’n Klein groepie maak ’n groot verskil in Mountain Viewpark

Sonskyn, diere en Stellenbergers: ’n Dag vol avontuur by Giraffe House
Die Halftydmannegroep vier die Seisoen van Skepping op ’n voetslaanpad

As deel van hierdie jaar se Seisoen van Skepping, is die gemeente uitgenooi om op ons voorstoep ’n verskil te maak, deur indringerspesies in Mountain Viewpark, spesifiek die goudwilgers (Acacia saligna) wat in Mountain Viewpark groei, te verwyder.

Goudwilgers is ’n probleem in Suid-Afrika omdat dit ‘n indringerspesie is wat inheemse plante verplaas, groot hoeveelhede water verbruik, erger en meer gereelde brande aanwakker, grondchemie verander en waterlope versper.

Op Saterdag 27 September het ’n klein groepie van vyf Stellenbergers bymekaargekom en toe hulle sien hoeveel van hierdie bome daar in die park groei, gewonder of hulle enigsins ’n verskil sou kon maak. Hulle was egter gretig om in te spring! Na drie ure se harde werk, het hulle een area heeltemal skoongemaak en ’n totaal van 140 bome verwyder. Die verwagting is dat hierdie poging die inheemse plante wat in die park groei, geleentheid sal bied om te floreer en die omgewing meer aantreklik te maak vir almal wat die park besoek. Dit was lekker vir die span om te hoor hoe die mense wat die oggend verbygeloop het, opgewonde en dankbaar is oor die werk wat gedoen word.

Hoewel ’n groot aantal bome verwyder is, is daar nog areas wat aandag vereis en die span is geesdriftig om binnekort weer in te spring en nog mense te nooi om voortaan, steeds in die gees van die Seisoen van Skepping, die inheemse plantegroei hier op Stellenberg-gemeente se drumpel, te beskerm en te bewaar.