Welkom aan dr. Kobus de Jager

Dankie Stellenberg – die kamp was onvergeetlik
Week van Inspirasie

Dr. Kobus de Jager is vanaf 1 Januarie 2026 as pastorale hulp by Edelweiss Dienssentrum aangestel. Hy neem die leisels oor by dr. Theo Swart, wat dié rol etlike jare lank vervul het voordat hy einde Desember afgetree het.

Kobus vertel hy het onder andere in Keimoes, Pretoria en op Fauresmith in die Vrystaat grootgeword. Sy pa was ook ’n predikant en in daardie tyd het predikante gereeld verhuis namate hulle van een gemeente na ’n ander beroep is. Hy het in die hartjie van Pretoria, in Sunnyside, begin skoolgaan en sy hoërskooljare op Fauresmith voortgesit. Daarna het hy aan die Universiteit van die Vrystaat en Stellenbosch studeer en sy doktorsgraad in pastorale terapie aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Sy loopbaan het as dienspligkapelaan by die Outshoorn Infanterieskool begin. Daarna was hy nege jaar leraar by die gemeente Elsburg-Suid in Germiston en 22 jaar lank leraar by Montagu-gemeente. Vervolgens was hy betrokke by die seniorbediening van die Durbanville-Bergsig-gemeente en toe in Durbanville-moedergemeente, waar hy onderskeidelik vyf en vier jaar lank werksaam was.

Hy en sy vrou, Christelle, met wie hy al 40 jaar getroud is, woon in Pinehurst. Kobus vertel dat Christelle, ’n kinderterapeut en orrelis, hom deur die jare wonderlik ondersteun het en vir hom ’n onmisbare klankbord tydens sy pastorale bediening was. Hulle twee seuns woon in Stellenbosch en Houtbaai. “Ek en Christelle voel baie bevoorreg dat ons kinders naby ons woon en dat ons maklik met mekaar kontak kan behou,” sê hy.

Kobus lees graag en hou daarvan om take in en om die huis aan te pak. “Sedert ek einde 2025 as voltydse leraar afgetree het, hoop ek om meer tyd te hê vir ’n paar persoonlike projekte wat ek in die mou voer,” vertel hy.

“Ek is opgewonde oor die bediening wat vir my by Edelweiss Dienssentrum voorlê. Vir my lê die hart van die bediening steeds in pastorale werk, en ek geniet dit om saam met gelowiges die Bybel oop te breek. Ek probeer graag om saam met medegelowiges bepaal wat ons in God se Woord moet hoor, met inagneming van die konteks waarin dit aan die eerste ontvangers oorgedra is. Ek voel diep bevoorreg en opgewonde dat ek ná my aftrede steeds pastorale werk kan doen, Bybelstudiegroepe kan lei en eredienste kan aanbied.”

 Hartlik welkom, Kobus.  Ons is opgewonde om jou in Stellenberg-gemeente te verwelkom en wens jou baie vrug op jou arbeid toe. Red.