Seisoen van skepping: Vrede met die skepping

Bevryding uit slawerny
Meer oor Stellenberg Omgeetrust

Deur: Ds. Marius Schoombie

Heel aan die begin van die verhaal van die Bybel, sien ons hoe mense in harmonie  met mekaar, met God en met die skepping leef. God se eerste opdrag aan die mens in Genesis 1:28 is “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.” God nooi die mens om te sorg vir die aarde en om saam met Hom die harmonie en orde van die skepping te handhaaf.

’n Klein rukkie later sien ons hoe die mens kies om sy eie weg te volg, eerder as om vir God te vertrou en sy weg te volg. Ons sien hoe hierdie keuse verhoudings verbreek – tussen mekaar, met God en met die skepping. Ons sien hoe die skepping begin ly as gevolg van die keuse van mense. Hierdie storie is ons storie. Ons sien oral rondom ons hoe die skepping ly en hoe daar disharmonie tussen mense en die skepping is.

Maar daar is ook hoop! God is besig om herstel te bring in ons gebroke wêreld en nooi ons om saam met Hom daaraan deel te neem.  In September reis ons saam deur tekste uit Jesaja wat ons help om in vrede met die skepping te leef.

Daar is verskeie maniere en geleenthede in September om aan die seisoen van skepping deel te neem:

  1. Kom kyk en gesels saam oor die film Plastic People, ’n dokumentêr oor mikroplastiek, wat in Septembermaand by verskeie gemeentes oor Suid-Afrika heen vertoon word. Bespreek jou plek HIER. Die vertoning is gratis, maar ons wil graag ’n aanduiding hê hoeveel mense gaan opdaag.
  2. Bring jou elektroniese afval kerk toe. In September gee ons jou geleentheid om op ’n verantwoordelike manier van ou elektroniese toerusting wat in onbruik verval het, ontslae te raak. Bring die e-afval Sondae saam na die eredienste toe, of weeksdae tydens kantoorure.  Vir ’n lysie wat jy kan bring en wat nie, klik gerus op dié SKAKEL.  Kontak gerus die kerkkantoor met enige vrae.
  3. Help ons om indringerspesies in Mountain View-park uit te roei. Dis ’n pragtige park – op ons kerkgebou se voorstoep – met plante en blomme wat beskerming verdien. Die park word egter deur  indringerspesies ingeneem o.a.  port jackson-bome en Paterson’s curse-plantjies, wat ’n bedreiging vir ons inheemse omgewing inhou. Kom help om op ’n praktiese manier vrede in die skepping te herstel in Mountain View-park op 27 September vanaf 08:30 tot 14:00.
  4. Hou Stellenberg-gemeente en Kaapkerk se sosialemediablaaie dop. Die Groenspan van die NG Kerk in die Wes-Kaap, gaan in September ’n inisiatief aanpak wat op sosiale media gekommunikeer sal word. Hou die blaaie dop vir nog maniere om deel te neem aan die seisoen van skepping.

Raak betrokke en maak ’n verskil.  Elkeen se bydrae help om Moeder Aarde in ’n beter toestand aan ons nageslag agter te laat.