
Deur: Ds. Schalk van Wyk
Ek verheug my dikwels oor die diepe insig van mede-Christene wat nie opgeleide teoloë is nie. Hulle het nie die tyd om ure en ure met teologiese boeke voor hulle te sit nie. Hulle moet hard werk om brood te kan koop; ander dinge van die gewone lewe eis hulle tyd op. En dan, as jy jou weer kom kry, skryf een van hulle iets wat jou laat regop sit met ʼn kop wat op en af knik en jy hoor jouself sê, presies!
Ek is nie verbaas dat dit gebeur nie, want ek glo in die Heilige Gees, maar ek is bly wanneer dit gebeur en sê dan vir Here dankie. Dit is wat ek nou die dag gedoen het, toe ek die meningsrubriek van David French in die New York Times (NYT) lees. Joernaliste is siniese mense, sê ons dikwels. Maar dat daar ook so iets soos ʼn heilige geloofsinisme is, het ek by my twee gunstelingjoernaliste geleer.
Die NYT het veral twee rubriekskrywers wie se insig en geloof vir my ʼn inspirasie is. Die een is David Brooks, en die ander, David French. Hierdie twee “Dawids” gaan dikwels met goed gemikte woordklippies die Goliat van Godloosheid en valse godsdienstigheid in ons wêreld tegemoet.
David French (na wie se artikel ek vandag verwys) is sedert 2023 ‘n invloedryke konserwatiewe politieke kommentator. Hy is ‘n regsgeleerde wat sy graad by Harvard gekry het – hy verwys meermale na die rol wat die Christenstudente vereniging op kampus in sy vorming gespeel het. Hy was ook ʼn offisier in die Amerikaanse Weermag en is ʼn veteraan van die Irak-oorlog. Hy is dus ʼn gelowige wat nie naïef na die wêreld om hom heen kyk nie. Die onderwerpe waaroor hy skryf, is meesal godsdiensvryheid, die vryheid van spraak en die gevaar van politieke polarisasie. Hy is ʼn broer in Christus op wie ek trots is.
In die koerant van 16 Oktober vanjaar het hy ʼn mening gelug onder die titel: Something Is Stirring in Christian America, and It’s Making Me Nervous.
In hierdie skrywe tob hy ʼn bietjie oor die huidige oplewing van godsdienstige belangstelling in die Amerikaanse kerkwêreld. Sommige Christene in die VSA praat voel-voel van ʼn herlewing wat aan die gebeur is. As dit waar is, moet enigeen wat die Here liefhet, mos dankbaar wees, of hoe? Na jare waarin daar algaande minder en minder mense kerk toe gegaan het, begin erediensbywoning nou weer toeneem – ʼn mens moet daaroor bly wees, nie waar nie? En tog voel hy kriewelrig.
Getalle, redeneer French, sê nie alles nie. Dit is nie die getalle nie, maar die aard en gees van ʼn oplewing wat bepaal of dit ʼn werklike herlewing is. As prominente politici, wat deel van hierdie oplewing is, dit gebruik om God vir hulle politieke party te werf en met Trump-agtige haatspraak die teenstanders te verdoem, dan kan dit nie ʼn herlewing wees nie. Want, só skryf hy, die boodskap wat uit hierdie “herlewing” kom is: Die wêreld is deurmekaar – en dit is júlle skuld! Óns gaan dit regmaak, ons gaan oor julle regeer.
Dít is nie herlewing nie, dít is revolusie.
Met verwysing na meer as een verhaal in die Bybel stel hy dat ware herlewing begin by bekering en bekering volg altyd op ʼn hartgrondige ontdekking en belydenis van jou eie skuld.
Dit is toe ek dit lees dat ek uitroep: Presies! Prys die Heer! Halluja! (Ek dink ek het nog ʼn Amen of twee ook bygevoeg.)
Die nuwe lewe in die Here (ons gemeente is mos nou in die seisoen van vernuwing) begin presies op die plek waar ek ophou soek na splinters in ander mense se oë en by die Here huil oor die balk in my eie oog.
Daar is ʼn verhaal van GK Chesterton, die beroemde Christenskrywer en -denker van Brittanje, wat ʼn kort en kragtige antwoord gestuur het aan die Times. Dié Britse koerant het gevra dat lesers moet briewe instuur waarin hulle ontleed wat fout met die wêreld is. Chesterton se antwoord was: Geagte Redakteur, Ek is!
Ek is die fout met die wêreld. Die fout lê by my; ek is die sondaar! Dáár begin bekering; dáár begin herlewing; dáár is die deur na die feesmaal; dáár is die koninkryk van God.
9 Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10 “Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. 11 Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12 Ek vas twee keer per week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien.’ 13 Die tollenaar het egter op ‘n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ 14 Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”
Lukas 18:9-14 (2020-vertaling)
Lied 389:1 en 2
Is dit, is dít my Koning –
kyk daar, aanskou die Mens!
Is dit, is dít sy kroning –
wie het dit só gewens?
Is dit sy konings-hulde –
dié riet, dié kleed, dié kroon?
Boet Hy só vir my skulde,
word só Gods Seun vertoon!
Ja, ek kos Hom die slae,
die smarte en die hoon.
Vir my hang Hy, verlate
en naak, met doringkroon.
Vir my was daardie wonde,
vir my moes Hy daar staan;
Hy moes vir al my sonde
die bitt’re kruisweg gaan.
O Heer, dit is ek!
Wat fout is in ons kerk, dit is ék
Wat fout is in my buurt, dit is ék
Wat fout is ons land? Dit is ék!
Dit is ek wat onbesorg is oor mense wat verlore gaan.
Dit is ek wat met my balkblinde oog in ander sʼn, my vinger steek
Ek is ʼn selfvoldane tollenaar wat dankie sê dat ek nie ʼn Fariseër is nie.
Here Jesus, u bloed aan die kruis,
U wonde – dit was weens my sonde.
O Heilige Gees, vul my so met nederige
diensbaarheid, en uit vergifnis met borrelende dankbaarheid
dat die kerk, die buurt, die stad,
deur hierdie suurdeeg kan rys tot ʼn goue brood vir ons honger land.
Want aan U behoort die Koninkryk
en die krag
en die heerlikheid
tot in alle ewigheid!
Amen.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.
