Ons dink na oor 2025 . . .

Ons vier ’n Suid-Afrikaanse Kersfees

Daar was ’n paar geleenthede wat die eerste keer in 2025 aangepak is.  Ons deel graag iets meer oor die halftyd-mannegroep se staptog, die gemeente se eerste uitreik na die Degnosbediening in Namibië en die VatVyf-toer na die Karoo.

Halftyd-mannegroep pak die Outenikwa voetslaanpad aan

In die begin van die jaar het nog ’n mannegroep, vir manne tussen die ouderdom 35 en 55 jaar oud, die lig gesien. Die groep se naam, Halftydgroep, verklap die lede se ouderdom en ons doel is om die volgende helfte van ons onderskeie lewensreise saam af te lê. Ons bespreek tans temas aan die hand van die boek HalfTimeMoving from success to significance. Tien van die groeplede het besluit om hierdie jaar die Outeniekwa-driedag-staptog saam aan te pak. Die wonderlike ervaring in die natuur en die aanpak van so ’n uitdaging resoneer sterk met ons groep se waardes en doelwitte. Ons het saans die dag se stap afgesluit deur na te dink oor dié roetemerker wat ons groepie tans saam in die halftydfase van ons lewens vier.

Een van die stappers deel elkeen hulle persoonlike ervaring van die avontuur:

ERHARDT TEUBES – Omdat daar geen soortgelyke geleentheid in ons normale besige stedelike ritmes is nie, was hierdie Outeniekwa-staptog vir my baie waardevol. Ek was verbaas oor hoeveel ek geleer het by die nege ander manne wat in dieselfde lewensfase en omstandighede as ek is. Dit was ook ’n fantastiese ervaring om so saam met medegelowiges in Christus, in God se onbeskryflik mooi skepping te stap. Die Outeniekwabos met al sy prag is ’n baie goeie toonbeeld van broosheid en gehardheid – soos die lewe ook is.

Uitreik na Namibië – ’n eerste

Deur: Low Bothma

’n Groep van 18 Stellenbergers (oud en jonk) het Namibië van 26 Junie – 8 Julie besoek. Ons bedoeling was om ons te vergewis van die huidige stand van Degnos (Diens en Getuienis Noord-Oostelike Streek) se bediening onder die Boesmans.

Ons het ag habitatte (nedersettings) in die Wildevy-, Luhebu-Noord- en Tsumkwe-gemeentes besoek, waartydens kerkdienste bygewoon is en/of spanlede geestelike boodskappe gebring het.  Tolke het, afhangend van die spreker, die boodskappe in die plaaslike dialek óf in Afrikaans oorgedra.

Vir die een of twee spanlede wat al voorheen in Boesmanland was, was die geestelike groei onder die Boesmans opvallend.  Hul toewyding, eenvoud en opregtheid van geloof het die span diep geraak.

Dit was ook opmerklik dat die Boesmans se geloof ’n lewende werklikheid is en ’n onlosmaaklike deel van hul lewenswandel vorm voorwaar ’n voorbeeld vir baie Christene in die moderne samelewing. Dit is ’n duidelike bewys dat die verinheemsing van die uitdra van die evangelie van Jesus Christus onder die Boesmans, besig is om vrugte af te werp. Aan God al die eer!

 

VatVyf-groep pak ’n sloertoer deur die Karoo aan

Die VatVyf-toer het die skoonheid van die Karoo verken deur ’n draai in Sutherland te maak waar hulle die sterreprag bewonder het,  in Matjiesfontein het hulle op die bekende spook se spoor geloop en in Oudtshoorn die pragtige Kangogrotte besoek. Ds. René Potgieter het die jolige groep vergesel. Ons vertrou dat hulle ’n onvergeetlike ervaring saam sal hê.