Om in Leeu-Gamka en Calitzdorp ’n verskil te maak

Uitreikers na Namibië deel hul ervaringe
’n Gebed vir die polisie

Deur: Ds. Marius Schoombie

“Hulle wag al vanoggend vanaf 08:00, hier by die hek vir julle,” hoor die Leeu-Gamka-span toe hulle om 14:30 in die dorp arriveer.

“Verlede week het daar ’n bus hier verbygekom en by oom Klaus se padstal gestop,” vertel ’n ma terwyl die Calitzdorp-span deur Bergsig se strate stap. “Die kinders het gedink die Jêmmers het gekom! Toe ons weer sien hardloop daar ’n klomp kinders, net om te besef dit is nie julle nie. Hulle is al vir maande opgewonde dat julle kom!”

Die uitreikspanne is maar vir ’n kort rukkie in die Karoo. Vyf dae. Jy sou maklik kon vra watter verskil hierdie vyf dae in die lewens van die kinders en mense van die dorpe maak?

Wanneer jy egter sien hoe opgewonde die kinders is om te sien dat Stellenberg weer, soos elke jaar voorheen, terugkom en kies om hulle vakansietyd in húlle dorp deur te bring en spesiaal vir húlle kom kuier, besef jy dat daardie paar dae werklik ’n verskil maak. Wanneer jy hoor hoe mense al vir maande lank opgewonde is oor ons koms en hoe hulle nog daaroor gesels lank na ons weg is, begin jy verstaan dat die impak van Stellenberg se besoek lank voor ons aankoms begin en strek tot lank nadat ons vertrek het.

Elke jaar het ’n tema. Vanjaar het ons op die storie van Josef gefokus, met die tema: Droom! Wat ’n kosbare geleentheid was dit nie om ons drome en talente met mekaar te deel nie. Nog meer om te besef dat, hoewel ons elkeen drome het, dat God ’n droom het om herstel te bring in die wêreld en dat ons almal hierdeur saamgebind word en uitgenooi word om deel te neem in God se droom.

Op die laaste dag gee ons vir elke kind ’n gevlegte armbandjie met drie toutjies om te herinner aan die storie van Josef en God se droom vir ons lewens.

Terwyl die armbandjies uitgedeel word, vra ’n tienermeisie: “Het julle nie weer van hierdie armbandjies gebring nie.” Sy wys na haar arm, waar ’n dun, blou toutjie om haar arm vasgebind is, met krale wat die woord H-O-O-P uitspel. Dis een van die bandjies wat ons verlede jaar uitgedeel het. Sy dra nog die hoop van verlede jaar, elke dag om haar arm.

Mag hierdie jaar se droom, ook nog lank voortleef!

Ons droom om saam met God, die goeie voort te bring in die gemeenskappe van Stellenberg, Leeu-Gamka, Calitzdorp en oor grense heen.