Sonskyn, diere en Stellenbergers: ’n Dag vol avontuur by Giraffe House

Nagmaal vir ’n duif
’n Klein groepie maak ’n groot verskil in Mountain Viewpark

 

Deur: Brenda Visser

In die week voor die Annibrand Junior-uitstappie na Giraffe House, het ds. Marius Breytenbach tydens ’n huisbesoek, eerstehands beleef hoe groot die opgewondenheid onder die kinders was. En toe breek Sondag boonop aan met helder sonskyn en blou lug – die perfekte dag vir ’n piekniek in die natuur. Ongeveer 150 Stellenbergers het met sonhoede en mandjies vol lekkernye by Giraffe House gearriveer. Die kinders kon nie wag nie en het dadelik begin rondhardloop en verken.

Ons het die dag met ’n spesiale Creepy Crawly-vertoning afgeskop, waar almal kennis gemaak het met ’n bont verskeidenheid diertjies – van Harry, die uil tot Dikkes, die padda en selfs ’n slang of twee! Die kinders het sonder vrees in die voorste ry gesit en elke glibberige of slymerige wese dapper aangeraak, terwyl die grootmense dit verkies het om maar liewer ’n veilige afstand te bewaar. Dit was pragtig om te sien hoe groot die belangstelling in die natuur onder ons kinders is en hoe goed hulle reeds ingelig is. Die verrigtinge is afgesluit deur ons eie Lizelle van der Merwe, ’n natuurbewaarder van beroep, wat op ’n treffende manier vertel en gewys het hoe belangrik dit is om God se skepping te bewaar – ’n opdrag wat Hy aan die mens gegee het.

Gesinne kon die kameelperde, sebras, bokkies, vlakvarke, meerkatte, apies en selfs ’n krokodil, van naderby bewonder. Dit was so lekker om te sien hoe al die Stellenbergers rond en bont op komberse sit om die sonskyn te geniet en hoe kinders in die speelpark baljaar. Dit was werklik ’n fees van gemeenskap, natuur en geloof en ’n gepaste manier om die Seisoen van Skepping mee af te sluit. Ons maak beslis weer so!