
Hendri se wortels lê in die Oos-Kaap waar hy in Dordrecht tot en met standerd drie skoolgegaan het. Vanaf standerd vier het hy die koshuislewe in Hangklip, Queenstown trotseer en uiteindelik in die Paarl by Paarl Gimnasium gematrikuleer.
Na skool het hy onderwys studeer en was hy tot 2023 ’n natuur- en skeikunde-onderwyser by Hoërskool Tygerberg en Hoërskool Bellville.
“Ek het die onderwys verlaat om by die familie se makelaarsbesigheid te begin werk. Ons fokus op kommersiële en korttermynversekering en het onlangs ook in die beleggingsektor betrokke geraak,” vertel Hendri.
Hy is getroud met Geraldine en hulle het twee kinders: Francois (9) en Nicola (7). Die Kochs is ’n energieke gesin wat sport en aktiwiteite soos aksienetbal, hokkie, hengel en akrobatiese dans geniet.
Hendri speel graag muurbal om te ontspan en draf help hom weer om sy gedagtes te orden. Tyd saam met sy gesin is vir hom kosbaar en tussen al die bedrywighede deur is dit die saamdoenaktiwiteite waaraan hy die meeste waarde heg. “Wanneer ons ’n kansie kry, is ’n piekniek of wynproe altyd vir ons lekker. Vakansies by die see bring groot vreugde, en as daar ’n kreef geduik kan word, is dit ’n ekstra bonus.”
Oor sy nuwe rol sê Hendri dat die geestelike sorgbediening in die gemeente glad nie onderskat moet word nie. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om die leraars in hul strewe om die Stellenberg-gemeente sinvol te bedien, te ondersteun. In ’n diverse gemeente met gevolglik uiteenlopende behoeftes, is dit ’n uitdaging om lidmate op geestelike gebied te begelei – in lyn met aktuele kwessies en in pas met die kultuur van die gemeenskap – én om dit alles binne die raamwerk van die gemeente se visie te doen.
“Ek is opgewonde oor die gemeente se strewe om voortdurend te vernuwe, en die moeite wat gedoen word om oor alle grense almal wat bedien moet word, in te sluit.”