Deur: Ds. Schalk van Wyk
Ek was nou onlangs in ʼn eeue oue huis op Wellington met ʼn voordeur wat uit die vroeë jare in die Kaap kom. Opvallend van die voordeur was dat sy deurknop baie laag sit. So ongeveer tussen my knie en my enkel, in lyn met die middel van my maermerrie.
“Hoekom sou hulle die knop so laag gemaak het?” het ek vir die eienaar gevra.
Haar antwoord was vir my ʼn openbaring. Die lae knop, so het sy verduidelik, het die slaaf gedwing om diep voor jou te buig as hy (of sy) die deur vir jou oopmaak. Ek was sprakeloos. Hoe klein moet ʼn mens nie binnekant wees om daaruit vreugde te put as iemand voor jou buig nie. Gelukkig is slawerny – soos daardie – nou wêreldwyd iets van die verlede. Nêrens in die wêreld is slawerny meer wettig nie, maar na raming leef sowat 50 miljoen mense op ’n gegewe dag in “moderne slawerny”. Moderne slawerny verwys na situasies waar mense weens dreigemente, dwang, misleiding of magsmisbruik nie kan ontsnap uit uitbuitende werk of verhoudings waarin hulle mishandel word nie.
Jaarliks, op 23 Augustus, word die Internasionale Dag ter Herinnering aan die Slawehandel en die Afskaffing Daarvan herdenk. Dié datum is nie uit die lug gegryp nie – Dit is die dag in 1791 toe die slawe in Saint-Domingue (vandag Haïti/Dominikaanse Republiek) in opstand teen hulle besitters gekom het. Dit het tot hulle bevryding gelei, maar eers 42 jaar later is die slawe in Suid-Afrika bevry. Ons was toe nog deel van die Britse Ryk en hulle parlement het in 1833 eers besluit om slawe vry te stel – ’n volle 1 800 jaar na Christus oor Jesaja 61 in die sinagoge in Nasaret gepreek het. Die ergste is dat dit deur die jare heen so moeilik was om Christene te oortuig dat slawerny verkeerd is!
As jy nog nie Eric Metaxas se boek Amazing Grace gelees het nie, doen jouself ʼn guns, en lees dit. In die boek vertel Metaxas die storie van die Britse parlementslid, William Wilberforce, se opdraande stryd om slawerny afgeskaf te kry.
Wilberforce was ʼn toegewyde Christen, en sy geestelike mentor – ʼn Anglikaanse priester met die naam, John Newton – het ʼn deurslaggewende rol gespeel in sy denke se vorming. Dit is dieselfde Newton wat aan ons een van die mooiste geloofsliedere Amazing Grace geskenk het.
Newton is op ʼn besondere manier deur die Here voorberei vir hierdie taak. Hy was lank die kaptein van ʼn skip wat mense in Afrika kom vang en aan plantasie-eienaars in die Amerikas verkoop het. Hierdie slawe is erger as diere behandel, en baie van hulle het ʼn ellendige dood in die ruim van die skip op pad na Amerika, gesterf. Tydens ʼn storm op see het Newton ʼn dramatiese bekeringservaring gehad. Ná sy bekering het hy egter steeds voortgegaan om slawe te vang en in haglike omstandighede na Amerika te vervoer – maar, die Heilige Gees was steeds met hom besig en hy het al hoe meer soos ʼn skurk (“wretch”) begin voel. Dit het sy hart met vrees voor God vervul, en, toe God se genade weereens tot hom deurdring, het sy hart van vreugde oorgeloop. Gevolglik het hy die slawehandel gelos en ʼn priester geword. Só het hy uiteindelik as geestelike gids en aanmoediger van Wilberforce ʼn onmisbare rol gespeel in die proses waardeur slawerny in die Britse Ryk (en dus ook hier by ons) onwettig verklaar, en die slawe bevry is.
“Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.”
Matt. 7:12 (2020-vertaling)
Die Bybel het nie ʼn teksie vir elke ding nie. Daar staan nêrens “slawerny is verbode nie”. Maar die Heilige Gees wil hê dat ons oor woorde soos die hierbo wat uit Matt. 7 aangehaal is, sal nadink. Wil ek hê dat my werkgewer my as ʼn kosbare mens beskou en nie elke druppel energie uit my tap ter wille van sy of haar wins of gemak nie? Dan moet ek as werkgewer egter ook só teenoor my werkers optree. En ek moet protesteer wanneer werkers uitgebuit, of mense van hulle vryheid beroof word.
Amazing grace (how sweet the sound)
that saved a wretch like me!
I once was lost, but now am found,
was blind, but now I see.
[Die volle lied en meer inligting oor Newton is hier beskikbaar – Lees gerus die Afrikaanse weergawe hiervan in ons eie Liedboek, Lied 510]
Barmhartige God, genadige Vader wat terugkerende onrein kinders met ope arms ontvang;
Vader wat my, vermorser van genade, met onverdiende nuwe, oorvloediger genade deurdrenk;
Skepper God, ontvang ons dank; ons lof; ons liedere; ons gebede!
En Here Jesus, vergeef voortdurend; vergeef immer meer en meer – want ons sondig weer en weer!
Ons wat genadiglik vergifnis ontvang het – óns staar so dikwels onbewoë, onaktief na die onvryheid van mense om ons heen. Here Jesus, ons dink dikwels nie aan wat ons kan doen om die lewe vir ander leefbaar te maak nie – terwyl onsself van harte begeer dat ander vir ons die lewe leefbaar moet maak. Ons doen nie aan ander soos wat ons wil hê hulle aan ons moet doen nie. Ons eis die reg op om raakgesien te word, maar is blind vir die nood wat U raaksien in die mense om ons. Ons moet u beeld vertoon, maar bely dat ons dit meesal verloën. Ons staan skuldig, Heer – en U vergeef weer en weer, elke keer. Ontvang ons dank, maar in Vadersnaam, verander ons ook, Heer!
O, Heilige Gees, kom maak met ons soos met Wilberforce. Maak ons u medewerkers wat die nood van ander kan sien, en – al is dit stroomop – hulle vrede, vryheid, lewe kan dien.
Drie-Enige, want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.