Low Bothma deel die volgende:
’n Groep van 18 Stellenbergers (oud en jonk) het Namibië van 26 Junie – 8 Julie besoek. Ons bedoeling was om ons te vergewis van die huidige stand van Degnos (Diens en Getuienis Noord-Oostelike Streek) se bediening onder die Boesmans.
Ons het ag habitatte (nedersettings) in die Wildevy-, Luhebu-Noord- en Tsumkwe-gemeentes besoek, waartydens kerkdienste bygewoon is en/of spanlede geestelike boodskappe gebring het. Tolke het, afhangend van die spreker, die boodskappe in die plaaslike dialek óf in Afrikaans oorgedra. Baie van die volwassenes en kinders (met skoolvakansie) was egter tydens ons besoek in die veld om duiwelsklou te oes.
Daar was ook pragtige koorsang deur die Boesmans – van ’n koor bestaande uit net vier lede met verstommende harmonisering tot ’n gesofistikeerde koor wat preke toonset en dan as koorstuk sing! Tans word planne beraam vir die instelling van ’n jaarlikse koorkompetisie vir volwassenes. Die plan is om ’n jaar later met ’n soortgelyke kompetisie vir Boesmanjeugkore te begin.
Die Stellenbergspan het by elke geleentheid klere en sporttoerusting aan die betrokke predikant/gemeenteleier oorhandig om dit later onder gemeentelede te versprei. Dankie vir al die skenkings wat ons van lidmate ontvang het. Die spanlede het per geleentheid ook sokker en volleyball saam met die jonger Boesmans gespeel – tot groot plesier van almal!
Ek deel graag my waarnemings:
Geestelike groei en uitlewing
Vir die een of twee spanlede wat al voorheen in Boesmanland was, was die geestelike groei onder die Boesmans opvallend. Hul toewyding, eenvoud en opregtheid van geloof het die span diep geraak.
Dit was ook opmerklik dat die Boesmans se geloof ’n lewende werklikheid is en ’n onlosmaaklike deel van hul lewenswandel vorm voorwaar ’n voorbeeld vir baie Christene in die moderne samelewing. Dit is ’n duidelike bewys dat die verinheemsing van die uitdra van die evangelie van Jesus Christus onder die Boesmans, besig is om vrugte af te werp. Aan God al die eer!
Jeugbediening en –kampe
’n Aspek wat die Stellenbergspan tot groot opgewondenheid gestem het, was die jeugbediening waarmee die Boesmanpredikante sowat ’n jaar gelede begin het. In die geval van die groter habitatte word hul deur ’n jeugwerker bygestaan. Die resultate is verstommend. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die sowat 200 jongmense wat elke Sondagoggend en -aand saam met volwassenes die kerkdiens op Mangettiduin volpak.
Ds. René Potgieter aan die woord:
Ek was bevoorreg om saam met ’n groep Stellenbergers die Boesmans in Mangettiduin te besoek. Hierdie streek, wat deur die Degnosbediening bedien word, lê regs van die Etoshapan en strek tot in die Caprivistrook. Jare al word daar geestelike werk onder die Boesmans gedoen. Ek het in dié tyd ook agtergekom dat die mense daar verkies om as Boesmans aangespreek te word, eerder as Khoi. Die paar dae by die Boesmans was voorwaar ’n besondere belewenis en ek deel graag met jou ‘n paar gedagtes oor ons ervaringe.
STORIES OM DIE EVANGELIE TE VERSPREI: Die manier hoe die evangelie aan die Boesmans oorgedra word, is d.m.v. stories. Hulle het die mooiste stories wat kosbare lewenslesse bevat en deurgetrek word na waarhede in die Bybel. Eenvoudige stories van diere in die natuur wat hulle goed ken, word verbind aan ’n lewensles wat hulle dan in hulle eie lewens kan toepas. Dit is dan ook eenvoudig genoeg dat die kinders dit kan verstaan. Dit is interessant om te weet dat Jesus ook mense deur stories met geestelike waarhede geleer het.
LEWE IN EENVOUD: Ons het elke dag van die verskillende habitatte, waar die Boesmans woon, besoek. ’n Habitat is soos ’n klein nedersetting waar wisselende getalle Boesmans bly. Sommige Boesmans bly nog baie tradisioneel in hutte wat hulle van gras en klei bou, terwyl ander in huisies woon wat hulle van klei en klip bou. Hulle leef baie eenvoudig – kos word in die veld versamel. Tydens droogtes is daar dus nie veel om te eet nie en water is ook ’n skaars luuksheid. ’n Onmiskenbare kenmerk van hulle lewenstyl is eenvoud. Hulle kom met min oor die weg en maak ’n plan om te oorleef. Hierdie waardes en lewe van eenvoud word ook van die een geslag na die volgende oorgedra.
Terwyl ek daar tussen die Boesmans geloop het en hulle leefwêreld beleef het, het ek besef hoe hulle leefstyl van myne verskil. Hulle is gewoond daaraan om sonder elektrisiteit, lopende water, gasstowe, internet en selfone te leef. Dit het my laat nadink oor die dinge waaraan ek werklik waarde heg. Is dit al die luukshede wat die lewe so gemaklik en gerieflik maak, of is daar iets anders?
LEWE NABY DIE NATUUR: In sommige habitatte waar ons gekom het, was dit baie duidelik dat die Boesmans vir oorlewing uiters afhanlik is van die natuur. Hulle vind hulle kos in die natuur. Vrugte, knolle en wortels word daagliks gesoek om te eet. Ook gebruik hulle die plante in die natuur om medisyne van te maak. Dit het my weereens laat besef hoe kosbaar dit moet wees om so in harmonie met die skepping te leef. Dit moet sekerlik wees soos Adam en Eva in die tuin van Eden geleef het.
HULLE LEWE NABY GOD: Iets wat my opgeval het as ons so by die habitatte vertoef het, was die geestelike liedjies wat die Boesmans gesing het. Hulle ken die Here. Ons het nie gegaan om vir hulle van die Here te vertel nie. Diegene wat danksy die degnosprogram al jare lank sendingwerk onder die Boesmans doen, ken die Boesmans die Here en leef hulle in ’n verhouding met Hom. As jy vir hulle vra: “Waar is Jesus?” sal hulle Antwoord: “In die hemel en in jou hart.”
Die Boesmans glo soos kinders – eenvoudig. God is verhewe, maar ook in ons harte en God sal sorg. Daar is nie dogmas en allerhande kerkpolitiek wat hulle van stryk bring nie. Hulle bid in hulle Khoi-taal tot die lewende God en hulle glo Hy is by hulle. Op verskeie plekke waar ons saam met hulle gesing en die Here se naam groot gemaak het, kon ek werklik ervaar het, God is hier! Hy woon onder die Boesmans en hulle ken Hom, sy teenwoordigheid is ’n werklikheid.