Die eerste tree die onbekende in | graad 8-kamp

Ontmoet vir Michael Rossouw – ons nuwe klankman
Vakature ontvangsdame

Deur: Ds. Marius Schoombie

Dit is vandag ’n gevestigde tradisie by Stellenberg om die jaar met groot entoesiasme af te skop met die graad 8-kamp. Die kamp is stewig gevestig en die span wat dit aanbied, is goed ingeoefen — sommige spanlede is al vir meer as tien jaar deel van die kamp!

Dit is maklik om die kamp te sien as net nóg ’n gebeurtenis op die kalender wat jaar op jaar herhaal word. Maar vir ongeveer 165 graad 8-leerders was dit vanjaar ’n eerste: die eerste tree na die onbekende wêreld van hoërskool. Vir baie van hierdie graad 8’s wat die kamp vir die eerste keer beleef het, was dit werklik lewensveranderend.

Die kamp is altyd ’n naweek vol pret waartydens leerders op vele terreine uitgedaag word, saam aanbid, nuwe vriende maak en belangrike vaardighede aanleer wat hulle help om die onbekende wêreld van hoërskool gebalanseerd aan te durf. Vir die leiers op die kamp is dit dan ook terselftertyd ’n geleentheid waar waardevolle vaardighede ontwikkel word wat hulle vir die res van hul lewens kan gebruik.

Dit is boonop ’n naweek waar graad 8’s die geleentheid kry om nader aan God te beweeg — of dalk eerder: om te beleef hoe God naby aan hulle leef en elke tree van die pad saam met hulle stap.

Die kamp word in vennootskap met Hoërskool Stellenberg aangebied en is nie slegs vir kinders wat deel is van Stellenberg-gemeente nie. Trouens, die meeste leerders wat die kamp bywoon, is nie deel van ’n gemeente nie, en sommige het nie binne ’n geloofsgemeenskap grootgeword nie. Die graad 8-kamp skep dus ’n unieke geleentheid vir Stellenberg-gemeente om die evangelie binne ons eie gemeenskap te verkondig. Elke jaar beleef jongmense op die kamp vir die eerste keer ’n ontmoeting met die Here.

Ons is diep dankbaar vir hierdie geleentheid om in die lewens van jongmense in ons gemeenskap ’n sterk onderbou te help vestig en te sien hoe die Here hulle lewens aanraak. Ons is ook opreg dankbaar vir elke leier en spanlid wat jaarliks help om die kamp ’n sukses te maak.

Ons hoop om, as die Here wil, nog baie graad 8-kampe in die toekoms aan te bied.

Mag elke graad 8 — of jy saam gekamp het of nie — vanjaar die nabyheid van die Here beleef, en mag julle in Jesus se voetspore volg in die onbekende wêreld van die hoërskoollewe.

Mag die Here julle ryklik seën in 2026.