Ontmoet ons feesmarkuitstallers

Meer oor die gemeente se inkomste en besteding
Feesmarkuitstallers wat uitreik oor grense heen

Melt van Heerden met pasteie uit Loxton

Melt is ’n skaapboer van Loxton.  “Die pastei-bakkery het begin toe ons van 2011 tot 2020 ’n groot droogte in die Karoo beleef het.  My vrou, Nicolette, het in daardie tyd ’n kompetisie, Kontreikok, gewen en toe al ons planne om die droogte te hanteer en ons geld ook opgeraak het, het sy daaraan begin dink om pasteie te bak,” sê Melt.

“My suster woon in Eversdal en my broer in die Paarl.  Ons het toe voelers na hulle uitgesteek en gehoor of hulle dink die pasteie sal in die Kaap verkoop.  In daardie tyd moes ons toevallig Kaap toe kom vir ’n troue en bring toe pasteie saam.  Die pasteie het blitsvinnig uitverkoop en so het ons besigheid op ’n nederige wyse begin met pasteie wat ons aanvanklik deur my broer en suster verkoop het.

“Vandag lewer ons een keer elke 14 dae pasteie van Worcester af tot in Pinelands, asook in die Tuinroete van George tot Mosselbaai.  Ons pasteie is ook elke Saterdag en sommige Sondae by die Willowbridge Slow Market te koop.  In die Wes-Kaap verkoop ons dus tans ongeveer twee ton pasteie elke 14 dae.

“Die vleis in die pasteie kom alles van ons plaas af.  Nicolette en nege helpers bak elke dag van die week – die heeldag – net pasteie.  Elke pastei word met die hand gemaak.  Die pasteie is bevrore en reeds met eiergeel bestryk, dus kan jy dit vir net 15 tot 20 minute in jou lugbraaier druk en siedaar, jy het ’n heerlike, tuisgemaakte pastei, propvol heilsame Karoovleis, vir aandete.”

Erika Gorgiew verkoop interessante kase

Erika en haar oorlede man, George, kom oorspronklik van Macedonië, waar hulle melkboere was en die kuns om kaas te maak, geleer het.  Hulle het hulle 23 jaar gelede in Suid-Afrika geevstig en voltyds kaas gemaak, wat hulle op markte verkoop het.

“Suid-Afrikaners is vleiseters,” sê Erika.  “Ons moes dus die mense leer om kaas ook te geniet en te waardeer.  Dit is hoekom ons altyd verkies het om op markte te verkoop, want op ’n mark kan ’n mens met klante kommunikeer en die produk aan hulle verduidelik en bemark.  Van ons kase is drie jaar verouder.  Al die kase word in Johannesburg in ons fabriek gemaak met melk wat ons van die Universiteit van Pretoria se melkplaas ontvang. Ons kaas het geen preserveermiddels in nie – alles is natuurlik”

Erika vertel dat haar man, sielsgenoot en besigheidsvennoot, in Junie vanjaar skielik van haar weggeneem is.  Die lewe sonder hom is nog vir haar ’n groot uitdaging en sy het aanvanklik nie gedink sy sien kans om die feesmark aan te pak nie.  Sy is egter nou baie dankbaar dat sy vasgebyt het en die mark bywoon, omdat die daaglikse interaksie met mense vir haar goed is.

Maak gerus ’n draai by dié interesante vrou wat die eksotiese kase verkoop.

 

Hands of Hope

Die Hands op Hope-projek is ’n uitvloeisel van Prison Ministries wat in Westlake se gemeenskapsentrum, net agter die Pollsmoor gevangenis bedryf word.

Tanya, die projekorganiseerder, vertel dat Hands of Hope ten doel het om vrouens wat voorheen in die gevangenis was, nuwe vaardighede aan te leer en hulle dan ook die geleentheid bied om ’n vaste inkomste te verdien. “Ons leer hulle hoe om die verskillende koelsakke vir wynplase, besighede en natuurlik Kersmarkte te maak en in die proses verdien hulle ’n maandelikse salaris en bekom ook nuwe vaardighede. Die projek het vyf voltdyse werkers, maar aan die einde van die jaar wanneer dit baie besig raak met al die Kersmarkte, maak ons van tydelike personeel, wat voorheen by ons gewerk het, se hulp gebruik.”

Hands of Hope is al oor die jare heen ’n gewilde en bekende uitstaller by die gemeente se jaarlikse feesmark.  Gaan kyk gerus in die tent aangrensend aan Mountain Viewrylaan na dié nuttige gebruiksartikels wat ’n uitstekende Kersgeskenk vir mans en vrouens is.