
Op die foto agter van links: Anriëtte en Koos de Ridder, Carel en Philna van Wyk, Why en Zandra Duvenhage, Mariette en Braam Hanekom, Marieta en Callie Visagie. Middelste ry: Willem en Hildegarde Malherbe, Gesie en Christo Alheit, Koosie Delport en Bremer Gericke. Voor: Riette en Marius Breytenbach.
Deur: Ds. Callie Visagie
Aan die einde van November was tien oud-kollegas van Stellenberg en hul gades, bevoorreg om saam te kuier. Heerlike stories kon gedeel word van ’n tydperk van bediening in die gemeente wat gestrek het vanaf die aankoms van Bremer (1981) met Carel (1984), Christo en Koosie (1985), Willem (1990), Braam (1993), Callie (1997), Anriëtte (2003), Why (wat mettertyd ingefaseer het) en Marius(2004).
Die groep kon saam wonderlike jare van ’n vrugbare en groeiende bediening in Stellenberg vier. Van onderlinge kollegiale staaltjies, verleenthede en snaakse en amusante insidente was daar hordes – van die kollegas maar ook van kerkraadsvergaderings en lidmate. Ons kon met dankbaarheid saam lag en in herinnering oproep. Oor een ding was ons beslis eenstemmig: dat die Here ons almal die geleentheid gegun het om as geestelike leiers in ’n wonderlike omgewing en lojale en diensbare gemeente te werk!
Ons kon ook nie anders as om te besef dat die jare aangeloop het nie . . . met die ouderdom wat by vele van ons ingekruip het. Oor dié wat nog goed vir hul ouderdom daarna uitsien, kon ons nie anders as om die afleiding te maak dat hulle nie veel spanning in hulle dienstermyne in die gemeente gehad het nie.
Mag die spore wat hierdie groep kollegas oor jare gelaat het, voortleef sodat Stellenberg-gemeente se leuse “Oor grense heen” steeds weerklink.