Dr. Serahni Symington werp lig op ouerskapkwessies

Wat beteken rentmeesterskap?
Little Seeds-projek bied boublokke in opvoeding

Ouerskap is nie vir sissies nie, dit weet almal maar alte goed!

Die familiebestuurspan het dr. Serahni Symington, alombekende spelterapeut van Durbanville, genooi om op Vrydagaand 5 September belangstellende ouers oor ’n paar relevante ouerskap-tameletjies toe te spreek.

Verskeie belangrike punte is aangeroer, waaronder.

  • Die fokus is geplaas op die verskillende ontwikkelingsfases van kinders. Ouers is daaraan herinner dat ‘n kind se brein ‘n lang tyd neem om ten volle te ontwikkel en dat ons meestal geneig is om te veel, te gou, van hulle te verwag.
  • Die gevare van sosiale media en oormatige skermtyd is beklemtoon, asook die bedrywige skedules van beide kinders en ouers. Dit ontneem kinders daarvan om  kwaliteittyd saam met hul gesinne deur te bring én beroof hulle van speeltyd – wat so nodig is vir die gesonde emosionele ontwikkeling van kinders.
  • Lewensritmes moet opnuut hersien word en ons moet besluit wat werklik in die lewe van waarde is. Die mees kosbare oomblikke vir ‘n kind kan bloot die saamwees om die etenstafel, die storie voor slaaptyd, of die springmielies op die bank saam met hul gesin op ‘n Vrydagaand wees.

Ons is opgewonde oor die groot belangstelling wat binne en buite Stellenberg-gemeente gewek is om die sessie by te woon.  Die familiebestuurspan beplan om op ‘n kwartaallikse basis sprekers te nooi wat lig kan werp op moeilike kwessies waarmee gesinne elke dag te doen kry.

ִ’n Beroep word op lidmate gedoen om aanbevelings te maak rakende geskikte sprekers en oor onderwerpe waarvan hulle graag meer te wete sou wou kom.

Stuur gerus voorstelle na Thelmie Potgieter  by  thelmiepotgieter@gmail.com.

 

| Thelmie Potgieter  is lid van die gemeente se familiebestuurspan en self ’n ma van  twee spruite.