
Deur: Ds. Schalk van Wyk
Studente in opvoedkunde, sielkunde en sosiologie kry te make met ʼn woord wat die meeste van ons nooit in ons lewe hoor of gebruik nie. Tog is dit een wat ons kan help om oor ʼn baie belangrike aspek van ons geloofslewe na te dink. Dié woord is mimese.
In gewone taal kan ons dit amper met na-aping vertaal – amper, maar soos die idioom sê, amper is nie stamper nie. As jy iemand na-aap, doen jy dit meesal om met die persoon te spot, die draak te steek; of hom of haar te koggel. Die aap-deel van die woord verklap immers die negatiewe rol wat hierdie gedrag speel. Nabootsing, daarenteen, is ʼn meer positiewe daad. ʼn Kunstenaar sal soms ʼn ander een se styl naboots. Ek het bv. in ʼn stadium ʼn klompie skilderye van Conrad Theys besit (dit was toe ek nog mure gehad het waarteen ek skilderye kon ophang – my ouetehuiswoonstelletjie het nou net plek vir foto’s van die kleinkinders!) Theys se styl was duidelik ʼn nabootsing van dié van Gregoire Boonzaier. Dit het onderstreep hoe ʼn groot kunstenaar Boonzaier was. Dus: waar na-aping bedoel om te spot, is die bedoeling van nabootsing om te vereer. Mimese is egter ʼn derde moontlikheid: ʼn na-doen wat onbedoeld, meesal spontaan, gebeur. Iemand anders se invloed word in jou sigbaar sonder dat jyself dit agterkom. As jy mimese in aksie wil sien, let net by die volgende byeenkoms waar ʼn klompie mense in ʼn geselskap sit, op. As iemand aan die woord is en haar luisteraars ander se aandag boei, kyk dan hoe sy sit, haar arms vou, haar kop kantel en so meer. Bekyk daarna die ander mense in die geselskap. Jy sal opmerk dat meer as een van die mense wat fyn na haar luister, onbewustelik haar liggaamshouding mimeer.
Mimese is een van die vrugbaarste eienskappe van kinders omdat dit hulle opvoeding moontlik maak. In een van die diepsinnige skrywer, Cormac McCarthy, se minder bekende toneelstukke, The Stonemason sê ʼn karakter genaamd, Ben: “We are what our fathers taught us to be when they were not aware that they were teaching us.” Die grootste invloed wat ons vorm, is die gewone, onnadenkende voorbeeld in die alledaagse lewe van ons ouers en onderwysers.
Hierdie onbewustelike, onnadenkende, onopsetlike nabootsing van ander speel nie net ʼn rol in die opvoedbaarheid van kinders, of die lyftaal van volwassenes in ʼn gesprek nie. Dit het ook ʼn groter rol in die vorming van ʼn samelewing as wat ons normaalweg besef. Statistiek toon bv. dat as toonaangewende gesinne in ʼn omgewing net twee kinders het, dan word dit die norm vir die res van daardie omgewing. Die meeste dink nie eens daaroor nie. Hulle aanvaar bloot: Dit is wat mense soos ons doen! Gesinne soos ons, het net twee kinders, kort en klaar. (Ek dank hierdie voorbeeld aan professor Eberstadt se YouTube video: The Age of Depopulation With Nicholas Eberstadt)
My doel is egter geensins om oor ontvolking te praat en om te preek oor hoeveel kinders ons behoort te hê nie; ek gebruik die voorbeeld maar net om aan te dui watter kragtige rol mimese speel. Wanneer ons sout vir die aarde wil wees, moet ons dít bedink, bepeins en biddend as wapen gebruik teen die verval van waardes wat ons oral rondom ons sien. Ons voorbeeld kan ʼn soutpotjie met groter gate wees as wat ons ooit kan besef.
Die apostel Paulus het hierdie waarheid in sy bediening erken: hy het sy lewe ingerig as ‘n navolger van Christus, en só ‘n voorbeeld vir die gemeente geword. Hy skryf:
“Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is karig geklee, word geslaan, swerf dakloos, 12 en swoeg deur met ons eie hande te werk. Word ons beledig, seën ons; word ons vervolg, verdra ons; 13 word ons belaster, antwoord ons beleefd. Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing – tot nou toe.
14 Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys. 15 Want selfs al het julle ‘n menigte opvoeders in Christus, het julle nie baie vaders nie. Deur die evangelie het ek in Christus Jesus julle vader geword. 16 Ek doen dus ‘n ernstige beroep op julle: Volg my voorbeeld! 17 Om hierdie rede het ek Timoteus, my geliefde en getroue kind in die Here, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my lewenswyse in Christus Jesus, soos wat ek oral, in elke gemeente, onderrig gee.”
1 Korinthiërs 4:11-17 (2020-vertaling)
Paulus was intens bewus daarvan dat hy nie net deur sy woorde mense help om die nuwe lewe in Christus te leef nie. Sy voorbeeld was deel van die vernuwing van die wêreld. Daarom het hy nie net terwille van Christus noukeurig op sy lewenswandel gelet nie, maar ook terwille van die medegelowiges.
Lied 489:1 en 3
Waak, Christen, staan in die geloof
dat niemand jou die kroon ontroof!
Wees wys en dapper, sterk en moedig,
– steeds toegewy aan God se werk,
standvastig, onbeweeglik, sterk,
vol ywer, altyd meer oorvloedig –
dan sal jou arbeid in die Heer
tot seën wees, sy Naam ter eer!
Beoefen die godvrugtigheid
en wees jou medemens altyd
tot voorbeeld in jou lewenswandel.
Jy moet uit liefde teenoor God,
in opdrag van die groot gebod,
uit liefde tot die naaste handel.
O God, staan met u Gees ons by
sodat u liefde in ons bly.
O Heilige, helende, immer reinigende God,
neem ons in die hand
soos ʼn vinnigvloeiende propvol soutpot
en skud ons uit oor die wêreld wat wil verrot.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid. Amen.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss. Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by swvanwyk@gmail.com.
