Tiendemaandinsameling 2025 | Sout die aarde

Vierde kwartaal-preekreeks | Sout vir die aarde
Herlewing?

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Einde Oktober is begrotingstyd en ook die begin van die tiendemaandinsameling.  Die tiendemaandinsameling is ’n gefokusde insameling om die gemeente se onderskeie bedienings te ondersteun.  Ons gemeente se karakter word in ‘n verskeidenheid dienste weerspieël en binne ‘n makrogemeente bedien ons ‘n diverse groep mense.  Die voortgesette dienslewering is slegs moontlik deur die getroue finansiële ondersteuning van ons lidmate.

Kyk gerus na die grafiese voorstelling in die vorm van ’n boom wat  die verspreiding van bedieningsareas en inkomstebronne in persentasies uiteensit.  Ons inkomste, wat die wortels van bedienings vorm, kom jaarliks vanuit ses bronne: die tiendemaandinsameling, maandelikse dankoffers, kollektes, die feesmark, basaar en verhurings. Hierdie inkomstebronne stel ons in staat om ons gemeente se visie en missie Jesus, ons Verlosser, leef uit te leef.  Dit roep ons ook om oor grense heen uit te reik – nader aan God en nader aan mekaar; om ‘n verskil te maak, en laastens om voortdurend te vernuwe.

Prakties vind dit gestalte in ‘n verskeidenheid van dienste en geleenthede wat ons onder die volgende diensleweringsbedienings kan groepeer:

  • Geestelike Sorg: Die wese van ons gemeente is gesetel in ’n gemeenskap van geestelike sorg en groei, van waaruit ons as gelowiges op vele terreine ons getuienis uitleef – na mekaar en ook oor grense heen.  Geestelike sorg omvat die verskillende eredienste wat in die gemeente aangebied word; die geestelike en pastorale versorging van lidmate in alle lewensfases en verskillende omstandighede; lering; toerusting, gebedsgeleenthede en kleingroepe.   Daaruit spruit twee gespesialiseerde dienste, naamlik ons jeug- en getuienisbediening.
  • Getuienisbediening: ’n Jaarlikse hoogtepunt is ons uitreike tydens die winterskoolvakansies na die Karoo. Die getuienisbediening werk ook nou saam met vennote wat fokus op naastediensprojekte, die verligting van maatskaplike nood en bied ook finansiële ondersteuning aan sendelinge. Daarbenewens skenk ons jaarliks groot bedrae aan bekende diensorganisasies en aksies binne die groter kerkverband.
  • Jeugbediening: Die bediening fokus op die ontwikkeling en groei van peuters, kleuters, tieners, studente en jong werkendes. Kategese, kampe en uitstappies saam met kinders en tieners vorm deel van die bediening.
  • Ondersteuning: Ons personeelgroep, asook die geboue en fasiliteite tot ons beskikking, maak dit vir ons moontlik om al hierdie werksaamhede te ondersteun en die makrogemeente met sy diverse behoeftes, te bestuur. Ons  is ook ingerig om tot diens te wees van die groter gemeenskap waarin ons gesetel is.

In die volgende paar weke sal daar in die eredienste meer inligting verskaf word oor die gemeente se verskillende werksaamhede.

Daar is ‘n verskeidenheid maniere waarop elke persoon die gemeente se bedienings  finansieel kan ondersteun, waarvan ons tiendemaandinsameling een is. Dankbaarheid wek by ons ‘n vrygewigheid en ’n gees van omgee. Oorweeg dus om in hierdie tyd tot dié insameling by te dra. Dit kan gedoen word deur ’n kontantbydrae, elektroniese oorbetalings of SnapScan. Ons wil lidmate ook aanmoedig om dit te oorweeg om bydraes per debietorder te gee en ook  en om bydraes jaarliks te verhoog.

Dankie vir almal se getroue deelwees en meelewing in ons gemeente van waar die Here ons roep om die sout vir die aarde te wees.

| ABSA-tjekrekening 145 058 0011,  takkode 632005 – Gebruik tiendemaand as verwysing.