
Op die foto van links: Neil, Gustav, Adéle en Leandré.
Adéle is ’n boorling van Namibië. Sy is in Oshakati gebore, maar het haar skoolloopbaan in die Oos-Kaap begin. Sy het ’n groot deel van haar laer- en hoërskooljare in KwaZulu-Natal deurgebring en het aan Hoërskool Stellenberg gematrikuleer, waar sy ook haar wonderlike man, Niël, ontmoet het. “Ons vier vanjaar ons 27ste huweliksherdenking,” vertel sy.
“Ek en Niël het twee kinders wat albei in die koshuis in die Paarl is. Leandré is in graad 12 aan Hoër Meisieskool Paarl. Sy is ook betrokke by die junior kategese, speel waterpolo en hokkie en is lief vir mense. Gustav is in graad 8 aan Hoër Jongenskool Paarl. Hy speel krieket, rugby en hokkie, en is baie lief vir stap in die natuur. Ons kinders is albei passievol oor die buitelewe.”
Adéle werk by die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Publieke Leierskap as navorsingskoördineerder. Haar kantoor is op die Bellvillepark-kampus.
Die Burgers is lief vir kampeer en hul gunstelingvakansiebestemming is Stormsriviermond. “Om na wild te kyk en tyd in die buitelewe deur te bring, gee my altyd nuwe energie,” sê Adéle. “Ek glo ook dat ’n mens die Here se stem beter in die natuur hoor.” Wanneer sy kans kry, meestal in vakansies, geniet sy ook ’n goeie boek.
Adéle het in 2014 by die jeugbediening betrokke geraak as ’n afloskleingroepleier by die graad 1-groep. Sy vertel dat sy sedertdien verskeie rolle vervul het, waaronder groepleier, grootgroepaanbieder en voorsitter van die kinderbediening. Sy het nou die voorreg om as voorsitter van die jeugkommissie te dien.
“Ek glo ouers speel ’n groot rol in hul kinders se geestelike groei, en my droom is om ouers meer by die bediening te betrek. Ons het op verskeie plekke hulp nodig – van administratiewe takies tot ondersteuning in kleingroepe met die aanbied van aktiwiteite, asook leiers en aanbieders. As die Here dit op jou hart lê, nooi ek jou graag om deel van die jeugbediening te word. Die enigste vereiste is ’n liefde vir die Here en vir kinders, en jy hoef nie eens elke Sondag beskikbaar te wees nie.
“Kategese moet ’n veilige ruimte wees waar kinders verhoudings kan bou – met hulself, met mekaar en veral met Jesus. Dit sluit vertroue, goeie kommunikasie, empatie, aanvaarding, aanmoediging, kwaliteittyd en samewerking in. My mikpunt is om hierdie verhoudingsbou te versterk en daarmee saam goeie geloofsgewoontes by ons jeug aan te moedig.
“Vir jongmense en kinders wil ek graag sê dat dit nie altyd maklik is om ’n kind van die Here te wees nie, maar jy kan weet dat God ’n goeie plan vir jou lewe het (Jer. 29:11). Hy sien die groter prentjie, ook in dié tye wanneer jy dit self nie kan sien nie. En al voel dit soms asof alles skeefloop, is Hy steeds aan die werk in jou lewe (Rom. 8:28). Onthou om aan te hou praat met Jesus – of jy bly, kwaad, seergemaak, verward of selfs moedeloos voel. Hy luister altyd, op enige plek, en Hy wil jou naby Hom hê.”
Welkom in die span, Adéle. Soos jy dit self gestel het – jy is ’n doener! Ons is baie opgewonde oor jou betrokkenheid by die jeugbediening en die verskil wat jy daar maak.