Die raaisel!

Die Nagmaal
In die vierde kwartaal vier ons ’n fees van dankbaarheid

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Dis ʼn raaisel! Dit laat ons die kopkrap, frons, die onderlip kou. Niemand kan dit haarfyn uitpluis nie, maar die Bybel getuig daaroor en as ons skerp na ons eie paadjie met God kyk, moet ons saam met die Bybel getuig: Dit is nie ons wat gekies het om met God te wandel nie. Dit is God wat gekies het. Ons paadjie met God het in die hart van God begin voor ons nog gebore is, om die waarheid te sê, laaaaank voor ons gebore is. Dit was al daar: jou naam was al daar, jou profielfoto was al daar – dáár in die hart van God vóór die skepping. Voordat God die hemel en die aarde gemaak het, voordat God gesê het “Laat daar lig wees” (Efesiërs 1:4-5), toe al het God aan jou gedink!

Dis ʼn raaisel, maar een met ʼn troosvolle boodskap, al laat dit jou met vrae. As God so lank terug besluit het om jou syne te maak, is daar mos regtig niks wat jou kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie. Hier is ʼn teks om uit die hoof te leer (om ʼn teks te memoriseer is immers goed vir jou brein en die woorde is tot in ewigheid goed vir jou gees):

“Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, 39 nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” (Romeine 8:38-39).

Ons uitverkiesing is iets om oor te juig, bly te wees –  ʼn oneindige troos, met die klem op die “oneindig”. Oneindig beteken mos dat hierdie troos nooit ooit in der ewigheid gaan eindig nie.

God se paadjie met Abraham dwing ons om oor die uitverkiesing na te dink, al sien ons wat dit betref “. . . ʼn geheimnisvolle beeld, soos in ʼn spieël”, (1 Korinthiërs 13:12). Abraham se paadjie met God begin in die hart van God. Hoe kan dit anders? Josua het vir die volk Israel gesê dat Abraham uit ʼn familie van afgodsdienaars kom (Josua 24:2). Hy het dus niks van die God wat hom geroep het, geweet nie – hoe kón hy? Sy ma kon hom nie tot die ware God leer bid het nie. Daar was nie ʼn Sondagskool waar hy van die lewende God kon leer nie. Daar is in afgode niks wat jou kan voorberei op die Lewende God, die Vader van ons Here Jesus Christus, nie. Hierdie God is totaal en al anders as wat enige afgod ooit kan wees. Abraham kon dus nie vir God kies nie. Gód moes hom kies. Hoekom het God dit gedoen? Was Abraham die beste van alle mense?

Terwyl ons in die weke wat kom die paadjie saam met hom en God loop, sal ons sien dat Abraham nie so ʼn uitsonderlik wonderlike mens was nie. Hy was feilbaar, sondig, dikwels ongelowig en ongehoorsaam. Hoekom kies die Here vir Abraham? Die Váder weet! Hoekom het die Here mý gekies? Die Váder weet! Hoekom het die Here jou gekies? Die Váder weet! Ja, die Vader wéét, ons weet nie. Paulus jubel so oor hierdie soort raaisels:

33 O, diepte van die rykdom
en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
en hoe onnaspeurbaar sy weë!
34 Want wie het die gedagte van die Here geken?
Of wie het as sy raadsman opgetree?
35 Of wie het eers gawes aan Hom gegee,
vir wie Hy dit sou moes vergoed?
36 Want uit Hom en deur Hom
en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe!
Amen.
(Romeine 11:33-36)

Ons wandeling met God begin dus in die hart van God. Dit is ʼn ewige besluit, maar dit word met verloop van tyd ʼn werklikheid. Wat in die hart van God is, word ʼn woord van God. En as God spreek gebeur daar iets nuuts op aarde. God het nie net in die ewigheid vir Abraham uitgekies nie, maar hom ook tydens sy lewe geroep. God wil bewustelik met Abraham op die pad gaan, en Abraham moet bewustelik met God op die pad gaan.

Elkeen van ons se ewige uitverkiesing het in die geskiedenis waar geword toe God, by wyse van spreke, sy hand op ons skouer sit en sê, “Kom!” Vir geen twee mense gebeur dit op presies dieselfde manier nie. Vir ons wat in ʼn Christenhuis grootgeword het; Sondagskool toe gegaan het; deur die geloofsgemeenskap gekoester is – vir ons gebeur God se uitnodiging om saam met Hom te loop, in elk geval  anders as vir ʼn Abraham of vir ʼn Bilquis Sheikh.

Bilquis Sheikh en ʼn hele klompie ander Christene in Pakistan se roepingsverhale het my oortuig dat Calvyn se prediking van die uitverkiesing nie maar net was om ons te verwar nie – dit was gebaseer op die Bybel en bevestig deur die werklikheid van gelowiges se verhale. Dit het my ook gedwing om te wonder oor hoe God Abraham geroep het.

Volgens die getuienis van vele Christene in Pakistan het Christus in die afgelope klompie jare aan verskeie Moslems in ʼn droom verskyn. As ʼn Pakistani jou vertel dat hy of sy Christus in ʼn droom gesien en toe gelowige geword het, móét jy die persoon glo. Mense teken dikwels hulle eie doodsvonnis as hulle in ʼn Moslemland uit die moskee oorstap kerk toe. In Pakistan neem jy nie Christus as jou Verlosser aan net omdat jy op ʼn dag niks anders gehad het om te doen nie. Dáár moet die Here meer moeite doen om mense te red, as hier by ons. Daar moet Hy wonderwerke doen. Niemand word immers hier met regtige klippe en bakstene gestenig as hy Christus bely nie! Dit bring my terug by Bilquis Sheikh. Sy is nie gestenig nie, maar kon haar roeping om die Here te volg, om saam met Hom op die pad te gaan, in ʼn wonderbare boek beskryf.

As jy dit nog nie gedoen het nie, lees gerus Bilquis Sheikh se boek I Dared to Call Him Father: The Miraculous Story of a Muslim Woman’s Encounter with God. (By Takealot is hy op die oomblik aansienlik goedkoper as by CUM-Boeke 😉. Hy is ook op Kindle beskikbaar.) Sheikh was uit die Pakistanse adelstand en getroud met ʼn vooraanstaande politikus. In haar boek vertel sy hoe Johannes die Doper in ʼn droom aan haar verskyn het. Hy het na Christus gewys. Sy het in daardie stadium nog nooit van Johannes die Doper gehoor nie. Sy het toe skelmpies vir ʼn sendeling gaan vra wie de joos Johannes die Doper is. Daar het haar paadjie met die Here ʼn werklikheid begin word.

Hoe het God vir Abraham geroep? Ons weet eenvoudig nie. As ek moes wed, sou ek my geld op ʼn droom sit. Of dalk op ʼn engel wat aan Abraham verskyn het. Die Bybel sê nie. Ons weet net dat Abraham oortuig was dat die Here hom geroep het, en dat hy moet gaan; die vreemde in moet gaan; moet gaan sonder om te weet waar hy gaan uitkom.

Die Here is nie onkreatief nie. Hy maak nie met elke mens presies soos met al die ander nie. Hy het ʼn wonderbare, liefdevolle, unieke verhouding met elk van ons. Maar as Hy ʼn verhouding met jou het, beteken dit dat Hy jou gekies het. As jy bewustelik met Hom op pad is, beteken dit dat Hy jou ook geroep het. As jy dit nie het nie, maar dit begeer, is dit reeds deel van sy roepstem.

Hoe dit ook al sy, hou maar jou ore gespits en jou oë oop. Leef met verwondering en afwagting. Die Lewende God wil saam met jou wandel!

 

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar van Kleinmond-gemeente en woon tans in Edelweiss.  Hy moedig lesers aan om met hom per e-pos te gesels by [email protected].