Deur: Ds. Schalk van Wyk
Die “Internasionale Vereniging vir Selfmoordvoorkoming” is in 1960 in die beroemde “stad van die walse”, Wene, gestig. Erwin Ringel en Norman Farberow het dit as forum vir navorsers en geestesgesondheidswerkers op die been gebring. Die doel was om selfmoord en verwante gedrag beter te verstaan en te voorkom. Sedertdien het die organisasie gegroei tot ’n wêreldwye netwerk wat in amptelike samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) staan.
Die vereniging se samestelling is divers: dit sluit professionele persone soos psigiaters, sielkundiges en krisisberaders in, maar ook vrywilligers, oorlewendes van selfmoordpogings en families wat deur selfmoord geraak is. Lede kom uit meer as 60 lande. Ons eie Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid is ook deel hiervan. Die vereniging hou elke twee jaar ’n wêreldkongres waar kenners en gemeenskapsleiers saamkom om strategieë te bespreek en navorsing te bevorder.
Een van hul belangrikste inisiatiewe is die jaarlikse World Suicide Prevention Day op 10 September. Dit word saam met die WGO aangebied word om wêreldwye betrokkenheid en aksie aan te moedig.
“. . . my tye is in u hand.”
Red my uit die hand van my vyande,
van hulle wat my agtervolg.”
(Psalm 31:16 – 2020-vertaling).
Psalm 31 is die gebed van ʼn bang en moedelose mens. Daarom herinner hy God aan die diepste waarheid oor ons lewe terwyl hy hulp vra.
In die mond van die Heilige Gees word sy getuienis en gebed voor die aangesig van God, vir ons ʼn les. Die Gees skryf die woorde nie net in die Bybel nie, maar ook op ons hart. Hy wil ons só leer bid; só leer glo; só leer leef; só leer bely: “My tye is in u hand.”
Die Gees wil hê dat ons in hierdie woorde God moet hoor sê: “Jou tye, my kind, is in my hand!” Dit beteken ook: Jy is in my hand. Want ons het nie tyd sonder lewe nie, en ons het nie lewe sonder tyd nie. Ons kan nie gebore word sonder ʼn datum of sterf sonder ʼn datum nie en daarna stoom die lewe voort soos ʼn trein wat op ʼn spoorlyn van datums loop. Lewe en tyd is twee kante van dieselfde munt.
ʼn Mens sal die teks dan só kan verstaan: Ek het my lewe, en dus my tyd om te lewe, nie in my eie hand nie – net God het die reg om te besluit wanneer my tyd verby is. Sekerlik bedoel die teks minstens dit. Hy sê egter oneindig meer, want . . . kyk na die meervoud: tye. Ons beleef immers nie ons lewe tussen geboorte en dood as een lang, onafgebroke tyd nie; ons beleef dit as maande, weke, dae, ure, minute – soms sekondes! Ons sê goed soos: “Die tydjie wat ek en my seun gister saam deurgebring het, was wonderlik!”; “Ek het laasnag van drieuur af wakkergelê; ” Ek kan nie wag vir Vrydag nie, dan vertrek ons Etosha toe!”; “Ek voel van gister af nie lekker nie.” Die Prediker maak in hoofstuk 3 ʼn hele lys van verskillende tipe tye. En hulle almal, só sê ons bidder van Psalm 31, is in God se hand.
In God se hand – ek en my tye is in God se hand.
Het daar al ʼn klein voëltjie in jou huis beland en homself moeg gevlieg in desperate maar mislukte pogings om weer buite in die vrye lug te kom? Het jy hom toe op die vensterbank agter die gordyn gevang en in jou hand toegevou? Het die warm, bewende lyfie en kloppende hartjie jou met deernis en verwondering vervul? Net een van daardie voëltjie se baie tye was in jou hand. Ál my tye is in God se hand. Die tye wanneer my hart bons van bang of huppel van vreugde – hulle is in God se hand. Hy, die Here, Hy ken my goeie en my goor dae; my vervelings, vrese en verrukkings – alles is in sy hand. Hulle kóm nie net uit die Vaderhand soos die Heidelbergse Kategismus op Sondag 10 vir ons leer nie, maar wóón in sy hand! Ek ontvang hulle terwyl ekself in sy hand is. Momente van beklemmende skrik, sekondes van rillende ekstase, is in sy ewige Hand.
En sy hand is nooit ver van sy hart en sy oog nie; en altyd binne hoorafstand van sy oor. Wat in sy hand is, kan Hy goed sien. Hy sien, voel, en wéét; daarom kan Hy hoor; daarom is ons gebed nooit vir Hom ʼn verrassing nie. “. . . julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra”, het Jesus gesê.
Soms egter, word dit vir iemand oor ʼn lang tyd heen, of selfs in ʼn oomblik, so duister dat hy of sy nie net die tye nie, maar die tyd as geheel, uit God se hand wil gryp en in die eie hand wil neem. As dit so donker is dat jy nie meer die vingers wat om jou vou, kan raaksien nie, is die versoeking om ʼn einde aan alles te maak groter as die lewe self. Dan staan jy voor een van die grusaamste vurke in die pad. Jy kan gaan hulp soek, of jy kan jou eie lewe neem. Nou weet jy mos in watter rigting die Here jou wil wys. Onthou: hierdie tyd van desperate doodsheid is maar net een van die baie tye in God se hand. Hy wil ook ander tye vir jou gee. Daarom pleit ek namens God by jou: Soek hulp! God het ons nie gemaak om alleen teen die vertwyfeling te veg nie.
Die van ons wat tans ʼn beter tyd belewe, weet nie altyd van die intense donker in iemand anders se hart nie, al woon die persoon in een huis met ons saam. En selfs al weet ons, kan ons nie altyd daarin slaag om te keer dat iemand radeloos die hand aan eie lewe slaan nie. Maar, dalk moet ons almal meer moeite doen om soos Dawid teenoor die mense om ons te getuig dat ons en hulle tye in die hand van die Here is. Wie weet, so red ons dalk ʼn lewe sonder dat ons self eens daarvan weet.
Alleen en sonder U
sal ek nooit wees nie
en in u hande
sal ek altyd veilig bly.
(ʼn Fragment uit T.T. Cloete se omdigting van die Bybelse Psalm 23 in die Liedboek.)
O God met die groot hande,
O Here met die deernisvolle vingers
Gewer van die tyd en die tye
ons aanbid U!
O Heilige, as u woorde tot ons kom,
word ons oomblikke heilig,
O Ewige, as u woorde tot ons kom
word ons sekondes flardetjies ewigheid.
O Genadige, Barmhartige, Lewendige Een,
U wat kyk met sagte oë en met
deernishande dra, help tog hulle
vir wie die tyd ʼn tronk geword het.
En leer ons om ons tyd so te benut
dat ons hulle wanhoop sal eien
en hulle liefdevol op die
hulpsoek-paadjie sal vergesel.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.