
Foto van links: Arnold, Org, Christine en George.
Christine Ferreira is ’n plaasmeisie. Sy het in die Fraserburgdistrik op ’n merinoskaapplaas grootgeword. Haar pa het met wol geboer en haar ma was ’n musiekonderwyseres. Christine is die derde van vier dogters en het aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer.
Sy is tans ’n projekbestuurder in die rekenaarafdeling van Old Mutual Investment Group. Christine is getroud met Org en hulle het twee seuns. George (24) is besig met sy klerkskap by ’n ouditeursfirma en Arnold (22) studeer meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.
Christine beskryf haarself as iemand wat byna voortdurend besig is en erken dat sy sukkel om werklik te ontspan. “Van sit en niksdoen is daar eintlik min sprake,” sê sy. Haar belangstellings sluit tuinmaak en naaldwerk in – van hekel en brei tot kwiltwerk en klere maak. Sy geniet dit ook om mense te onthaal. In die winter is aande voor die kaggel, waar sy kan brei of borduur, vir haar besonder lekker, Christine is ’n ywerige leser wat hou van fiksie en goeie tranetrekker-stories. Sy waag ook haar hand aan fotografie en hoop om nog baie meer daarvan te leer.
Haar gunstelingvakansiebestemming is sonder twyfel die Kgalagadi – verkieslik met baie min tot geen selfoonontvangs. “Die beplanning van die vakansie is vir my amper net so lekker soos die vakansie self,” vertel sy.
Christine se betrokkenheid by die gemeente strek reeds terug tot 2004 toe sy by die Vosburg Karookuier betrokke geraak het. Hierdie soort uitreikgeleentheid bied aan ’n plattelandse gemeente die geleentheid om hul basaar by Stellenberg-gemeente aan te bied, met die inkomste ten bate van die betrokke gemeente. Nadat die geleentheid vir Vosburg-gemeente onvolhoubaar geraak het, is ’n verbintenis met Sutherland-gemeente gevorm.
“My betrokkenheid by die Karookuiers het daartoe gelei dat ek by die gemeente se getuienisbediening betrokke geraak het,” sê Christine. “My droom vir die getuienisbediening is dat ons deur vrygewigheid mense se waardigheid help herstel. Vrygewigheid kan nie alle trauma en ellende uitwis nie, maar dit kan hopelik mense help om weer hul waardigheid terug te kry.”
Sy sluit af: “Daar dien ’n wonderlike groep mense saam met my in die getuienisbediening. Ek is dankbaar vir elkeen en vir die bydraes wat hulle lewer. Ek glo dat ons as ’n span ’n verskil in hierdie wêreld kan maak.”