Hande in diens van die Here

Stellenberg Bybelskool: Wat is die kerk se storie?
Preekreeks: Derde kwartaal

Die gemeente se breigroep het oudergewoonte die afgelope jaar serpe, musse, truitjies,  beertjies en selfs ’n paar poppe gebrei, wat deur uitreikspanne tydens die Junie-skoolvakansie aan minderbevoorregte kinders en bejaardes in die Karoo geskenk sal word.

Die breigroep van 20 lede word deur Ria McMicken gekoördineer en groeplede verwys na haar as die gom wat almal en alles bymekaarhou.  Die groep spog ook met een manlike lid, Pieter Pienaar. Hy brei musse op ’n ronde breiraam en voorsien eiehandig bykans die helfte van die totale hoeveelheid musse wat aan die uitreikspanne oorhandig word. Sy vrou, Anchen, vertel dat Pieter dit geniet om met verskillende kleurkombinasies te eksperimenteer wanneer hy die musse brei.

Groeplede het op Maandag 9 Junie die voorraad wat hulle oor die jaar heen opgebou het, aan die uitreikspanne oorhandig.  Dit was altesaam 960 serpe, 988 musse, 16 komberse, 28 truitjies en 44 beertjies.

Ds. Marius Schoombie het vertel hoe opgewonde die Karookinders altyd is om ’n lekker warm kledingstuk te ontvang.  ’n Mens kan jou net voorstel hoe welkom ’n warm serp of mus, of nog beter, ’n  kniekombersie op ’n ysige Karoo-oggend sal wees.

In ’n moderne samelewing waar alles vinnig vervaardig word en mense meestal net op hulle eie behoeftes ingestel is, is dit ’n besondere belewenis om die diensbaarheid van ons breigroeplede eerstehands te beleef.  Elke artikel wat met soveel toewyding gemaak word, getuig van ’n opregte liefde vir hul naaste, vrygewigheid, diensbaarheid en omgee.

Die breigroep, waarvan talle lede al tagtig jaar en ouer is, is vir elke lidmaat en gelowige ’n voorbeeld dat ouderdom niemand hoef te stuit om oor grense heen ’n verskil te maak nie.  Ondersteun asseblief die groeplede se goeie werk met wolskenkings of kontantbydraes, waarmee hulle wol kan aankoop. Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word.  Finansiële bydraes kan elektronies oorbetaal word na ABSA-tjekrekening 145 058 0011,   takkode 632005.  Gebruik asseblief BREIGROEP as verwysing.