Ontmoet vir Phil Niehaus – nuwe kerkraadslid

Augustus is barmhartigheidsmaand | Seën met ’n oop hand
Oorloë en gerugte van oorloë

Phil vertel dat hy in 1999 as lidmaat by Stellenberg-gemeente aangesluit het. “Ek het destyds nog in Louis van Loggerenberg se gemeentekoor gesing, later jare by die Coram Deo-sanggroep betrokke geraak en ook oor die jare heen as kleingroepleier by die kategesebediening uitgehelp.

Phil is ’n boorling van Citrusdal. Nadat hy in Citrusdal gemarikuleer het het hy ’n draai op Stellenbosch gemaak waar hy ’n BCom-graad aan die universiteit behaal het.

Hy is die afgelope 24 jaar met Sanet getroud en hulle is met drie dogters geseën, waarvan al drie in die gemeente grootgeword het.  Carla, hulle oudste dogter, werk in die regte, terwyl Lizaan en Sophia albei aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. “Ek en Sanet mis ons dogters baie, maar ek moet ook erken dat ons die sogenaamde leë-nes-jare terdeë geniet.  Ons het nou weer tyd vir onsself en vir mekaar,” sê Phil.

Phil vertel dat hy na sy universiteitsopleiding op verskeie plekke gewerk het, maar hy het die laaste 30 jaar in Ackermans se sellulêre afdeling gewerk.  “Daar moes ek uittree,” sê Phil, “maar ek het gevoel ek het nog hopeloos te veel energie om af te tree en het toe by SMD Technologies betrokke geraak waar ek na kliëntebelange omsien.”

Phil het altesaam 18 Comrades- en Twee Oseane-wedlope op sy kerfstok.  Hy is ’n toegewyde drawwer en ruim ook af en toe tyd vir ’n rondte gholf in.  Die Niehaus-gesin se mantra is: ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.  Die hele gesin is dus baie lief vir oefening en enige buitelugaktiwiteite. ’n Lekker gesellige kuier saam met vriende is ook altyd hoog op die prioriteitslys.

Oor wat hom opgewonde maak oor Stellenberg-gemeente, antwoord Phil: “Die diversiteit van die gemeentebediening is iets waaroor ek opgewonde is.  Behalwe vir die gereelde geloofsbediening op Sondae, is die gemeentebyeenkomste iets wat altyd vir my ’n riem onder die hart is – dit is altyd vir my so mooi om te sien hoe die verskillende generasies nog bymekaar kan kom, saam tyd verwyl en met mekaar gesels.