Deur: Ds. René Potgieter
Ons hande is vir ons elkeen baie waardevol en kosbaar. Ons gebruik ons hande daagliks en sonder om daaraan te dink, doen ons so baie met ons hande. Sonder hande sal ’n mens moeilik deur die lewe gaan. Stel jou voor – hoe sal jy sonder hande klaarkom? Dink ook daaroor na dat ’n mens jou hande reg of verkeerd, positief of negatief, kan gebruik.
Die Bybel verwys op verskillende plekke na hande.
Hoe lyk jou hande? Wat vertel jou hande van jou lewe? ’n Baie mooi beeld rakende hande is dat ons simbolies die hande van Jesus hier op aarde is.
In die Bybel lees ons van Jesus se lewe toe Hy tussen die mense hier op aarde geleef het. Ons lees van sy liefde vir mense en hoe Hy siekes genees en blindes laat sien het. Hy het groot skares gevoed. Hy het ʼn passie gehad vir die armes en diegene in tronke. Hy het selfs mense uit die dood opgewek. Jesus is nie, soos 2 000 jaar gelede, meer fisies by ons nie. Daarom skryf Paulus dat ons (sy gemeente) nou die liggaam van Christus is: 1 Korintiërs 12:27: “Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ʼn lid daarvan.” God noem almal gesamentlik wat aan Hom behoort, sy liggaam. Ons is lede (of dele) van Sy liggaam.”
In ʼn dorpie op die Franse platteland, was daar gedurende die Tweede Wêreldoorlog, in die binnehof van ’n kerk, ’n pragtige marmerbeeld van Jesus met uitgestrekte hande. Eendag het ʼn bom te naby ontplof en die beeld vernietig. Nadat die geveg verby was, het die inwoners van die dorpie besluit om die stukke van hul geliefde beeld te soek en dit te herbou. Hoewel die oorspronklike kunswerk nie deur ʼn beroemde beeldhouer soos, Michelangelo, geskep is nie, was dit deel van hul lewens en was hulle lief daarvoor. En daarom het hulle die stukke versamel en die beeld herbou. Die merke wat veroorsaak is deur die bom het die beeld selfs nog mooier gemaak. Maar daar was ʼn probleem: Hulle kon nie die hande van die beeld kry nie. Een van hulle het met ’n droewige stem gesê: “Jy kan nie ’n Christus sonder hande hê nie, want dit is geen Christus nie. Ons weet Jesus het merke aan sy hande gehad, maar Hy kan tog nie sonder hande wees nie. Ons benodig ʼn nuwe beeld.” Toe kom iemand met ʼn voorstel vorendag waarmee almal saamgestem het – ʼn koperplaatjie is op die voetstuk van die beeld aangebring met woorde wat lui: “EK HET GEEN HANDE NIE, NET JOU HANDE”
Jare later het iemand daardie beeld en inskripsie gesien en die volgende vers geskryf:
“I have no hands but your hands to do my work today.
I have no feet but your feet to lead men on the way.
I have no tongue but your tongue to tell men how I died.
I have no help but your help to bring men to God’s side.”
Augustusmaand is in ons gemeente die maand van barmhartighied en ons wil hierdie maand daarop fokus om juis simbolies ‘oop hande’ te hê. Voor in die liturgiese area van die kerk is ook ’n beeld met oop hande, wat ons daaraan herinner dat ons oop gewillige hande moet hê om ander te kan help. Hoe kan ek my oop hande aanwend in die maand van barmhartigheid?
Bydraes kan weeksdae tussen 08:00 en 14:00 by die kerkkantoor afgegee word, of Sondae in die voorportaal van die kerk geplaas word.
Mag Augustusmaand ons hande, harte en oë opnuut oopmaak vir mense se fisiese en ook geestelike nood hier in ons midde, maar ook oor grense heen.