoet wat groot genoeg is om op te weeg teen die probleme en die eise van die lewe nie. Hulle geloof in God het opgedroog omrede die eise van die wêreld net eenvoudig te groot is en hulle in hulle harte wonder waar God is. Waarom gryp Hy nie in nie? Miskien is Hy te klein om te help.
Ons wat wel glo en met God saamleef, sal dadelik sê dis nie waar van ons nie. En tog . . . wanneer ons mooi daaroor nadink, moet ons erken dat ons as Christene ook tot hierdie ongeloof skuldig is. Want dit lyk soms vir buitestanders asof die God tot wie ons Sondae bid en ons lofliedere sing, net in die kerk is. As ons eers by die kerkdeure uitgestap het, is ons net so beangs, benoud en verward soos die ongelowiges. Ons God is so klein dat Hy in ’n kerkgebou toegesluit kan word, tot volgende Sondag.
Geloof is, ‘n integrale deel van elke mens se lewe. Elke mens glo in iets of iemand. Geloof lei ons deur die lewe en bepaal die rigting waarin ons gaan. Daarom is dit nodig dat ons gereeld sal stilstaan by die onderwerp van ons geloof en daaroor nadink.
Tydens Pinkster 2025 gaan ons stilstaan by die tema: Kom sit dat ons oor geloof kan praat. Ons gaan verskeie vroue in die Bybel besoek en hoor hoe hulle geloof vir hulle rigting gegee het in ‘n tyd van onsekerheid en chaos. Hulle is almal vroue wat ook soms geworstel het met hulle geloof en getwyfel het in God se almag.
Ek wil tydens Pinkster nie vir jou ’n skildery voorhou en sê kyk na die vrou en kyk wat het sy gedoen en wat het sy bereik nie. Ek wil nie vir jou wys hoe sterk haar geloof was nie. Ek wil nie vir jou standaarde stel waaraan jy moet voldoen nie – net nóg iets waaraan jy moet voldoen om eendag in die hemel te kom. Nee, deur hierdie vroue se verhale wil ek vir jou iets laat hoor en beleef van wat geloof werklik kan wees. Ons drink koffie saam met elke vrou, om sodoende ook weer na te dink oor ons eie geloof. Of dalk ons gebrek aan geloof.
Ek het die volgende gepaste stukkie onlangs gelees: “‘Geloof is om te kies om te glo dat die Woord van God waar is, ongeag ons gevoelens, omstandighede of die norme van die samelewing.’ Ongeag die twyfel wat ons soms mag voel, ongeag die moeilike en uitdagende situasies wat ons in die gesig staar, ongeag wat die wêreld om ons sê waar is, geloof is om te kies om te glo dat God se Woord waar is. Maak nie saak wat nie.”
Geloof is om te kies om te glo dat God se Woord waar is, maak nie saak wat nie.
Kom ons sit en praat tydens Pinkster oor ons geloof.