Ontmoet vir Michael Rossouw – ons nuwe klankman

Ontmoet vir Christine Ferreira – ’n nuwe ouderling
Die eerste tree die onbekende in | graad 8-kamp

 Op die foto van links na regs is: Alish, Alarice, Gabriel, Michael junior en  Michael.

Michael Rossouw is in Pretoria gebore en getoë, maar woon reeds die afgelope tien jaar in die Kaap. Hy het in Laerskool Danie Malan en Hoërskool Pretoria-Noord skoolgegaan.

Michael en sy vrou, Alish, is die trotse ouers van drie kinders. Alish onderrig die drie Rossouwtjies, wie se ouderdomme wissel van drie tot elf jaar, tuis. Michael junior is die oudste en Alarice, hul dogtertjie, is die jongste.

“Ja,” sê Michael, “Gabriel (met Engelse uitspraak) is vyf jaar oud en het op die foto ’n fopspeen in sy mond. Hy is op die outismespektrum en die fopspeen help hom om homself te reguleer. Tot en met 2024 was hy glad nie verbaal vaardig nie. In 2024 het die Here egter ’n ongelooflike verandering in hom teweeg gebring, tot so ’n mate dat hy nou wel kan kommunikeer, alhoewel sy kommunikasievaardighede nog nie op die vlak is wat tipies vir sy ouderdom verwag word nie.”

Na skool het Michael inligtingstegnologie studeer en werk hy reeds die afgelope 14 jaar vir ’n maatskappy wat sagteware vir salarisadministrasie ontwikkel. Hy help ook kleiner besighede met hul rekenaarbehoeftes en die instandhouding van rekenaarstelsels.

In die wêreld van klank beskik Michael oor ’n lang en indrukwekkende lys van ervarings. Hy was ook al  betrokke by verskeie gemeentes, onder andere NG kerk Florauna, NG kerk Moreletapark, Hatfield Christian Church North, Pro Deo Church en Empower Church Somerset-Wes. Benewens dit werk hy ook as vryskutklankman by ’n groot verskeidenheid geleenthede en vertonings.

“Klank is my groot belangstelling en stokperdjie,” sê Michael. “Ek moet erken dat ek waarskynlik ’n ongesonde hoeveelheid luidsprekers in my huis het.” Buiten sy liefde vir klank is hy ook passievol oor motorsport en motors met groot, harde enjins – “enigiets wat ’n lekker harde klank het,” skerts hy.

Hartlik welkom, Michael. Mag jy baie seën en vreugde beleef in jou diens by Stellenberg-gemeente.