Deur: Ds. Schalk van Wyk
Ons weermag is so mankoliek, maar ons generaals blaas geld op gholfdae om die tyd te verwyl. Die storms slaan woedend om die polisie, met ernstige aantygings teen senior generaals wat styf lepellê met korrupsie en bedrog. Om alles te kroon, word ‘n polisieminister ook betrek by dwarsboming van die gereg en is op verpligte verlof gestuur, maar intussen foeter die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voort sonder brieke.
Maarman, J. (2025, Julie 21). Polisie is van bo tot onder verrot. Netwerk24
Spreuke 29:2, 4, 6-7 (1983 vertaling)
2 ’n Volk juig as regverdige mense die mag kry;
’n volk sug as ’n goddelose mens regeer.
4 ’n Koning wat reg laat geskied, maak ’n land veilig;
een wat net belastings oplê, ruïneer ’n land.
6 ’n Mens se sonde is sy grootste gevaar.
Iemand wat reg doen, kan vrolik sing.
7 ’n Regverdige mens is besorg oor die reg van arm mense,
’n goddelose mens het nie begrip vir dié besorgdheid nie.
Een van die afgeskeepte temas in ons nadenke oor die Christelike lewe, is die wysheid. Die sonde en boosheid in ons wêreld (en in ons eie hart!) is so groot dat ons dikwels die ellende wat dwaasheid meebring, onderskat. Tog is wysheid in die Bybel ʼn groot en belangrike tema.
ʼn Regering wat toelaat dat reg en geregtigheid gekorrupteer word, is uiters dwaas, en sal uiteindelik die wrange vrugte daarvan pluk. Geregtigheid is egter nie net daar om te sorg dat die ou wat jou TV steel, in die tronk beland nie, maar is ook daar om te sorg dat die arm mense nie nodig het om TV’s te steel sodat hulle vir hul kinders kos op die tafel kan sit nie. ʼn regering wat dit nie snap nie, is nie net dwase nie, maar in die praktyk goddeloses.
Dáár, dáár in Spreuke 29:27, dáár staan dit swart op wit in die Bybel: Goddeloos, dit is sonder God, willens en wetens téén God. Die Lied wat ek hieronder aangehaal het, waarsku ons in die vierde strofe om die kwaadword te vermy – dit is kosbare wysheid, maar dit is vrêk moeilik om uit te voer. Maar dan, álle wysheid is moeilik; dwaasheid kom sommer vanself. Laat ons dus die lelike woorde los, en liewer bid – nét so, sê Paulus mos in Filippense 4:6–7, kry ons immers vrede. Dáár staan dit ook swart op wit: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Ek haal hier net die eerste ses strofes aan. (Lees gerus die res van hierdie lied se sestien troosryke strofes in u Liedboek. Dit is die moeite werd!)
Lied 37:1–6
1
Dié wat oneerlikheid begaan,
soos gras sal hulle gou vergaan;
só kwyn wie kwaad aan ander doen,
soos gras, al was dit ook hoe groen.
2
Waarom sal jy jou dan ontstel
en oor hul wangedrag jou kwel?
Doen dit wat goed is soos dit hoort
en woon en werk net rustig voort.
3
Vind diepe vreugde in die Heer;
Hy gee jou wat jou hart begeer.
Laat dan jou lewe aan Hom oor;
vertrou op Hom, Hy sorg daarvoor.
4
Om kwaad te word, moet jy vermy.
Jou onskuld, dit bevestig Hy.
Die mense wat oneerlik is,
word uitgeroei en uitgewis.
5
Die goddelose, dwaas geaard,
hy span sy boog, hy trek sy swaard;
die ondergang word nagestreef
van hulle wat regverdig leef.
6
Die Here sien dit kom, en lag;
die goddelose kry sy dag:
sy swaard word in sy hart gesteek,
sy boog word middeldeur gebreek.
O Here, ons kom pleit om goddelike wysheid
sodat ons reg kan lewe in hierdie
malhuis-wêreld waarin ons woon.
As ons nie deur die geloof gewéét het
dat U die bose oorwin en
die satan uit die hemel gesmyt het nie
dan sou ons onsself aan die moedeloosheid,
hopeloosheid, radeloosheid kon oorgee,
Maar ons doen dit nie, want ons lag,
ons lag soos U lag. Want so leer ons kerk se
wonderbaar troosvolle lied, met die wysheid
wat hy by Psalm 37 gaan leen het,
ons om in die dwase wêreld gelowig, getroos,
hoopvol te sing. En ons sing omdat U lag!
Ons glo immers van harte die belofte wat U in Matt 5:6
gemaak het dat die wat honger en dors na die geregtigheid
versadig sal word. Dít is die plakkertjie op die pakkie boosheid
in die duiwel se winkel.
Die plakkertjie wat sê dat die boosheid-botter goor is
dat sy “sell by date”*
reeds meer as 2000 jaar gelede verstryk het.
En U het dit self daar geplak
Kom, Here Jesus, kom ruim tog die gemors hier op aarde op – óns weet nie hoe nie!
Immers, wat kan die regverdige doen as die fondamente ondermyn word? **
Kom tog gou, Here Jesus, ons kan dit nie meer hou met al die korrupsie,
geweld en die lyding van kindertjies in hierdie wêreld nie. O Here, ons voel so magteloos!
Kom tog gou, Here Jesus, want waarlik – só kan dit nie aangaan nie.
Maar hoor tog in die tyd wyl ons wag op U koms, ons gebed vir die polisie.
Ons weet dat hulle ʼn noodsaaklike rol het om te speel in die wêreld waarin die volheid van u koninkryk nog aan die kom is. Seën die lede wat aan U behoort;
seën hulle met wysheid en geregtigheid.
Bewaar hulle teen die wreedheid, wraak en woede
van die wat in goddeloosheid die bose dien.
En lei tog in Vadersnaam die polisieleiers en -lede wat U nie ken nie,
na die voet van die Golgotakruis.
Nie net sodat hulleself gered kan word nie,
maar ook sodat die kwesbare mense in ons samelewing
veilig en beskermd kan lewe.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
* (Die Engels wat met die Afrikaans by die sterretjie hierbo vermeng is, is ʼn dankbare knipoog in die rigting van Sheila Cousins, wat wel nie die woorde gebruik het nie, maar ons daarop attent gemaak het dat die Duiwel Engels praat. Haar gedig “Die Duiwel Praat Engels” is onder andere ʼn kosbare waarskuwing teen valsheid in gebede.)
** Die twee sterretjies vestig u aandag daarop dat hierdie woorde ʼn aanhaling is uit Psalm 11:3 (1983 Afrikaanse vertaling)
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.