Vierde kwartaal-preekreeks | Sout vir die aarde

Op pad – my reis na dissipelskap
Tiendemaandinsameling 2025 | Sout die aarde

Deur: Ds. Marius Breytenbach

In Matteus 5:13 lees ons die volgende: “ Julle is die sout vir die aarde.  Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout?”

Tydens die laaste kwartaal van die jaar fokus ons op die gemeente se waarde “om voortdurend te vernuwe”.  Oor watter grens roep die  Here ons in hierdie tyd om oor te steek? Wat moet verander? Tydens die preekreeks: Sout vir die aardegaan ons op hierdie vrae fokus.

Ons word voortdurend deur omstandighede gedruk of selfs gedwing om te verander, en die blote gedagte daaraan maak ons dikwels gespanne. Verder is ons ook gedurig bewus van dinge wat om ons skeefloop en wat verandering noodsaak. In Oktober vier ons die Protestantse Reformasie, wat in 1517 nie net die kerk nie, maar die wêreld waarin ons leef, ingrypend  verander het. Daar is ‘n groot verskil tussen aanpassing en vernuwing. Die Reformasie het nie aanpassings gemaak om die kerk te verbeter nie; dit was eerder ‘n getuienis van hoe die Here gelowiges van binne aanspreek of roep om in baie spesifieke wêreldomstandighede te vernuwe en met betekenis te leef. Hierdie “re-formasie” van ons gedrag en denke spruit uit God se Gees, wat ons deurentyd van binne vernuwe. In die Bybel word die simbool van sout gebruik om hieraan uitdrukking te gee en bring ons by temas wat ons diepliggend raak, soos: dankbaarheid, verbinding, reiniging, insig en verandering.

Ons gaan by die eredienste ’n soutmeultjie aan elke gesin gee wat op die etenstafel kan staan en tydens maaltye gebruik word om ons daaraante  herinner dat  die Heilige Gees ons voortdurend in hierdie uitdagende tye roep, aanraak en omvorm om met betekenis te leef.