Deur: Ds. Schalk van Wyk
(Ek het verder nagedink oor dr. Braam Hanekom se preek op 21 September 2025.)
Braam het Sondag gelowig nagedink oor God en ons verhouding tot sy wêreld. Dit was ʼn goeie preek. ʼn Goeie preek gee egter juis nie vir jou al die antwoorde nie. Ons sien immers almal deur ʼn spieël in ʼn raaisel. Gód sien helder – nét God sien helder. In ʼn goeie preek trek die dominee sy of haar oë op skrefies om God beter te kan sien, en help die res van ons só om iets wat ons kon miskyk het, na op te let. Ná so ʼn preek sien ons self bietjie helderder, maar daarmee is dit nie uit en gedaan nie, want as die dominee goed in die Bybel gelees het, maak die preek iets wat jou nie wil uitlos nie, in jou los. ʼn Goeie preek roep jou dus op tot repliek, omdat dit self ʼn repliek op God se Woord is.
Wat de joos bedoel ek met repliek? Dit is mos nie ʼn alledaagse woord wat mense gereeld gebruik nie!
Repliek is ʼn soort antwoord – as jy mooi luister sal jy die Engelse woordjie “reply” soos ʼn kraai agter dié bossie hoor kras. Maar repliek is ʼn antwoord wat méér is as ʼn antwoord. Laat ek só verduidelik: ons het mos ʼn Afrikaanse idioom wat sê, stilbly is ook ʼn antwoord. ʼn Antwoord kan dus stilbly, maar repliek kan nie. Toe ek in die kerk my kop op en af gesit en knik het omdat ek van harte met die preek saamgestem het en oor hom bly was, het ek reeds geantwoord. ʼn Antwoord kan ook stilswyend negatief wees. Dit het gebeur, veral in die tyd toe apartheid nog die volksgeloof was, dat ʼn stoere volksgenoot, terwyl ék self gepreek het, die gesig heen en weer gedraai het om te sê, “nee, nee, hu-uh!” – dit was ʼn duidelike antwoord. Tóg was my kopknikkery Sondag en sommiges kopdraaiery destyds nog nie repliek nie. Repliek is ʼn antwoord wat sê “ja, én …” of, “nee, want …” Die repliek-soort-antwoord dink verder, beredeneer verder, voeg by of bestry. Dit is wat ʼn preek moet wees: Die dominee luister so lank na die teks totdat hy of sy die stem van God in die teks hoor, en dink dan verder; sê méér as wat in die teks staan; sê by wyse van spreke, “ja, én . . .” vir die teks – lewer, met ander woorde, repliek op die teks. En as dit goed is, lewer die gemeente daarna repliek op die preek – al lewer hulle dit nie direk teenoor die dominee nie.
Terwyl ek geluister het na Sondag se preek, het ʼn “ja, én …” in my brein begin vorm aanneem omdat ʼn gedig van Sheila Cussons in my gedagtes liefderyk langs die preek gaan lê het. Dié gedig is Brood op my Balkon:
Ek het brood gebreek op my balkon
in brokke gerieflik vir ‘n duif,
en wag op ‘n afstand binne. Nie lank nie:
instink kom klapperend op die reling sit,
Links, regs bespied sy; op, af oorweeg sy,
fladder dan neer en ruk-pik gretig –
Net, ek moet nou daar verby, en wéét alreeds:
en daar skiet sy weg –
Ag, vertrou my tog: ek is bloot ‘n onskuldige mens,
óf erfskuld se invalide — Wie kan dit nog betwyfel:
ons het ‘n skaduwee
ook oor hulle, oor die ganse skepping gebring,
Daarom breek ek brood, breek ek in dié brood
u liggaam, Heer, vermenigvuldig my hande U,
my hart, my wil; poog ek om alles weer heel te maak
Haar balkon, só dig Cussons, het ʼn nagmaalstafel geword waarop sy Christus se gebroke liggaam vir die duif as verteenwoordiger van die ganse skepping, bedien, het. Sy het eers afgeloer hoe die duif die brood oppik. Maar sy moes noodgedwonge beweeg en toe het die duif geskrik en weggevlieg. Toe het ʼn weemoedige begeerte in haar gaan sit dat die duif nie vir haar moes bang wees nie. Die duif, egter, het instink om nie net kos te soek nie, maar ook om te vlieg-vlug as sy ʼn mens sien. Die waarheid, al voel ons onsself so onskuldig, is dat ons deel het aan die hele mensdom se sondige geaardheid (erfsonde) – en die nie-menslike skepping wéét dit instinktief. Hierdie erfsonde is nie ʼn siekte wat kom en dan gaan nie; dit is een wat ons tot invalides maak. Die woord, invalide, kan swak en kragteloos, maar ook ongeldig beteken. Nét die gebroke liggaam van Christus maak ons heel, maak ons weer geldig as bewakers van God se skepping, heelmakers van die wêreld.
Cussons se balkonnagmaal is egter ʼn diepe insig dat Christus nie net vir ons, die mense, gesterf het nie, maar vir die wêreld as geheel. Immers, “. . . só lief het die God die wêreld gehad dat Hy sy enigste seun gegee het . . .” Daarom word die brood wat sy vir die duif breek, ʼn nagmaal.
Só, deur te vertel van die gedig wat in my gemaal het terwyl ek na Braam luister, het ek nou repliek gelewer op die preek; verder gedink oor wat ek gehoor het; my stuiwer in die armbeurs gegooi. Nóú, liewe leser, is dit jou beurt om repliek te lewer; om hopelik te sê “ja!” maar om daarna die allerbelangrikste “. . . én . . .” by te voeg. Ek het byvoorbeeld ʼn aanvoeling van wat dit beteken om vir skepping nagmaal te bedien, tog ek kan dit nog nie in woorde omsit nie. Dít is nou jou repliek. Dínk daaroor, bíd daaroor: hoe kan ek die skepping die brood laat eet en die wyn van Christus se offer laat drink? Hoe kan ék wat daagliks aan die voet van die kruis lewe, die natuur ook help om dit doen? Waar maak ék heel omdat Christus vir ons gebreek is? Hoe skink ék die wyn van sy bloed vir die lug, die diere, die plante, die bome, die blomme, die katte en die honde? Hoe moet ek maak dat goggas, geitjies en die Groot 5 almal beleef – al kan hulle dit nie verstaan nie – dat Jesus ook vir húlle gesterf het? “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste seun gegee het . . .”
O, goeie God wat elke nuwe
skeppingsdaad met “goed” begroet het,
Hoe groot is u genade nie vir die uwe
nie, wat ook die boosheid in sy hart het!
Ook my skadu val op die skepping om my
wat U deur die kruisgenade
van verganklikheid wil kom bevry.
Verydelend is soms ons dade.
Die duif, draer van hoop
vir Noag in sy ark-boot;
Simbool van die Heilige Gees
by Jesus se Jordaan-doop –
die duif vlug as ons nader loop
want sy het geleer van bang-wees ook.
Ons, u medewerkers wil graag
weer heelmaak maar weet
nie hoe om dit te laat slaag
nie dat die wêreld ook u brood kan eet.
Laat u Gees soos ʼn duif op ons daal
skenk ons ʼn helderder taal
dat ons kan weet hoe eet die
wêreld ook u nagmaal.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
* Cussons, Sheila. Versamelde gedigte. Tafelberg, Kaapstad, 2006
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.