Preekreeks: Derde kwartaal

Hande in diens van die Here
’n Gebed vir wêreldleiers

Tema: So ook op die aarde

Ter inleiding:

In dié huidige tyd en omstandighede waarin ons land, asook die res van die wêreld hul bevind, beleef ons almal onsekerheid asook  die vernietigende krag van verdeeldheid en ongelykheid. Ons is pynlik bewus daarvan dat die meerderheid mense in ons land na ’n goeie, mooi en veilige bestaan en toekoms smag. Een van die vele aangeleenthede wat ons as landsburgers almal in gemeen het, is dat ons bekommerd is oor die tekort aan werksgeleenthede, die realiteit betreffende voedselsekerheid, geweldsmisdaad en ekonomiese groei.  Ook weet ons dat alle ouers en versorgers in ons land besorg is oor kinders se onderrig en toekoms.

Ons is egter dankbaar dat daar verskeie ruimtes bestaan waar mense van verskillende agtergronde en oortuigings die diverse dele van die liggaam van Christus weerspieël – van op die sportveld tot in die raadsaal. Ons sien ook ’n hoopvolle land wie se mense nie terugdeins voor ’n uitdaging nie.  In Stellenberg-gemeente fokus ons daarom tydens die derde kwartaal op ons gemeentewaarde “om ’n verskil in die wêreld te maak” en word ons as gelowiges opnuut bewus gemaak van ons roeping in die wêreld rakende diensbaarheid en barmhartigheid.

In krisistye roep die Here gelowiges om leiding te gee, kalmte te help bring en te probeer onderskei tussen gegronde en ongegronde vrese.  Daar is dus ook nou ’n geleentheid vir God se mense om hulle persoonlike en gesamentlike roeping te herbevestig en met oortuiging uit te leef. Ons dink saam na oor hierdie roeping, met die wete dit het te make met genesing, liefde,  saamloop  en  om  te  doen  wat  reg en regverdig is  teenoor  alle  mense.  Die globale krisis laat ons egter ook opnuut besef wat ons in Suid-Afrika het – in die land, sy mense, ons veerkragtigheid en die geleenthede.  Ons is dankbaar daarvoor dat ons geroepe is om volgelinge van Jesus te wees, hiér aan die suidpunt van Afrika.

Programreeks:

Sondag 20 Julie: Geseënd is die vredemakers | Matteus 5:9 en Johannes 4:1-26
Sondag 27 Julie: Een in Christus | Psalm 122
Sondag 3 Augustus:  Nie slagoffers nie | 2 Korintiërs 4
Sondag 10 Augustus: Gekant teen onreg, maar deernis met mekaar | Nehemia 5:1-19  

Sondag 17 Augustus: Neem mekaar se hande |  1 Korintiërs 12:12-31
Sondag 24 Augustus: Hoop bo vrees | 2 Samuel 9:1-13
Sondag 31 Augustus: Saam in tye van swaarkry | Lukas 10:25-37